Die Groot Geloofswoordeboek: Engele

Die Groot Geloofswoordeboek: Engele

Engele

  • Beskermengele Die Engel van die Here

Die bestaan van engele word eenvoudig aanvaar in die Bybel. Net soos in die geval van God word daar nie spesifiek na hul ont­staan verwys nie. Engele verskyn in die vorm van mense en kom­munikeer soos mense. Behalwe in die geval van die serafs (Jes 6:2) word nooit na engele as wesens met vlerke verwys nie. Enge­le word met verskillende woorde aangedui, soos “seuns van God” (1953-vertaling by Job 1:6; 2:1) of “hemelwesens” (1983-verta­ling van hierdie verwysing). Daar is ook soorte engele, soos serafs (Jes 6:2 ev), gerubs (Eks 25:18-22; Ps 80:2; 99:1) en “aartsengele” soos Migael en Gabriël (Dan 8:16; 9:21; 10:13, 21; 12:1; Luk 1:19, 26; Op 12:7). Die feit dat hulle uitgesonder word, dui daarop dat daar ‘n soort hiërargie onder die engele is. Daarom kry ons ook verwysings na groepe engele (“trone, heerskappye, owerhede, magte” – Kol 1:16, 1953-vertaling, onderskeidings wat nie in die 1983-vertaling duidelik na vore kom nie).

Engele is in diens van die Here ter wille van die gelowiges (Heb 1:14; Hand 12:7 ev). Daarom tree engele ook dikwels by be­langrike keerpunte in die heilsgeskiedenis na vore, soos by die aankondiging van Johannes en Jesus se geboorte (Matt 1:20 ev; Luk 1:11 ev, 26 ev; 2:8 ev), by sy opstanding (Matt 28:2 ev; Luk 24:4 ev) en hemelvaart (Hand 1:9 ev).

 

• Beskermengele

Soms word uit Matteus 18:10 (waar van klein kindertjies gesê word: “hulle engele in die hemel is gedurigdeur by my hemelse Vader“) afgelei dat elke klein kindjie ‘n “beskermengel” het. Daar staan egter net in die algemeen van “engele”, sodat ‘n mens nie daaruit kan aflei dat elke kind ‘n aparte engel het nie. Dit is waarskynliker om te aan­vaar dat daar ‘n besondere groep engele is wat na die belange van die gelowiges omsien, en dus ook na die kinders. Jesus sê dit hier om te beklemtoon dat klein kindertjies vir God belang­rik is. Dit is bedoel as kritiek op die destydse samelewing wat nie veel aandag aan kinders gegee het nie.

 

  • Die Engel van die Here

Die Engel van die Here is ‘n bekende figuur in die Ou Testa­ment. Hy kom veral in die vroeër dele van die Ou Testament voor. Dikwels bring die Engel van die Here ‘n boodskap van die Here, of praat of handel namens die Here (Gen 21:17 ev; 22:11 ev; Eks 3:2 ev; Rig 2:1-4; 6:11 ev).

Dit is nie duidelik wat die verhouding tussen die Engel van die Here en die Here self is nie. Soms is daar in ‘n verhaal eenvoudig ‘n oorgang sodat dit die een oomblik nog die Engel van die Here is, en die volgende oomblik die Here self (Gen 16, met die oorgang na die Here by v 13; ook Gen 48:15-16; vgl ook Gen 22:11-12, 15-17). Maar in ander gevalle is daar ‘n duidelike alternatief: óf die Here óf die Engel van die Here (Eks 33:1-3 ev). Die Engel van die Here kan dus ‘n verskyningsvorm van die Here self wees, maar ook sy verteenwoordiger.

Daar is egter nie voldoende grond om aan te neem dat die Engel van die Here die ewige Seun van God is wat later uit Ma­ria gebore is as die baba Jesus nie. Trouens, hoe later in die Ou Testament, hoe minder word na die Engel van die Here verwys.

 

OuteurProf Adrio König