Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenisskrifte

Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenisskrifte

 

  • Belydenis van Belhar Heidelbergse Kategismus
  • Nederlandse Geloofsbelydenis Dordtse Leerreëls en ander belydenisskrifte

Belydenisskrifte is bladsye lange formulerings van die Christeli­ke geloof. Dit kom uit die tyd van die Kerkhervorming toe die Protestantse kerke teenoor die Katolieke Kerk hulle geloof in meer besonderhede wou uitdruk as die korter ekumeniese belydenis­se. (*Apostoliese Geloofsbelydenis) Die kerke wat tydens die Kerk­her­vorming ge­vorm is, het ook teenoor mekaar te staan gekom, sodat daar gou groepe kerke ontstaan het wat ook kerklike tradisies ge­noem word. Hulle het elkeen hul eie belydenisskrifte opgestel. Daar is ‘n hele aantal in elke tradisie, maar hier word net ‘n paar van die belangrikste genoem.

Die Lutherse Kerke het veral die Augsburgse Belydenis en die Kategismus van Luther. Die Gereformeerde Kerke (waaronder ook die NG Kerk, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke tel – *Afri­kaanse kerke) het drie belydenisskrifte wat die Drie Formuliere van Eenheid genoem word: die Heidelbergse Kate­gismus, die Ne­derlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls. Die An­glikaanse Kerk het die Thirty-Nine Articles of the Church of England en The Book of Common Prayer, die Presbiteriaanse Kerk die Westminster Confession, die Metodistekerk die Twenty-Five Articles of Religion wat John Wesley se verwerking van die Anglikaanse Thirty-Nine Articles is.

In Suid-Afrika het die NG Sendingkerk in 1982 die Belydenis van Belhar opgestel. Belhar was ‘n “Kleurling”-woongebied na­by Kaapstad, en die NG Sendingkerk was die kerk wat in 1881 deur die NG Kerk gevorm is vir die “Kleurlinge”. Later het die NG Kerk in Afrika (die kerk wat vir die swart mense gevorm is) en die NG Sendingkerk verenig in die VGK (die Verenigende Ge­­reformeerde Kerk) en die Belydenis van Belhar aanvaar. Tans is daar nog steeds samesprekings aan die gang met die oog op kerkhereniging tus­sen die lede van die NG Kerkfamilie (die NGK, die VGK, die oor­blywende deel van die NG Kerk in Afri­ka, en die Christian Re­formed Church wat die NG Kerk vir die Indiërs gevorm het). Die Belydenis van Belhar is een van die groot struikelblokke in die pad van hereniging. Die VGK eis dat dit ‘n belydenis word saam met die Drie Formuliere van Eenheid, terwyl die ander kerke elk hul eie siening oor die saak het.

Die Belydenis van Belhar is opgestel in die hoogbloei van apart­heid en getuig van die pyn en lyding wat apartheid gebring het in die lewe van “nie-blankes”, soos mense van kleur destyds genoem is. Dit handel hoofsaaklik oor versoening, die eenheid van die kerk, geregtigheid en vrede.

In die konkrete lewe van die meeste van hierdie kerke speel hier­die belydenisse nie ‘n belangrike rol nie. Die meeste lidmate sal nie eens goed van hulle bewus wees nie. Maar daar is wel bepaalde groot lyne wat in hierdie belydenisse geformuleer is en wat bydra tot die beklemtonings in elk van die verskillende kerk­like groeperings. So is daar in die Drie Formuliere van Eenheid die sterk oortuiging dat Christus ons enigste Verlosser is, en dat ons net uit genade en nie deur ons goeie lewe nie deur Hom ge­red word as ons in Hom glo. Daar word selfs ‘n ly­sie hiervan ge­maak: net Christus, net genade, net geloof. Maar as hierdie ba­siese oortuigings vergelyk word met dié in die be­lydenisse van die ander historiese kerke is ‘n mens verbaas oor die groot mate van ooreenstemming, en is dit ‘n geldige vraag of die verdeling tussen kerke regtig nodig is.

Geskrewe belydenisse of belydenisskrifte het nooit in die *Bap­tiste- en die *Pinkster- en *Charismatiese kerke ‘n groot rol gespeel nie. Hulle is eerder aan mekaar verbind deur ‘n ge­meen­skaplike *spiritualiteit en ongeskrewe geloofs­oortui­gings.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König