Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hemel

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hemel

Hemel

Daar is minstens drie betekenisse vir die woord “hemel” in die Ou Testament:

1.            Die hele groot ruimte bo die aarde wat saam met die aarde die volle skepping van God is (“hemel en aarde” Gen 1:1).

2.            Die firmament of blou koepel wat die water daarbo afskei van die water op die aarde, en waarin die “vensters” is waardeur die reën val (Gen 1:7-8; Mal 3:10).

3.            Die eintlike woonplek van God wat teenoor die aarde staan wat Hy as die woonplek van die mense gemaak het (Ps 115:16).

In die Nuwe Testament is dit veral die hemel as die woonplek van God wat na vore kom. Christus leer die dissipels bid tot ons Vader wat in die hemel is (Matt 6:9). Christus het van die hemel gekom en na die hemel teruggekeer (Joh 3:13; Luk 24:51). Veral die brief aan die Hebreërs het heelwat oor Christus se huidige teenwoordigheid en werk vir ons in die hemel, in die “heiligdom” na aanleiding van die heiligdom in die tempel (Heb 8:1 ev; 9:23 ev). Die Heilige Gees is uit die hemel gestuur (1 Pet 1:12), en dit is ook die woonplek van die engele (Matt 18:10).

 

Waar is die hemel?

Dit is ‘n vraag wat nooit in die Bybeltye gevra sou word nie, maar vandag word dit dikwels gevra. In die Bybel word ‘n drieverdie­ping-*wêreldbeeld veronderstel: die hemel is daarbo (nie te ver van die aarde af nie), die aarde in die middel, en die doderyk onder die aarde. Tydens sy hemelvaart sien die dissipels dan ook hoe Jesus opvaar en deur ‘n wolk weggeneem word.

Vandag het ons ‘n ander wêreldbeeld. Daar is nie regtig ‘n bo en ‘n onder in die heelal nie. Op aarde is “bo” na alle kante wat weg­wys van die aarde af, wat beteken dat “bo” in Suid-Afrika en Austra­lië in twee teenoorgestelde rigtings is. Die heelal is ook onein­dig gro­ter as wat die Bybelskrywers gedink het. Ons kan dus nou moei­lik nog die voorstelling deel dat Jesus iewers heen deur die ruim­te beweeg het. Selfs teen die spoed van lig sou Hy nou nog maar net 2 000 ligjare van die aarde af gewees het, en dit sal Hom 100 000 jaar neem om net uit ons melkweg te kom.

In terme van ons wêreldbeeld is dit dus makliker om te aan­vaar dat die hemel ‘n ander soort “plek” is, soms sê ons dit is in ‘n an­der “dimensie” al weet ons ook nie presies wat ons daar­mee bedoel nie. Wat ons wel weet, is dat die hemel die woonplek van God is. En dit is dalk onnodig om die “plek” so ver van die aarde af te soek. Dalk is dit baie “nader” aan ons as wat ons dink. Immers, God is naby dié wat eerbied vir Hom het, maar Hy is ver van die goddelose af. “Na­by” en “ver” het dus in hierdie ge­val ander betekenisse.

Gaan ons “eendag hemel toe”?

Die verwagting dat die kinders van God hemel toe gaan, is baie algemeen en beteken soveel vir baie van hulle. Hulle grond hierdie verwagting op ‘n aan­tal uitsprake in die Nuwe Testament. Die be­kendste is seker: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed ge­maak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem” (Joh 14:2 ev). Verder is daar Paulus se uitsprake: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring” (2 Tim 4:18) en: “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het” (2 Kor 5:1). Op grond van hierdie uitsprake glo baie Christene dat ons “eendag hemel toe gaan”.

Hierby kom ook nog ‘n paar uitsprake wat verwys na loon of ‘n erfenis of skatte in die hemel (Matt 5:12; 6:20; Luk 6:23; 1 Pet 1:4).

Beteken dit dat ons van die aarde af wegge­neem sal word hemel toe om dáár ewig by die Here te wees? Indien wel is daar twee vrae: Wat gebeur dan met die aarde? En verander God dan sy plan? Hy het die aarde tog gemaak as ons woonplek. Vat Hy ons nou weg van die aarde af hemel toe? En vernietig Hy die woonplek wat Hy vir ons gemaak het? Sou hier­die gedagte nie dalk beteken dat ons ons verantwoordelikheid teen­oor die aarde hier en nou verwaarloos nie? Daar is beskuldigings dat Christene se hemel­verlange hulle aandag van omgewingsbe­wa­ring wegtrek. Soms word selfs gesê: “They are so heavenly-minded that they are of no earthly use.”

