Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34)

Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34) – Francois Malan

1:19 Die afvaardiging bestaan uit priesters en Leviete (die enigste plek in dié Evangelie waar hulle saam genoem word), wat wys na ‘n opdrag van die Joodse Raad van 71 lede (die Sanhedrin). Johannes die Doper uit die priesterlike geslag (Lk 1:5) is bestem om self priester te word, maar tree  heeltemal afwykend op. Die Leviete was sangers en tempelwagte, lg. het skynbaar saam gekom om Johannes gevange te neem as dit nodig sou blyk. Die ondersoek volg op Johannes se optrede en die spekulasies oor hom.

 

‘Die Jode’ kom  in Johannes 71 maal voor as verwysing (i) na die Joodse volk (etnies en histories as die nageslag van Juda, (bv. 3:1,25; 4:9) wat die aansprake van Jesus verwerp (6:41; 7:11; 8:22), (ii) na die Joodse leiers, veral die Fariseërs, wat Jesus teenstaan (10:24,31; 18:14,31,36,38). ‘Die Jode’ verwys hier blykbaar na die Joodse Raad, soos in 18:12 waar ‘diensknegte van die Jode’ saam met die soldate Jesus arresteer.

            Hulle vra: ‘wie is jy?’ – sy naam, herkoms en werkkring is bekend,  maar hulle vra rekenskap oor sy optrede, waar kry hy die reg en gesag om ‘n beroering onder die volk te bring, om selfs Jode te doop asof hulle heidene is? Die Joodse Raad  het die gesag oor godsdienstige sake van die Jode.

 

 

            Die verwagting van ‘n profeet soos Moses, wat alles sal sê wat die Here hom beveel, gaan terug na die belofte in Deutr. 18:15,18. Die verwagting was dat hy wonders sal doen en die volk verlos. Johannes ontken dat hy die heilsprofeet is.

 

‘maak die pad vir die Here reguit,’ roep hulle op, om hulle harte vir die Here oop te maak (vgl. Jer. 32:39; Eseg. 36:26-27), sy woord te gehoorsaam, en gereed te wees om Hom  te ontvang.

 

Die twee groot partye in die Joodse Raad was die Sadduseërs en die Fariseërs. Die Sadduseërs was die priesterparty wat net die vyf boeke van Moses aanvaar het, maar nie die profete nie. Die Fariseërs, wat die wet en die profete aanvaar het, wou die volk se lewe reël tot in die fynste besonderheid van die wet volgens hulle uitleg daarvan. Toe Johannes uit Jesaja aanhaal, is hulle vraag: waarom doop jy, as jy nie die Christus of Elia of die profeet is nie?

            Die Jode het twee vorms van doop gehad: herhaalde  rituele reinigings en die eenmalige doop van ‘n proseliet wat die Joodse geloof aangeneem het, as simbool van afwassing van hulle heidense onreinheid. Johannes eis nou dat alle bekeerlinge, veral onder die Jode, gedoop word as teken van die afwassing van hulle sonde. Daarmee word die Jood gelykgestel met ‘n heiden wat van sy onreinheid afstand moet doen. Hulle kon dink die Messias sou mense doop (Eseg 36:25; 37:23-24; Sag 13:1), maar Johannes ontken ten sterkste dat hy die Messias is.          

 

 

Betanië word hier aangedui as ‘oorkant die Jordaan’ om dit te onderskei van Betanië op die berg by Jerusalem. [Betabara (huis van voorbereiding) is deur Origenes ingevoer omdat dit so mooi pas by Johannes se doop as voorbereiding. So het die naam in die 1933-vertaling ingekom, terwyl die oudste manuskripte Betanië lees, soos in die 1983-vertaling].

 

Skrywer: Prof Francois Malan