Die Graf gaan oop en Jesus staan uit die dood op. Die ou era is verby en die nuwe era begin. – Jan van der Watt

Alles het verander toe die graf op die derde dag oopgegaan het – die ou era was toe verby en die nuwe era het begin:

  • Die ou era beteken die era waarin die dood nog baas gespeel het. Mense het nie regtig geweet of daar ‘n lewe na die dood is nie. Hulle het gedink dat die einde van elke mens sy fisiese dood was. In die kloue van die dood en doderyk was hy of sy vasgevang.
  • Die nuwe era wat na Jesus se opstanding gekom het, het gewys dat God kragtig genoeg is om sy mense uit die kloue van die dood terug te bring sodat hulle vir ewig by Hom kan wees. Dit het Hy met Jesus bewys.

deel 1 – Hoe belangrik is die opstanding van Jesus volgens die Bybel?

1. Al vier Evangelies eindig met die beskrywing van Jesus wat opgestaan het (Mat 27:57-28:15; Mark 15:42-16:8; Luk 23:50-24:12; Joh 19:28-20:10). Die verhaal is basies dieselfde, maar elke Evangelie het sy eie hoek waaruit die vertelling gemaak word.

  • Gaan die gedeeltes deur en kyk wat jy dink eie is aan elke vertelling:
    • Matteus……………………………………………………………………………………………………………
    • Markus……………………………………………………………………………………………………………
    • Lukas………………………………………………………………………………………………………………
    • Johannes………………………………………………………………………………………………………….

Die volgende is interessant as ‘n mens na die verhale kyk:

  • Daar is geen beskrywing van hoe Jesus uit die graf uitgekom het nie. Dit is ‘n heilige oomblik wat nie beskryf word nie. In die apokriewe boeke word daar wel vertel hoe Jesus met ‘n helder lig uit die graf uitgekom het.
  • Daar word verskeie klein opmerkings gemaak om te wys dat Jesus se liggaam nie verwyder is nie, maar dat Hy werklik fisies opgestaan het, soos die doeke wat in die graf gekry is, die soldate wat verskrik na die priesterhoofde toe is (Mat 28:11) en selfs die bonatuurlike verskyning van die engele.
  • Die “drie dae” wat Jesus in die graf was, pla mense dikwels. (Jesus is Vrydagmiddag laat begrawe en op Sondagoggend vroeg was hy nie meer daar nie). Volgens hulle berekeninge was hy nie ‘n volle drie dae in die graf nie. Dit hang natuurlik daarvan af hoe ‘n mens dit bereken – die Joodse dag het 6 uur die aand (met sononder) begin. Jesus is Vrydag voor 6 uur begrawe (daarom het hulle so vinnig gemaak om Hom van die kruis af te kry). Die Jode sou dus sê dat hy op Vrydag (dag 1) begrawe is. Die volgende dag (Saterdag, dag 2) het op 6 uur die Saterdagaand geeïndig. Toe het dag 3 (Sondag) begin. Jesus was dus oor drie dae in die graf en nie 3 volle 24-ure nie.
  • In die Johannesverhaal kry ons nogal ekstra inligting oor mense wat nie so omvangryk is in die ander Evangelies nie. Nikodemus, Jesus se nagdissipel uit die top kringe van die Joodse raad, word genoem. Die resies (en kompetisie) tussen Petrus en die geliefde dissipel word beskryf, wat waarskynlik dui op so ‘n kompetisie tussen die twee apostels na Jesus se hemelvaart. Maria wil Jesus aan sy voete vashou (Joh 20:17) maar Jesus verbied haar. Die rede is omdat Maria Jesus as mens wil behou en op die stadium nie verstaan het dat Jesus moet opvaar nie. Jesus is nou die opgestane Heer. Johannes klee sy verhaal met ander woorde baie meer teologies in. Dit wys dus vir ons hoe die mense in die ou tyd geskiedenis geskryf het. Die boodskap van die geskiedenis was net so belangrik (en dikwels selfs belangriker) as die gebeure self.

