Die Groot Geloofswoordeboek: Berusting

Die Groot Geloofswoordeboek: Berusting

Berusting

Berusting is nie ‘n woord wat in die Bybel voorkom nie, en die in­houd wat meestal daaraan gegee word, is ook nie spesifiek Christelik nie. Mense gebruik dit gewoonlik onder moeilike omstandighede, veral as hulle niks aan die omstandighede kan verander nie. Dit lui dan ook gewoonlik iets soos: “Ons moet maar berus,” of: “Ons moet dit maar aanvaar. Ons kan tog niks daar­aan verander nie.” Dit is ‘n passiewe gelatenheid wat nie meer verandering verwag nie. Dit word dikwels in verband ge­bring met die wil van God. Mense glo die slegte dinge wat oor hulle gekom het, is deur God beskik (*Voorsienigheid), en daarom moet hulle “maar tevrede wees”. Dis ‘n passiewe tevredenheid wat geen verbeelding het nie.

Daar is ook die ander moontlikheid, dié van aktiewe aan­vaar­ding van die situasie. Dan is daar nog verbeelding, en inisiatief is nog moontlik. Dan probeer mense nog iets goeds uit die moeilike situasie maak. So ‘n houding kan geïnspireer word deur tekste soos Romeine 8:28: “dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Dit help as ‘n mens onthou dat hier nie staan dat God alles veroorsaak wat met ‘n mens gebeur nie, maar dat Hy alles wat alreeds gebeur, ten goede laat meewerk. Dit kan iets beteken soos dat God mense wat Hom liefhet, help om iets goeds uit ‘n slegte situasie te kry.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

Outeur: Prof Adrio König