Die Groot Geloofswoordeboek: Christus se twee nature

Die Groot Geloofswoordeboek: Christus se twee nature

Christus se twee nature

Ons bely dat Christus twee nature het: ‘n Goddelike natuur, en ‘n menslike natuur. Dit is woorde wat nie in die Nuwe Testament van Hom gebruik word nie, maar só geformuleer is tydens die Sinode van Chalcedon in 451 nC. Dit was ‘n poging om in die filosofiese taal van daardie tyd te bely dat Hy op een of ander manier sowel Goddelik as menslik was. Daar is genoeg gegewens in die Nuwe Testament om hierdie oortuiging te regverdig. So ‘n formulering was nodig nadat die kerk in 325 nC by Nicea uitdruklik sy Goddelik­heid bely het. Daar was altyd die neiging om uit eerbied net aan Jesus as ‘n Goddelike wese te dink en dan te vergeet Hy was ook waarlik ‘n mens. Dit bring mee dat Hy eintlik so ver van ons af staan dat ons Hom net aanbid en bewonder, en nie besef dat Hy eintlik as mens vir ons ‘n voorbeeld was nie. Paulus hou Hom uitdruklik voor as ‘n voorbeeld van hoe ons ander se belange hoër as ons eie moet ag, en eerder na hulle belange moet omsien as na ons eie (Fil 2:3 ev).

Sy Goddelike natuur word elders bespreek. (*Drie-eenheid)

 

Menslikheid van Christus

Met die formulering dat Christus nie net waarlik God is nie, maar ook waarlik mens, wou Chalcedon dus voorkom dat men­se aanvaar dat Hy net skynbaar ‘n mens was. Maar daar is sterk uitsprake in die Nuwe Testament wat ons daaraan herinner dat Hy in die volle sin van die woord ‘n mens was. Hy sê self Hy weet nie wanneer die wederkoms sal wees nie (Matt 24:50). Ons lees dat Hy aan God “gebede en smekings geoffer het met harde geroep en trane” en dat Hy “uit alles wat Hy gely het, ge­leer het wat gehoorsaamheid is”, en dat Hy deur sy lyding volmaak geword het (Heb 5:7, 8; 2:10). Dit is sterk getuienisse vir sy menslikheid wat aansluit by die feit dat Hy honger en dors geword het.

Hierdie nadruk op die menslikheid van Christus doen egter nie afbreuk aan sy Goddelikheid nie. (*Drie-eenheid)

Daar is egter ‘n paar interessante vrae oor hierdie formule­ring van ‘n Goddelike natuur en ‘n menslike natuur.

Tegelyk God én mens?

Hoe is dit moontlik dat Hy tegelyk God­delik en menslik kan wees? Is daar nie so ‘n groot verskil tussen God en mens dat dit eintlik onmoontlik sou wees om tegelyk al twee te wees nie? Het dit nie ‘n ondraaglike spanning in Jesus se lewe veroorsaak nie?

Dit is ‘n baie natuurlike reaksie as ons God en mens téénoor mekaar stel. God is groot, magtig, heilig, onfeilbaar, ewig, en ons is klein, nietig, sondig, vol foute en sterflik. Hoe kan iemand gelyk al twee wees? (*Sondeloosheid van Christus)

Maar daar is ook ‘n ander manier om na God en mens te kyk. Daar is ‘n sin waarin God en mens nie regtig so ver van mekaar is en so téénoor mekaar staan nie. Onder die mens as *beeld van God word dit duidelik dat daar ‘n bepaalde analogie (beperkte ooreenkoms) tussen God en mens is. Daar is aandag gegee aan die “soos”-uitsprake van die Bybel: dat ons soos God moet optree (barm­hartig wees, heilig wees). As ons bedoel is om die beeld van God te wees, beteken dit dat iets van God in ons lewe sigbaar moet kan word.

Die blote feit dat ons bedoel is om die beeld van God te wees beteken dus dat ons nie regtig so ver van God af is, so to­taal anders as God is nie. Iets van God se liefde moet in ons lewe sigbaar kan word, iets van sy heiligheid, van sy geduld, ensovoorts. Maar kan dit regtig?

