DIE GESAG VAN DIE KERK

The voice of conscience is so delicate that it is easy to stifle it; but it is also so clear that it is impossible to mistake it. -Madame De Stael  (1766-1817)

Die gesag van die kerk

Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly (Matteus 18:18)

Hierdie gedeelte begin met Jesus se riglyne aan die dissipels oor hoe jy moet optree teen ‘n broer wat teenoor jou verkeerd opgetree het. Die laaste riglyn, as die ander nie slaag nie, is om dit vir die gemeente te sê. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en tollenaar behandel. Onmiddellik daarna volg die vers hierbo.

 

Vandag het respek vir die gesag van die kerk feitlik verdwyn. Baie Christene glo dat hulle “private lewens” niks met die kerk te doen het nie. Uitbanning uit die gemeente word nie as ‘n groot probleem gesien nie – jy sluit maar net by ‘n ander gemeente aan en niemand vra vrae nie.

Hoe verklaar ons hierdie treurige werklikheid?

  • Die fragmentasie van die kerk maak dit baie maklik om van die een denominasie na die ander te beweeg.
  • Baie kerkleiers se top prioriteit is getallegroei. Hulle vra nie vrae van die mense wat in die banke sit nie – dalk leer hulle iets wat iemand se lidmaatskap in gevaar stel.
  • Individualisme en die manier waarop die kultuur waarin ons leef ons private en persoonlike lewens verdeel, maak dit baie moeilik om die gesag van die kerk te eer.

Tog is ons “private sondes” die kerk se besigheid. Die kerk se oordeel, as dit aan die voorwaardes aan die Skrif voldoen, het goddelike gesag. Ons sien dit in Matteus 18:18 – 19 waar Jesus primêr aan sy dissipels, maar afgelei aan die kerk, die sleutels van die koninkryk gee. Hierdie sleutels van die koninkryk van God is eerstens aan Petrus gegee (Matteus 16:18 – 19). Matthew Henry stel dit so: “If the censures of the church duly follow the institution of Christ, his judgments will follow the censures of the church, for Christ will not allow his own ordinances to be trampled on.”

Besluite oor kerkdissipline dra slegs gewig as hulle met God se woord ooreenstem. Die sleutels behoort eerstens aan die dissipels – hulle skrywes is bepalend, want dit is deur God geïnspireer. Die vloek wat daar op die godlose priesters en profete wat hulle mag misbruik en God se woord ontken het,rus (Jeremia 23:9 – 15), waarsku die kerk om besluite wat ooreenstem met die voorskrifte in die Skrif te neem. Augustinus sê dat die kerk mense met reg en geregtigheid moet bind anders is dit van geen waarde nie.

Die veiligste is om sulke besluite korporatief te neem. Sonder oorwoë leiding val ‘n volk; die redding lê in baie raadgewers (Spreuke 11:14). Jesus sê: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matteus 18:19 – 20).

 

Dit is tyd dat ons weer die gesag van die kerk erken.