Die Groot Geloofswoordeboek: Messias, Christus, Gesalfde

Die Groot Geloofswoordeboek: Messias, Christus, Gesalfde

Messias/Christus/Gesalfde

  • Seun/Nasaat van Dawid Messiaanse profesieë Seun van God

Die Afrikaanse woord “Gesalfde” is ‘n vertaling van die woord “Mes­sias”, en die Griekse woord “Christus”. Die gedagte van ‘n ge­salf­de kom van die ge­bruik in die Ou Testament om sekere mense te salf as hulle in ‘n besondere diens van God gestel word. Ons lees dik­wels van iemand wat gesalf is om koning te word, maar ook van profete wat gesalf is (1 Kon 19:15-16). ‘n Persoon wat gesalf is, sou dan ‘n gesalfde of ‘n “Mes­sias” genoem kon word. Ons lees selfs dat die Here vir Kores, ‘n heidense koning, sy gesalfde (“Messias”) noem (Jes 45:1). Dit het daar­mee te doen gehad dat hy in diens van die Here was, al het hy dit nie self geweet nie, om die volk uit bal­ling­skap na Jerusalem te laat terugkeer.

 

  • Seun/Nasaat van Dawid

Gaandeweg word daar besondere nadruk gelê op ‘n be­paalde nasaat (“seun”) van Dawid wat dié Messias sal wees, dié Gesalfde in diens van die Here. Anders as wat baie mense meen, is die verwagting van hierdie Messias nie baie vroeg reeds in die Ou Testament aanwe­sig nie. Dit kon eintlik nie voor Dawid se tyd nie omdat die Messias ‘n nakomeling van Dawid sou wees. Die sogenaamde *Moederbelofte (Gen 3:15) verwys nog nie na die Messias wat sou kom nie. Die dui­delikste Messiaanse be­lof­tes kry ons eers taamlik laat, soos Jesaja 9:1-6; 11:1-10.

In die Nuwe Testament is dit duidelik dat die Joodse leiers en selfs Jesus se dissipels ‘n politieke Messias verwag het. Direk nadat Petrus bely het dat Jesus die Messias (Christus) is, gaan hy Jesus sterk teë as Hy vertel hoe Hy in Jerusalem verwerp en doodgemaak gaan word (Matt 16:13-23). Petrus kan glad nie verstaan hoe die Messias wat Israel van sy (Romeinse) vyande moet kom verlos, verwerp en doodgemaak kan word nie.

Kort daarna vra Johannes en Jakobus of hulle die uitsoekpo­s­te in Jesus se komende regering kan kry, en die ander dissipels is kwaad vir hulle (Mark 10:35-45). En selfs na Jesus se opstan­ding vra hulle weer of Hy nou die koninkryk van Israel gaan herstel (Hand 1:6).

Waar kom hierdie gedagte vandaan? Meestal dink ons hulle was verkeerd. Hoe kon hulle ‘n politieke Messias verwag? Jesus kom ons mos van ons sonde verlos. (*Betroubaarheid van die Bybel)

 

  • Messiaanse profesieë

Hulle het hierdie verwagting di­rek uit die Ou Testament gekry. Da­wid was ‘n koning wat oor Israel regeer het en Israel van baie vyande bevry het. Die Mes­sias sou ‘n nasaat (seun) van Dawid wees en hy sou die volk opnuut van hul vyande bevry en die heerlikheid herstel wat hulle onder Dawid geniet het. Hiervan getuig die Mes­siaanse profesieë. Jesaja 9:5 en 6 is die einde van ‘n profesie wat lui dat die Here die vernedering van die noorde (Sebulon en Naftali) sal verander (8:23-9:4). Direk daarna volg die Messiaanse profesie in sterk politieke terme: Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring, en sy heerskappy sal uitbrei.

Die profesie in Jesaja 11 verwys net so duidelik na ‘n politieke figuur, ‘n koning wat regeer. Hy sal aan die armes reg laat geskied, maar die goddeloses oordeel. Hy sal regverdig en betroubaar re­geer. Die Gees van die Here sal Hom ook die eienskappe gee wat ‘n koning nodig het.

Daar is dus niks vreemds daaraan dat Jesus se tydgenote ‘n politieke Messias verwag het nie. Dit is presies wat die profesieë in die vooruitsig gestel het. Jesus het egter hierdie Messiaanse pro­fesieë op ‘n verrassen­­de manier vervul. Hy het die Messias met die dienaar verbind (Jes 53). Die dienaar is verwerp en verag, hy was ‘n man van smarte, hy het ander se sonde op hom geneem. Jesus het hierdie twee rolle verbind en die dienende Messias geword. Maar dit kon selfs sy dissipels glad nie hanteer nie. Nadat Petrus Hom as Messias (Christus) bely het, kon hy glad nie begryp hoe dit moont­lik is dat Hy sou ly en verwerp word nie (Matt 16:13-23).

Dit is die rede waarom Jesus nie wou hê sy dissipels, en selfs die skare en die duiwels, moes sy Messiasskap bekend maak nie (Matt 16:20; Mark 3:11-12). Dit sou net die misverstand vererger. En dit is ook waarom Hy telkens oorskakel van Messias na Seun van die mens (Mark 8:29-31; Matt 26:63-64).

Dit beteken dat ons selfs vandag nog saam met die Jode die Messias verwag wat in heerlikheid sal kom. Ons verwag dit by sy we­derkoms (Fil 2:9-11).

 

• Seun van God

In die Nuwe Testament word dikwels na Jesus verwys as die Seun van God. Anders as wat ons gewoonlik dink, verwys dit meestal na Hom as ‘n mens, en nie as ‘n Goddelike wese nie. En dit hou verband met die feit dat Hy die Messias is.

In die Ou Testament is die koning “die seun van God” genoem (Ps 2:7). Dit is gedoen omdat hy die koning was van Israel wat self “die seun van God” genoem is (Hos 11:1). Omdat die Messias die seun/nasaat van Dawid was, is daar dus ook na Hom as die Seun van God verwys. Messias (Christus), Seun van Dawid, Seun van God het dus al drie dieselfde betekenis. Dit verklaar waarom Jesus dikwels direk na mekaar “Christus” en “Seun van God” genoem word (Matt 16:16; 26:63; Mark 14:61; Joh 11:27; 20:31; vgl ook Luk 1:32).

Maar veral in die Evangelie van Johannes het “Seun van God” (*Drie-eenheid) soms die betekenis van ‘n Goddelike wese (Joh 5:18-23; 10:36). Dit is deel van die getuienis op grond waarvan ons aanvaar dat Jesus op een of ander manier self ook God is. (*Drie-eenheid)

 

Skrywer: Prof Adrio König