Die Groot Geloofswoordeboek: Gereformeerd en Hervormd

Die Groot Geloofswoordeboek: Gereformeerd en Hervormd

 

 

Gereformeerd • Hervormd

Die woorde “gereformeerd” en “hervormd” kom voor in die name van kerke, soos die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Ge­re­formeerde Kerk, en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. (*Afrikaanse kerke)

Hierdie woorde kom egter ook in ’n algemene betekenis voor, en dan word veral die woord “gereformeerd” gebruik.

“Gereformeerd” word gebruik as ’n versamelnaam vir die nasate van Calvyn sodat daar oor die wêreld heen baie Gere­formeerde Kerke is, soos daar ook Lutherse Kerke is in navolging van Luther se teologie. Daar is ook ’n Wêreldbond van Gere­formeerde Kerke. Ver­der word daar in die algemeen van Gerefor­meerde teologie en Gereformeerde *spiritualiteit gepraat.

Gereformeerde teologie beklemtoon ’n paar sentrale dinge, soos net die Woord (sola scriptura), net Christus (solus Christus), net uit genade (sola gratia), net deur geloof (sola fide). Hierdie beklemtonings het veral in die konfrontasie met die Katolieke teologie van die Middeleeue ontstaan. Terwyl die Katolieke van Skrif én tradisie gepraat het, het die Gereformeerdes gesê: Net die Woord (Skrif, Bybel). Terwyl die Katolieke teologie meer klem gelê het op goeie werke om gered te word, het die Gereformeerdes gesê: Net deur Christus, net uit genade, net deur geloof.

Onder “tradisie” is in hierdie tyd veral verstaan die amptelike leer van die kerk en die oorlewerings van die kerkvaders. Die Ka­tolieke het besondere waarde aan hierdie oorlewerings geheg selfs al was daar nie steun in die Bybel daarvoor nie. Hulle aanvaar by­voorbeeld vandag nog dat Maria sonder sonde gebore is (haar onbevlekte ontvangenis) en dat sy lewendig hemel toe opgevaar het. Hierteenoor het die Protestante in die algemeen en die Gere­formeerdes in besonder “net die Woord” gestel. Dit beteken as hier­die dinge nie in die Bybel geleer word nie, aanvaar ons dit nie as bindend vir ons geloof nie.

Met “net die Woord” het hulle nie bedoel dat net die Bybel vir Christene belangrik is en glad nie die tradisie nie. Hulle het altyd die groot waarde erken van die besluite wat die kerk in die verlede geneem het. Dit is deel van die tradisie. Dink maar aan die Konsilie (sinode) van Nicea (325 nC) waar die kerk besluit het dat Jesus self ook God is net soos die Vader. Dit is vandag deel van ons tradisie, van die oorlewering wat ons van die vroegste eeue kry. Maar ons glo dit word gesteun deur sterk getuienis in die Bybel terwyl daar nêrens in die Bybel sprake is van Maria se onbevlekte ontvangenis en hemelvaart nie. Die Gereformeerdes het met “net die Bybel” dus bedoel dat die kerk niks mag glo en leer wat nie deur die Skrif gesteun word nie.

Net Christus, net uit genade, net deur geloof was die Kerk­hervorming en dus ook die Gereformeerdes se reaksie op die nadruk wat die Katolieke gelê het op die noodsaaklikheid van goeie werke om gered te word. Vandag is daar teoloë wat sê dat dit ’n misverstand was. Maar die Gereformeerdes het gemeen die Katolieke Kerk leer amptelik dat Christus se kruisoffer nie voldoende was om ons te red nie, maar dat ons deur goeie werke ons eie bydrae moet maak. Daarteenoor het die Gereformeerdes gestel dat die kruisoffer van Christus genoeg was vir die sonde van die hele wêreld, dat ons dus net uit genade gered word en net as ons glo (deur geloof).

Hulle het wel ook die noodsaaklikheid van goeie werke be­klemtoon. Calvyn het uitdruklik geleer dat ons nie deur ons goeie werke gered word nie, maar hy het ook geleer dat ons nie sonder goeie werke gered word nie. Daarmee het hy bedoel dat ons goeie werke sal doen as ons gered is. As ons lewe nooit wys dat ons nuwe mense is nie, moet ons twyfel of ons ooit gered is.

Vandag is daar Katolieke teoloë wat meen dat die Katolieke Kerk niks anders as dit bedoel het nie en dat die geskil ’n groot misverstand was.

 

Skrywer: Prof Adrio König