Die Groot Geloofswoordeboek: Drome

Die Groot Geloofswoordeboek: Drome

Drome het altyd aandag getrek, miskien juis omdat hulle meestal so onwerklik is. In byna alle godsdienste het drome besondere betekenis. Sielkundig is heelwat gedoen om te verduidelik hoe dro­me ontstaan. Dit het meestal te doen met buitengewone erva­rings wanneer mense wakker is. Soms heg Christene ook besondere waarde aan hul drome, en die vraag is of dit regtig nodig is.

In die Bybel speel drome nie ‘n besondere rol nie. Net in twee boeke in die Ou Testament kom ‘n hele paar verwysings voor na drome: Genesis en Daniël.

Genesis

In Genesis lees ons van twee drome van Jakob (Gen 28; 31), van Josef se drome (Gen 37), van die drome van die skinker en die bakker in Egipte (Gen 40), en van die farao se drome (Gen 41).

Die drome van Jakob word direk met die Here in verband gebring, dié van Josef is meer problematies. Enersyds dink sy familie dat hy ‘n grootheidswaan het, maar andersyds is dit tog ‘n vraag watter verband die drome het met sy latere onder­koningskap in Egipte. Dié drome word egter nie in verband met die Here gebring nie. Die drome van die skinker en die bakker word deur Josef uitgelê en kom dan ook so uit, maar ook hierdie drome word nie met die Here in verband gebring nie. By die farao se drome kom ‘n nuwe element by: Josef interpreteer dit as drome wat direk van God af kom om die toekoms bekend te maak: die sewe jaar van voorspoed en die sewe jaar van hongersnood in Egipte.

Daniël

Die tweede konsentrasie van drome kom in Daniël voor: die twee van Nebukadnesar (Dan 2; 4), en Daniël se eie twee drome (Dan 7; 8). In al hierdie gevalle word die drome direk met God in verband gebring as profesieë van wat in die toekoms sal gebeur. Nebukadnesar se tweede droom is eintlik net beperk tot sy eie toekoms, maar sy eerste droom en die drome van Daniël gee ruim en belangrike toekomsperspektiewe.

Van al hierdie drome in die Ou Testament is dit net Daniël s’n oor die vier diere wat weer in die Bybel ‘n rol speel, in Openbaring 13. Hier kry Johannes ‘n gesig wat direk met Daniël se vier diere verband hou. En juis daarom is die verskille so opvallend. In die plek van Daniël se vier diere, kom nou net een dier wat kenmerke van al vier het. Daniël se vierde dier het tien horings wat as tien konings geïnterpreteer word, en tussen hulle kom ‘n elfde horing uit wat uiteindelik die hele toneel oorheers. In Johannes se gesig is daar geen sprake van hierdie horinkie nie. Die een dier oorheers die toneel, en van opeenvolgende koninkryke en konings in geen sprake meer nie. Uiteindelik kom daar dan ‘n tweede dier, die dier uit die aarde (Op 13:11 ev), waarvan daar nie sprake in Daniël was nie.

Die groot verskille beklemtoon die feit dat ‘n mens nie hierdie drome/profesieë letterlik en in detail kan uitlê nie. (*Vervulling van profesieë)

Die derde en laaste groep drome in die Bybel is die vyf dro­me in Matteus se Kersverhaal. Daar verskyn ‘n engel in ‘n droom aan Josef in verband met Jesus se geboorte (Matt 1:20 ev), die Here waar­sku die sterrekykers in ‘n droom (2:12) en beveel in ‘n volgende droom vir Josef om na Egipte te vlug (2:13) en weer later om uit Egip­te terug te keer, en uiteindelik om na Galilea te gaan (2:22). Nie een van hierdie drome speel later weer ‘n rol in die Bybel nie.

In die res van die Ou Testament is daar net enkele gevalle waar daar sprake daarvan is dat die Here deur drome praat (Rig 7:13 ev; Job 7:14; 33:15) en in die Nuwe Testament net Pilatus se vrou wat ‘n vreeslike droom oor Jesus gehad het, en Petrus se aanhaling uit Joël 2:28 dat ou mense drome sal droom as die Gees uitgestort word (Hand 2:17). Daar is egter nooit verder enige verwysing hierna nie.

Dit lyk dus of drome nie in die Bybel van groot belang is nie, en veral nie in die ontwikkeling en die beslissende momente van die heilsgeskiedenis juis ‘n rol speel nie.

Drome en profesie

Daar is ‘n interessante verband tussen drome en profesie. Vroeg in die Bybel se geskiedenis sê die Here vir Aäron en Mirjam dat Hy met profete praat deur visioene en drome (Num 12:6). Dit is egter interessant dat daar wel dikwels sprake is van profete wat visioene kry, maar selde van drome. Trouens, in Jeremia 23:25-32 word daar baie negatief geoordeel oor profete wat sê dat hulle profesieë deur drome van die Here gekry het, maar dan nie die waarheid vertel nie. Dáár word egte profesieë as “die beste koring” teenoor drome as “strooi” gestel. Dit is dus duidelik dat sommige profete die oor­tuiging dat die Here deur drome profesieë gee, misbruik het.

 

Woorde gemerk met ʼn * word elders hanteer.

 

OuteurProf Adrio König