2. Paulus skryf ‘n lang hoofstuk (1 Kor 15:1-34) oor die opstanding van Jesus, waarin hy die belangrikheid daarvan onderstreep.

  • Hierdie is ‘n lang gedeelte wat eintlik vir sigself spreek. Lees dit deur en maak ‘n lys van wat jy as die hoofargumente in die gedeelte sien:…………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………………………

Let op die volgende interessante dinge:

– Paulus laat die hele Christelike boodskap staan of val met die opstanding. As Jesus nie opgestaan het nie, is ons geloof tevergeefs en is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Waarom dink jy sê hy dit? ………………………………………………………………………………………………………………………….

Die rede lê by die eras wat gewissel het. As Jesus nie opgestaan het nie, het ons geen bewys dat daar lewe na die dood is nie. Dan het God nie met Jesus geslaag nie – hoe weet ons dan of Hy met ons sal slaag. As Jesus egter uit die dood opgestaan het, wys dit dat God die krag het om dit te doen en dat daar lewe na die dood is. Dan het ons ook hoop (1 Kor 15:12). Dit is dan ook wat hy bedoel as hy sê ons hoop nie net in hierdie lewe op Jesus nie – daar is vir elke Christen ‘n toekoms. Dit sê die opstanding vir ons.

– Die bewys dat Jesus opgestaan het kan onder andere afgelei word uit sy verskynings aan mense. Paulus noem ‘n klomp (1 Kor 15:4-10) en moedig die destydse lesers indirek aan om te gaan vra as hulle onseker is – baie van die mense leef nog, sê hy. Paulus is dus nie bang dat die werklikheid van die opstanding van Jesus verkeerd bewys sal word nie.

– Die dood, wat mense van God af weggehou het, is deur Jesus se opstanding vernietig (1 Kor 15:26-28). Dit beteken dat as iemand sterf, die dood daardie persoon nie meer vir altyd daar kan hou nie. Jesus is nou in beheer – Hy sê wie leef vir ewig en wie nie.

– Die opstanding is altyd die afronding van die kruis. 1 Kor 2:1-5 beskryf die kruis as sentrum van Paulus se prediking, maar dit sluit altyd die opstanding in. Sonder die opstanding sou die kruis nie veel sin gemaak het nie. 

3. Ander skrywers van die Nuwe Testament baseer ook hulle boodskap geheel op die opstanding. Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Lees 1 Pet 1:3-5. So begin Petrus sy brief. Wat sou jy sê wil hy hier vir sy lesers oordra? ….

…………………………………………………………………………………………………………………………………

Deur met hierdie woorde te begin, gee Petrus eintlik die raamwerk vir die res van sy boodskap. Jesus het opgestaan en daarom het ons hoop wat by God vir ons bewaar word. Dit maak die huidige en toekomstige lewe die moeite werd. Daarom kan sy boodskap ook geglo word.

  • Lees Open 1:17-18. Hier beskryf Jesus Homself. Hy is die een wat dood was maar nou lewe. En Hy het die sleutels van die dood en die doderyk. Die dood en doderyk word met ‘n tronk vergelyk. Die tronkbewaarder kan sê wie bly binne en wie gaan uit. Jesus het nou die sleutels van die tronk van die dood en doderyk. Hy kan sê wie bly in die doderyk en wie leef saam met Hom. Die nuwe era is daar en Jesus is Heer van hierdie nuwe era. 

Om terug te kom by die vraag: hoe belangrik is die opstanding volgens die Nuwe Testament? Die antwoord is kort: Sonder die opstanding is daar geen Evangelie nie, het die Christene geen hoop nie en is ons godsdiens tevergeefs. En die rede? Die opstanding bewys dat daar lewe na die dood is en dat Jesus daardie pad vir ons oopgemaak het.

Skrywer : Prof Jan van der Watt