Die Groot Geloofswoordeboek: Algemene openbaring en besondere openbaring

Die Groot Geloofswoordeboek: Algemene openbaring en besondere openbaring

Algemene openbaring en besondere openbaring is twee kante van die­selfde saak: hoe God Hom aan ons bekend gemaak het. Die algemene openbaring is God se openbaring in die natuur, die geskiedenis en die gewete van die mens. Die besondere openbaring is sy openbaring veral aan Israel en in Jesus van Nasaret, waar­van ‘n verslag in die Bybel opgeteken is. ‘n Mens sou die een ook sy onpersoonlike openbaring kon noem, en die ander een sy per­soonlike openbaring.

Algemene openbaring

Algemene openbaring omvat natuur, geskiedenis en gewete. Daar is in die Bybel getuienis dat iets van God sigbaar is in die natuur, ten minste sy krag en sy Goddelikheid (Rom 1:20). Mense aanvaar gewoonlik dat hulle ook iets van sy wonderlikheid in mooi dinge in die natuur kan sien, in ‘n mooi blom of ‘n stroompie water. Die probleem hiermee is natuurlik dat daar ook skrikwekkende dinge in die natuur is, soos ‘n leeu wat ‘n bok doodwurg of ‘n tsoenami. Op die ou end kies ons dus maar wat in die natuur vir ons iets van God vertel.

Dit beteken dadelik dat dit nie hier om ‘n duidelike saak gaan nie. Ons het gewoonlik reeds uit die Bybel (wat ons van die besondere openbaring vertel) ‘n idee van wie en hoe God is, en in die lig daarvan besluit ons dan wat ons in die natuur aan Hom herinner.

Die geskiedenis is nie minder problematies nie. Vir baie lank het baie wit mense geglo dat ons God se hand duidelik in die gebeure by Bloedri­vier kon sien. Allerlei dinge wat die nag voor die slag gebeur het, soos die digte mis, is gesien as die duidelike vingerwysings van God se werk. Maar almal is nie so seker soos dié wat daardeur bevoordeel is nie. Die Zoeloes, ook Christen-Zoeloes, was nie so oortuig daarvan nie. Op die ou end moet ‘n mens die geskiedenis interpreteer. Baie Duitse Christene het Hitler gesien as “God se man in daardie uur”(!).

Openbaar God Hom ook in die gewete van die mens? Nie dat ons gewetes direk die openbaring van God is nie, want ons gewete word bepaal deur ons opvoeding en waardesisteem. Maar daar is algemene waardes wat omtrent alle mense erken, soos eerlikheid, respek vir ouers – al pas almal dit natuurlik nie reg­tig toe nie. Is die algemene erkenning ‘n voorbeeld daarvan dat God basiese waardes in mense ingeplant het? Het alle mense ‘n basiese Godsbesef wat sommige maar net onderdruk? Sover dit bekend is, het alle volke en kulture in hulle vroeë geskiedenis gode gehad.

Teen dié tyd is dit al duidelik dat die gedagte van ‘n algeme­ne openbaring sy eie vrae oplewer. Maar dit neem die feit nie heeltemal weg dat daar op ‘n manier so iets moet wees nie. As ons glo dat God alles gemaak het, sal dit tog vreemd wees dat daar nêrens enige spore van sy werk is nie, niks wat aan Hom herinner nie. Dus kan ons eindig waar ons begin het: by Paulus se uitspraak dat ons uit die werke van God kan aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is (Rom 1:20), al sal ons ook verder met hom moet saamstem dat mense dit van nature onderdruk.

Die punt is nou dat hierdie openbaring nie eintlik effektief is nie. Dit bring nie mense sover om God te dien nie. Dit hoef nie aan die defektiwiteit van die openbaring toegeskryf te word nie, maar eerder aan ons sonde. Van nature skram ons weg van God af. Jy hoef nie kinders te leer om te jok of te baklei nie, jy moet hulle leer om die waarheid te praat en in vrede te leef.

 

Natuurteologie

Dit beteken dat ons nie uit hierdie openbaring kan leer wie en hoe God regtig is nie (dus geen natuurteologie nie). Ons kan ook nie uit die natuur allerlei afleidings maak oor wat dan die wil van God sou wees nie. In die tyd van apartheid was ondersteuners geneig om uit die natuur afleidings te maak, soos dat skape en bokke nie vermeng nie, en daarom is ondertrouery tussen wit en swart verbied. Maar ‘n mens sou daarteenoor kon sê dat swart en wit skape wel meng, maar dis nie die manier om na die wil van God te vra nie. Daarvoor het ons die besondere openbaring.