Onthou, dit gaan oor die mens soos God ons bedoel het om te wees, en nie hoe ons deur ons sonde geword het nie. En dit is presies hoe Jesus was. Hy was nie ‘n sondige mens nie. Dit be­teken dat Hy in sy lewe as mens kon wys wat God met ons as mense in gedagte gehad het. Sy lewe as mens was ‘n analogie van God se lewe. Sy liefde, ontferming, geduld en heiligheid was ‘n getroue weergawe van hoe God is. Sy Goddelike natuur en sy menslike natuur het dus presies by mekaar gepas. Sy liefde was die liefde wat ‘n mens moet hê om God se liefde te wys. Daar was dus volkome harmonie tussen sy goddelike en sy menslike natuur omdat Hy die soort mens was wat God bedoel het ons moet wees.

As ons dan deur die *doop en die geloof (*Heilsweg) met Christus verenig is, kan ook in ons lewe iets van God sigbaar word. God kan dus iets van sy doel met ons in ons lewe bereik. Maar oppas. Dis eintlik nie ons lewe nie. Paulus het tog geskryf: “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:19-20). God word dus nie in my eie lewe sigbaar nie, maar in die lewe van Christus waaraan ek nou genadiglik mag deelneem. Nie my oorwinningslewe nie, maar sy oorwinningslewe waaraan ek mag deelneem. (*Heiligmaking)

 

Vreemde formulerings

Het Hy ‘n dubbellewe gelei? Was Hy afwisselend God en mens? Daar is mense wat sekere dinge wat Hy gedoen het aan sy God­delikheid toeskryf en ander aan sy menslikheid. Hulle meen byvoorbeeld sy wonderwerke het Hy as God gedoen, maar aan die kruis het Hy net as mens gesterf.

Die oomblik as ons by hierdie sienings kom, besef ons daar word nooit só in die Nuwe Testament oor Hom geskryf nie. Hy doen nie een ding in sy Goddelikheid en ‘n ander in sy menslikheid nie. Hy het nie ‘n dubbellewe wat afwisselend die een en dan weer die ander
is nie. Chalcedon het iets daarvan besef en daarom besluit dat sy twee nature deur een Goddelike Persoon verenig word.

Die motief was baie lofwaardig: om die eenheid van sy Per­soon te bewaar. Maar die formulering skep probleme. Dink maar net aan sy sterwe. As ons nou aanvaar dat dit net sy menslike natuur was wat gesterf het, dan het sowel sy Goddelike natuur as sy Godde­li­ke Persoon bly leef. Was Hy dan regtig dood? Of was dit net ‘n derde van Hom wat dood was, en dan nog die minsbelangrike derde?

Met dié soort denke beland ons eenvoudig buite die damp­kring van die Nuwe Testament. Miskien is die probleem dat ons te veel probeer om Jesus as twee entiteite te verstaan wat op ‘n manier saam­gevoeg is en een lewe lei. Daarmee vergeet ons dat Hy ‘n unie­ke Persoon was wat in ‘n sin tussen God en mens gestaan het. (*Mid­delaar)

En ons vergeet verder dat hierdie unieke Persoon baie meer as mens geleef het, en dat daar min van sy Goddelikheid sigbaar was in sy lewe. Die Fariseërs en ander Joodse leiers het nie in aanbidding voor Hom neergeval as hulle Hom sien nie. Hulle het Hom as ‘n mens beleef; trouens, hulle kon baie ongeskik teenoor Hom wees. Hulle het Hom byvoorbeeld ‘n vraat en ‘n wynsuiper genoem (Luk 7:34), wat bepaald nie vleiend was nie. Ons lees ook ‘n interessante woord by Paulus: dat Christus, wat gelyk aan God was (en selfs toe Hy ‘n mens geword het, aan God gelyk gebly het), Homself verneder of ontledig het, en soos ‘n slaaf geword het (Fil 2:6 ev). Die minste wat dit kan beteken, is dat Hy sy Goddelikheid nie opvallend laat funksioneer het nie.

Dit beteken dat ons Jesus in die eerste plek as ‘n unieke Mens moet sien.

 

Outeur: Prof Adrio König