Die Groot Geloofswoordeboek: Liefde

Die Groot Geloofswoordeboek: Liefde

Liefde

(*God)

“Liefde” is een van die kernwoorde van die Bybel, maar miskien juis daarom een van die mees misbruikte woorde. In ons samele­wing word dinge liefde genoem wat eerder onverantwoordelike en ongebreidelde hartstog is.

Jesus som die ganse Ou Testament op in twee gebooie, en albei is liefdesgebooie. Liefde is dus die kern van die Here se wil vir ons lewe. Waarom? Omdat *God self liefde is, en ons as sy *beeld geskape is. As ons sy beeld moet wees of vertoon, moet iets van sy wese, dit is sy liefde, in ons lewe na vore kom. Dit beteken nie dat ons liefde ‘n replika van Syne moet wees nie. Hy is die Skep­per. Ons is maar net skepsels. Hy is oneindig meer as ons. Maar dit beteken wel dat iets van sy liefde in ons sigbaar moet word. Ons praat van ‘n analogie, ‘n gedeeltelike ooreenkoms tussen sy liefde en ons s’n.

Maar dit beteken dat ons eers sal moet vra hoe sy liefde lyk, en dan daaruit aflei hoe ons moet liefhê. Wat verstaan die By­belskrywers onder sy liefde?

 

God se liefde

God se liefde is ‘n onverdiende liefde. Ons het nie verdien om geskape te word om sy vreugde met Hom te deel nie. Ons het nog baie minder verdien om verlos te word. God se liefde is dus ‘n liefde na onder, na sy minderes.

Maar dit beteken nie dat Hy net in die algemeen “na onder” liefhet nie. Sy liefde gaan juis uit na dié van ons wat nog verder agter of “onder” is: die armes, siekes, gebreklikes, verdruktes. Een van sy bekendste Name in die Ou Testament is “die God van die weduwees, weeskinders en vreemdelinge”; dit is die men­se wat geen regte gehad het nie. Hy kies ‘n minderwaardige sla­we­vol­kie wat omtrent geen kultuur gehad het nie en geen rol ge­speel het in hul omgewing nie. Waarom? Vir Israel sê Moses: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet, het Hy jou bevry” (Deut 7:7-8).

Die Here het nie helde nodig nie. Hy is self die held. Hy kan armes help omdat Hy self ryk is.

Daarom is sy liefde vry. Hy het ons nie lief omdat Hy ons nodig het nie. Hy het ons nie lief omdat ons waarde het vir Hom nie. Trouens, Hy het ons lief ondanks die hoë risiko wat Hy met ons loop. Hy het ons lief … net omdat Hy Hy is, net omdat Hy liefde is (1 Joh 4:8, 16). God motiveer self sy liefde vir ons.

God se liefde is ook skeppende liefde. God het ons geskep as sy beeld; dus het Hy ons geskep met die vermoë om te kan liefhê. En al het ons deur ons sonde hierdie vermoë verloor, gee Hy dit aan ons terug. God is self die oorsprong van alle ware liefde. “Liefde kom van God” (1 Joh 4:7) – ook ons liefde. Ons moet dit by Hom kry. “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19). Daarom is liefde deel van die vrug van die Gees. Die Gees stel ons in staat om lief te hê (Gal 5:22-23).

Dit is ‘n paar opmerkings oor sy liefde. En omdat ons sy beeld is, moet sy liefde op een of ander manier in ons na vore kom. Dit beteken nie dat ons liefde identies aan Syne moet wees nie. Dit kan nie. Hy is oneindig meer as ons. Ons is net sy beeld, en ‘n beeld is nie identies aan die een wat afgebeeld word nie.

Kom ons onderskei tussen die liefde tussen Hom en ons, en die liefde tussen ons en ander mense.

 

Liefde tussen Hom en ons

Wat die liefde tussen Hom en ons betref, is daar ‘n groot verskil tussen sy liefde vir ons, en ons liefde vir Hom. Hy motiveer self sy liefde vir ons, maar ons motiveer nie self ons liefde vir Hom nie. Hy het ons nie lief omdat ons soveel werd is vir Hom nie of omdat Hy ons nodig het nie. Maar ons liefde vir Hom is anders. Ons het Hom juis lief oor wie en wat Hy is, oor Hy so wonderlik is. Ons motiveer nie ons liefde vir Hom nie. Hy motiveer dit. Hy motiveer dus sy liefde vir ons én ons liefde vir Hom. Johannes skryf: die liefde is uit God.

 

Liefde tussen mense

En nou ons liefde vir ander mense. As ons dit self moet mo­tiveer, sal dit maar sleg gaan. Ek sal maklik ‘n hele paar “goeie” redes kan uitdink waarom ek nie sekere mense hoef lief te hê nie. Ek sal my­self waarskynlik net sovêr kry om dié lief te hê wat vir my waarde het. En dit sal my liefde iets anders maak as wat dit moet wees.

