Die Groot Geloofswoordeboek: Die wil van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Die wil van God

Wil van God Plan van God

Een van die klassieke godsdienstige vrae is: Hoe kan ek weet wat die wil van God vir my lewe is? Dikwels word juis die ander woord gebruik: Wat is die plan van God vir my lewe?

Hieronder stel veral jongmense hulle dan die besonderhede van hul lewe voor: met wie moet ek trou, wat moet ek word, waar moet ek bly, by watter “kerk” moet ek aansluit, moet ek/ons trek, moet ek/ons ’n nuwe motor/huis koop, en nog baie ander. Mense kry dan dikwels in die Bybel “leiding”. Op die vraag of hulle moet trek, kry hulle Esegiël 20:46 en trek dan na ’n plek in die suide. ’n Mense hoor dikwels hoe sulke leiding gewerk het, want mense vertel dit graag. Maar selde hoe dit nié gewerk het nie, want wie sal dit graag vertel?

Die agtergrond van hierdie vrae is dikwels ’n bepaalde siening van God se *voorsienigheid. God het vir my ’n bepaalde vrou, werk, motor, huis beskik, en dit moet my keuse wees. Veral as men­se aanvaar dat jy ’n fout kan maak, word dit ’n lastige saak. As een enkele man met die “verkeerde” vrou trou, word dit chaos. Dit beteken im­mers dat die vrou met wie hy moes getrou het, nou ook met ’n verkeerde man gaan trou, en die man met wie die “ver­keerde” vrou moes trou, ook ’n “verkeerde” vrou gaan kry! En hier­die laasgenoemdes se bestemde vrou of man? Met die “regte” huis, werk, motor gaan dit net so. Een enkele fout gooi omtrent die hele sisteem uit rat.

Miskien moet ’n mens oorweeg om die saak anders te bena­der. Kom ons kyk van twee kante af.

Eerstens is daar inderdaad ’n sin waarin ons seker is oor wat God se wil vir ons lewe is. Sy wil is dat ons Hom bo alles sal lief­hê, en ons naaste soos onsself. Sy wil is dat ons sy wet sal on­derhou, dat ons aan Hom gehoorsaam sal wees, dat ons eerlik sal leef, dat ons ons lewe aan Hom sal toewy, dat ons na mense in nood sal omsien, en noem maar op. Dit is inderdaad sy konkrete wil vir my lewe, want dit is sy wil vir alle mense.

Dit klink nou wel nie heeltemal so romanties nie. Ek word dan net een van die massa. Maar dit sal my inderdaad ’n heel besondere mens maak as ek sy wil doen. Daar is nie so vreeslik baie mense wat dit doen nie.

Tweedens sal die familie, vriende en omstandighede my ge­woon­lik baie help om te besluit oor meer spesifieke dinge, soos my beroep en huweliksmaat. Ek sal natuurlik die leiding van die Here daarin soek, maar nie op so ’n meganiese manier nie. Ek sal Hom wysheid vra om te kan besluit wie met watter agter­grond, geaard­heid, karakter, belangstellings by my sal pas. Of kom ons sê dit ’n bietjie minder selfsugtig: Wie is daar met al hierdie eienskappe wat ek gelukkig sal kan maak? Watter beroep sal ek met my besondere samestelling die beste kan doen?

Miskien is die groot vraag uiteindelik nie of ek juis ’n apteker of prokureur of loodgieter of sendeling moet word nie, maar of ek as apteker of prokureur of loodgieter of sendeling regtig die wil van die Here sal doen, regtig die Here en my naaste sal liefhê, reg­tig vir mense sal omgee. Miskien is die groot vraag nie of ek juis met Sannie of Annie of Sara moet trou nie, maar of ek Sannie of Annie of Sara gelukkig sal maak deur vir haar om te gee.

Maar ’n mens moet nie vergeet dat God dalk tog ’n sin vir humor het nie. Mense kry leiding uit die snaaksste tekste, tekste wat nie naastenby beteken wat hulle daarin lees nie, en later blyk dit tog soms presies die regte besluite te gewees het.

 

Skrywer: Prof Adrio König