In die lig van hierdie vrae kan ons teruggaan na die Bybel en weer kyk. Eerstens is daar ‘n interessante samehang tussen he­mel en aarde. Die Bybel begin (Gen 1:1) én eindig (Op 21; 22) met ‘n be­spreking van hemel en aarde, maar elke keer is die nadruk op die aarde en nie op die hemel nie. Tweedens is daar deur die hele Bybel ‘n soort eenrigtingverkeer van die hemel na die aarde.

God maak die aarde en kom besoek die mense hier. Hy vat hulle nie hemel toe as Hy hulle by Hom wil hê nie.

Hy kies Abraham om op aarde ‘n volk vir Hom te bou.

Hy kom woon onder hulle op aarde in die Allerheiligste in die tempel in Jerusalem.

Hy kom in Jesus aarde toe om ons te verlos.

Hy stuur die Gees aarde toe om in sy gemeente te kom woon, om ons te inspireer om die wêreld tot geloof op te roep, en om ons as sy bruid voor te berei.

En aan die einde laat Hy die nuwe Jerusalem uit die hemel op die nuwe aarde neerdaal en kom self op die nuwe aarde in die nuwe Jerusalem onder die nuwe mensdom woon.

Tussen die hemel en die aarde is daar deur die hele Bybel ‘n een­rigtingverkeer van die hemel na die aarde. Is dit dan nie vreemd dat ons ewige bestemming die hemel sal wees nie? En sê Jesus nie self dat die sagmoediges die nuwe aarde sal ontvang nie? (Matt 5:5)

Kan ‘n mens nie dalk die “hemel toe gaan”-tekste anders ver­staan nie? As ons lees dat daar vir ons ‘n loon of ‘n erfenis of skatte in die hemel bewaar word (Matt 5:12; 6:20; Luk 6:23; 1 Pet 1:4), sou dit kon beteken dat dit uiteindelik by wyse van spreke saam met die nuwe Jerusalem uit die hemel sal neerdaal op die nuwe aarde?

En dan die gedagte dat die Here Jesus vir ons gaan plek berei het en ons dan na Hom toe sal kom haal, en dat ons na ons dood in die hemel ‘n vaste gebou het, en dat Paulus op pad is na die hemelse koninkryk (Joh 14:2 ev; 2 Tim 4:18; 2 Kor 5:1). Sou dit kon beteken dat Jesus ons by sy wederkoms kom haal na die plekke wat Hy in die nuwe Jerusalem vir ons voorberei het, die plek wat op die nuwe aarde gaan neerdaal waarheen Hy ons dan neem om ewig by Hom te wees? En net so ons gebou in die hemel en die hemelse koninkryk? Daal dit nie saam met die nuwe Jerusalem uit die hemel op die nuwe aarde neer nie?

En ons hemelverlange? Dit behoort tog nie iets anders te wees as ons verlange na God en sy teenwoordigheid nie? Maar Hy kom mos self uit die hemel neer om op die nuwe aarde by ons te bly. Is dit dan nie op die ou end “hemel op aarde” nie? Dan behou ons die hemel én die aarde, maar dit is die hemel op die aarde, wat beteken dat God sy plan met ons en die aarde uitvoer: Hy saam met ons op die (nuut gemaakte) aarde in sy hemelse teenwoordigheid. (*Tussentoestand, *Nuwe aarde)

Die een nadeel van ‘n eensydige “hemelverlange” en “hemel toe gaan” is dat dit neig om ons te vervreem van die aarde. Die aar­­de is ons woonplek, nou en vir altyd. Op die aarde lê ons ver­antwoordelikheid, nou en vir altyd. Vir die aarde is ons ver­ant­woordelik, nou en vir altyd. Ons het in Genesis 2 selfs die beeld dat ons uit die stof van die aarde gemaak is, en die woord Adam kan verwys na die rooi stof.

Skrywer: Prof Adrio König