Maar “die liefde is uit God”. Die Gees gee my die liefde wat ek vir ander moet hê. Dit beteken dat God ook my liefde vir an­der mo­tiveer. Hy motiveer dus alle vorme van liefde, van ware liefde: sy liefde vir ons, ons liefde vir Hom én ons liefde vir ander mense.

Watter ooreenkoms of analogie moet daar dan wees tussen sy liefde vir ons, en ons liefde vir Hom en vir ander? Ons lees im­mers: “Lewe in liefde, soos Christus” (Ef 5:2).

 

Soorte liefde

In Grieks is daar minstens vier verskillende woorde vir liefde: eros, filia, storge, agape.

Eros word meestal in verband met seksuele liefde gebruik, maar dis nie altyd so nie. Dit is ook die liefde vir die eie, die liefde wat tot groot heldedade lei, soos om jou liggaam te gee om verbrand te word (1 Kor 13:3, 1953-vertaling). As dit liefde vir die eie volk is, word dit gewoonlik nasionalisme genoem. Hierdie liefde kan inderdaad ook op ander persone gerig wees, maar die eintlike motief is die voordeel wat die ander vir my kan hê. Ander word nie ter wille van hulleself liefgehê nie, maar ter wille van die waarde wat hulle vir die eie kan hê. Dis ‘n liefde vir ander wat die ander gebruik.

 

Filia is ‘n hoër, edeler vorm van liefde. Dit dui op ‘n warm, intieme verhouding. Dit word soms met “vriendskap” vertaal. Maar dit kan kwyn as die een wat liefhet, nie meer vreugde in die geliefde vind nie.

Storge is familieliefde, die liefde van ouers en kinders, en broers en susters, en ander familie onderling.

Agape is ‘n woord wat selde in die Griekse literatuur gebruik is. Dit is ‘n woord waarop die Christene beslag gelê het en in ‘n unieke betekenis gebruik het. Dit word gebruik vir God se lief­de vir ons, en ons liefde vir Hom en vir mekaar. Dit het ‘n an­der betekenis as byvoorbeeld filia. Dit kom mooi uit in die ge­sprek tussen Jesus en Petrus (Joh 21:15 ev). Jesus vra vir Petrus of hy Hom liefhet (en gebruik die werkwoord vir agape), en Petrus antwoord dat hy wel vir Jesus liefhet (maar gebruik die werk­woord vir filia). Dit gaan in agape dus om ‘n ander soort liefde as filia. Hy erken daarmee dat hy nie die soort liefde het wat Jesus vra nie.

 

Liefde: omgee, offer

Anders as in die geval van die ander vorme van liefde gaan dit in die liefde wat agape genoem word om die ander persoon. Jy het die ander persoon lief ter wille van die voordeel van die ander een, en ongeag die nadeel vir jou. Dit maak nie saak wie of wat die ander een is nie. Dit maak ook nie saak hoe die ander een op jou liefde reageer nie. Dit is hoe God liefhet. Hy laat reën op regverdiges én onregverdiges, op goeies én slegtes (Matt 5:43 ev). Ons moet ons vyande liefhê soos Hy ons liefgehad het toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8 ev). Jy het dus nie die ander een lief ter wille van die waarde wat die ander een vir jou het nie, maar ongeag die hou­ding of gesindheid van die ander een. Daar word gesê dat God waarde­blind is en dat ons dit ook moet wees. Hy motiveer immers sy liefde vir ons, en net so motiveer Hy ook ons liefde vir ander. Dié wat ons moet liefhê, hoef nie ons liefde werd te wees nie. Ons was ook nie God se liefde werd nie.

Maar daar is ‘n ander sin waarin die een wat ons moet liefhê, inderdaad tel. God het nie net in die algemeen alle mense lief nie. Hy “trek sekeres voor”. Hy is mos die God van die on­belangrike vol­kie Israel. Hy is die God van die weduwees, wees­kinders en vreem­de­linge, dié wat verwaarloos is in Israel. Jesus eet saam met die tollenaars en sondaars, dié wat nie in tel was nie. Hy werk in Galilea waar “niks aangegaan het” nie. Hy kies vissers en tollenaars as sy dissipels, mense wat op geen manier getel het in die godsdienstige lewe van Israel nie.

“Lewe in liefde, soos Christus” (Ef 5:2). Ons moet uitsoekerig wees in ons liefde, die onbelangrikes, dié wat niks het nie, in nood is, onaanvaarbaar en selfs aanstootlik is.

En liefhê beteken: bereidheid om te offer wat nodig is. Dit is wat God in Jesus gedoen het. Hy het nie gevra watter voordeel dit vir Hom sou inhou nie, maar wat ons nodig gehad het. Hy het nie ge­wag tot ons Hom vra of tot ons ons bekeer nie, Hy het geoffer wat ons nodig gehad het toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8 ev).

Natuurlik vra liefde ‘n antwoord: wederliefde. Natuurlik vra God dit van ons, en vra ons dit van ander. Maar liefde wag nie tot jy seker is jy gaan ‘n antwoord kry nie.

Dit alles maak *selfliefde in sy wese sonde.

 

Skrywer: Prof Adrio König