Die eintlike punt van kritiek op die natuurteologie is die feit dat die algemene openbaring nie positief waardeer word in die Bybel nie. Dit is duidelik dat God wel geken kan word uit die natuur, maar dit is ook duidelik dat die mense hierdie kennis onderdruk, en nie daardeur die ware God leer ken nie (Rom 1:20 ev).

Daar is wel die bekende uitspraak in Romeine 2:12-16 waar ons lees van heidene wat nie die wet het nie, maar tog vanself dinge doen wat die wet vereis. Paulus verklaar dan: “Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan.” Die gevolgtrekking is dat hierdie mense, wat nie die evangelie van Jesus gehoor het of van die God van Israel weet nie, gered word omdat hulle die wet hou.

Dis ‘n taamlik algemene opvatting dat dit hier gaan om heide­ne wat nie die Here ken nie, maar wat dan van nature die wet het en dit ook onderhou. Dit sou dan die manier wees waarop hulle gered word. Dit is egter ‘n baie vreemde gedagte. Elders is Paulus sterk en duidelik daaroor dat niemand gered kan word deur die wet te hou nie, maar net deur in Jesus te glo (Gal 2:15-16). Selfs Israel kan nie die wet hou nie, wat staan nog heidene wat glad nie eens die wet ken nie?

Daarom is dit goed om ‘n bietjie versigtiger na hierdie be­roem­de deel te kyk. Kan mense regtig gered word, al glo hulle nie in Jesus nie, net deur die wet te onderhou?  Die uitdrukking “dat die wet in hulle harte geskrywe staan” herinner natuurlik dadelik aan Jeremia 31:33 se beskrywing van die nuwe verbond. Onder die nuwe verbond sal Israel nie meer die wet net op klip­tafels hê nie, maar “op hulle harte geskryf”. Maar dit gaan dan om gelowiges, nie om heidene nie.

In Romeine 2:25-29 gaan dit om ‘n verwante saak. In 2:12-16 gaan dit om die wet, en in 2:25-29 om die besnydenis. Eers gaan dit oor Israel wat die wet het, maar dit nie hou nie, teenoor “heidene” wat die wet nie het nie, maar dit tog hou en dan op dié manier gered word. En dan gaan dit oor Israel wat letterlik besny is, maar nie die wet hou nie, terwyl daar “heidene” is wat nie letterlik besny is nie, maar tog die wet hou en dan só gered word. Die slotsom is dat hierdie “heidene” die Jode sal oordeel.

Waar kry ‘n mens sulke heidene? Is dit nie dalk heiden-Christene nie? Paulus noem die heiden-Christene dikwels “heidene” as hy hulle teenoor die Jode stel (Rom 11:13; 15:9; 16:4; Gal 2:12), almal plekke waar die Grieks letterlik “heidene” het terwyl moderne vertalings sommer vertaal met iets soos “gelowiges uit die hei­dennasies” of “nie-Joodse gelowiges”. Daar is geen enkele rede om dit nie ook in 2:14 te doen nie. Dan kan dit sin maak dat “heidene” wat nie die wet het nie, dit beteken nie met die wet groot­geword het soos die Jode nie, deur die krag van die Heilige Gees die wet hou. Hulle is immers bekeerde heidene, gelowiges.

Dit sou net verder bevestig dat daar nie ware kennis van God uit die algemene openbaring voortkom nie en dus nie ‘n suiwer natuurteologie kan wees nie.

 

Besondere openbaring

Besondere openbaring (of persoonlike openbaring) is die open­baring waarin God self na mense kom. Dit kan misverstand wek om sonder meer die Bybel die besondere openbaring te noem. God het Hom nie in byvoorbeeld die boek Eksodus aan Israel in Egipte geopenbaar nie. Daar was nog nie eens so ‘n boek nie. God het na Moses gekom en met hom gepraat. God het sy Seun nie in die Evangelies aan ons bekend gestel nie, maar in die Jood Jesus van Nasaret. God het Hom in gebeurtenisse, in die geskiedenis ge­openbaar. En opnuut moes mense keuses maak. Die dissipels het God se openbaring in Jesus herken en erken, maar die Fariseërs nie. Dus: selfs God se persoonlike openbaring moet erken en aanvaar word.

En die *Bybel?

‘n Mens kan die Bybel die betroubare getuienis oor die besondere openbaring noem, en in hierdie sin self ook openbaring. In die meeste gevalle vertel die Bybel van God se openbaring in die geskiedenis, soos Eksodus en die Evangelies. Maar dikwels is dit ook direk openbaring, byvoorbeeld die Psalms of Paulus se briewe.

Woorde gemerk met  ʼn * sal later verder bespreek word.

 

Outeur: Prof. Adrio König