Die Groot Geloofswoordeboek: Ewigheid

Ewigheid – Adrio König

Dit is ’n apokaliptiese begrip (*Apokaliptiek) wat ons ons moeilik kan voorstel omdat dit nie deel van ons ervaringsveld is nie. Ons kan dit wel negatief stel teenoor ons ervaring van eindigheid en tydelikheid wat weldeeglik deel van ons ervaring is. Ons sien mense doodgaan; trouens, omtrent alles om ons vergaan, en ons word self stadigaan oud. Die ewigheid sal dus iets soos die teendeel hiervan wees: om nie oud te word en dood te gaan nie, om nie deur die tyd aangetas te word nie. Baie mense meen dan ook dat die ewigheid die teenoorgestelde van die tyd is. In die ewigheid sou daar geen tyd of tydsbelewing wees nie. En veral omdat ons lees dat God ewig is en in die ewigheid woon, meen ons dat Hy bo en buite die tyd staan. Sommige meen dit beteken byvoorbeeld dat Hy alreeds op die nuwe aarde is en dat Hy alreeds ervaar en geniet dat ons daar saam met Hom is.

Allereers moet ons nie te veel maak van ons negatiewe voor­stellings oor die ewigheid nie. Om te meen dit is tydloosheid sê nog nie wat dit werklik is nie, net wat dit nie is nie. Ons kan ons geen voorstelling maak van tydloosheid nie, net so min as van ruim­teloosheid omdat ons onherroeplik in tyd en ruimte be­staan. En die gedagte dat God bo en buite tyd en ruimte bestaan en daarom geen tydsbelewing het nie, is nie goed gefundeer in getuienis in die Bybel nie. Die Bybel sê dikwels dat God op ’n sekere tydstip nog nie ’n bepaalde ding gedoen of ’n besluit geneem het nie. In die woestyn sê Hy vir Moses: “Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen” (Eks 33:5) en as Hy Jeremia met ’n boodskap na die volk toe stuur, voeg Hy by: “Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer” (Jer 26:3). Hy wag dus self om te sien wat gaan gebeur.

Daar is mense wat oortuig is dit is maar net “menslike” voor­stellings van God om ons in staat te stel om te verstaan. (*Mens­vormige spreke oor God) Maar waar sou hulle die inligting kry om dié duidelike uitsprake só te interpreteer? Waarom kan ons dit nie aanvaar soos dit daar staan nie? Dan beteken dit dat God inderdaad ’n belewing van tyd het. Uit ander Skrifgegewens weet ons natuurlik wel dat sy belewing heeltemal anders is as ons s’n. Ons lees dat “een dag vir Hom soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Pet 3:8).

Dit is dus die minimum wat ons oor die ewigheid behoort te sê: dit is heeltemal anders as die tyd, maar ons weet nie regtig hoe anders nie.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

 

Skrywer: Prof Adrio König