Die gewelf in Genesis 1

Die gewelf in Genesis 1 – Francois Malan

Alicia vra:

In Genesis 1 praat die Bybel van dat God die waters bo die gewelf geskei het van die waters onder die gewelf. Die gewelf is dan mos die hemelruim, die sonnestelsel, met die sterre, planete, son maan ens, met ander woorde die wêreld rondom die aarde self. So, die waters onder die gewelf is dus die see, riviere, damme wolke? Waar is die waters bo die wereld (gewelf) dan? Ek het in verskeie vertalings daardie selfde stuk oor en oor gelees, en in almal praat hul van die waters bo en die waters onder. Verskillende vertalings gebruik ‘n ander woord vir die gewelf, maar daar is in elke veraling, water bo en water onder!

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord in Genesis 1:6-8 vir gewelf of uitspansel is rakiya, afgelei van die werkwoord raka wat ‘uitsprei’ beteken (vandaar ‘uitspansel’) en ook gebruik word van ‘uitklop’ soos ‘n (koper) plaat wat in ‘n halwe bol uitgeklop word (vandaar ‘gewelf’ soos in koepel). Vgl. Ps 19:2; 136:5; 150:1 Job 37:18; Jes.42:5).

Die gewelf maak skeiding tussen die twee groot watermassas: dié daarbo, waar die reën vandaan kom (Genesis 7:11-12; 2 Konings 7:2), en die waters onder die gewelf, wat nie slegs na die see verwys nie, maar ook die water wat in fonteine onder die aarde uitborrel (Gen.49:25).

Die oud-oosterse wêreldbeeld van die skrywers van Genesis het nog nie onmeetlike sonnestelsels op die oog gehad soos ons vandag nie, maar het gedink aan ‘n plat aarde met fondamente en pilare (Job 9:6; 38:4) en die gewelf bo-oor gespan. Die sterre is aan die gewelf gehang, met ‘n son en maan wat teen die gewelf beweeg in hul baan soos teen ’n tent (Ps.19:5-7). Soos die water onder die grond uitborrel uit die oersee, so het die reën uitgeborrel uit die skatkamers van wind, reën en sneeu agter die gewelf, wanneer die vensters van die gewelf oopgemaak word (Maleagi 3:10; Spreuke 8:27,28). Dit is eers later wat ons wêreldbeeld ontwikkel het in ‘n rondebol aarde wat om die son beweeg in een van die menigte sonnestelsels wat ons met die teleskope kan sien, en wolke wat deur die wind oor die see se verdamping gevorm word en laat reën.

Die doel van Genesis is nie om ‘n wetenskaplike beskrywing van die skepping te gee nie, maar as ‘n getuienis oor die krag en wysheid van God en die wonder van sy skepping, om God se genade en krag, wat die skepping onderhou, te verkondig.

 

Skrywer: Prof Francois Malan