Die Groot Geloofswoordeboek: Opstanding

Die Groot Geloofswoordeboek: Opstanding

Opstanding

  • Jesus se opstanding Algemene opstanding Opstandingsliggaam Verheerliking
  • Jesus se opstanding

Daar is ‘n sin waarin die opstanding van Jesus die belangrikste element van die evangelie is. Dit is net van Jesus se opstanding dat Paulus sê ons kan maar die kerkdeure toemaak as Hy nie opgestaan het nie (1 Kor 15:12 ev). En daar is geen manier om sy opstanding te vergeestelik asof Hy net in ons harte opgestaan het terwyl Hy nooit regtig uit die graf gekom het nie. (*”Nuwe Hervormers”, *Leë graf) Die Jode van die tyd van Jesus het te fisiek oor ‘n mens gedink om enigsins van opstanding te kon praat terwyl sy liggaam nog in die graf is.

Dit is dan ook nie vreemd dat die apostels ‘n hele paar bete­kenisse aan die opstanding van Jesus geheg het nie. Sy opstan­ding was:

 

1.            die begin van die eindopstanding

2.            die oorwinning oor die dood

3.            die oorwinning oor die bose magte

4.            die bevestiging van die betekenis van sy kruis

5.            deur sy opstanding kan ons nou reeds die sonde oorwin

 

Wat ‘n rykdom aan betekenis!

 

Die eindopstanding het al begin

Jesus se opstanding en ons opstanding by sy wederkoms is nie twee gebeurtenisse wat los staan van mekaar nie. Sy opstanding was die begin van hierdie algemene eindopstanding aan die einde van die tyd. Jesus het wel die opstanding verkondig ge­du­rende sy aardse bediening, maar dit was nie iets nuuts nie. Die meeste groepe on­der die Jode het alreeds geglo dat daar ‘n eindopstanding kom. Ons kry dit duidelik in die boek Daniël (12:2). (Dit is terloops die enigste duidelike verwysing na die opstanding in die Ou Testament. Die ander kan metafore wees van die herlewing van Israel by die terug­tog uit ballingskap.)

Jesus het dus nie iets nuuts verkondig met sy boodskap oor die opstanding nie. Wat nuut was, radikaal nuut, is dat Hy opgestaan het. Dit was die ingrypendste wending in die geskiedenis sedert die skepping. Daar is immers net een opstanding aan die einde. Maar Jesus het opgestaan – dan het die eindopstanding begin! Dit is die eerste betekenis van sy opstanding: Hy het die einde in­ge­lui. (*Wederkoms, *Tekens van die tye)

Anders as die Fariseërs het die Sadduseërs glad nie geglo dat daar ‘n opstanding sal wees nie. (*Pentateug) Daarom is hul­le woe­dend (die 1983-vertaling se “onthuts” mis die punt heel­te­mal) oor wat die apostels verkondig het: Jesus het opge­staan en daarmee het die eind­opstanding begin (Hand 4:2). Vir die Sad­du­seërs was dit een te veel. Hulle glo glad nie daar sal ‘n opstanding wees nie, en nou verkondig die dissipels dit het al begin!

Daar is meer getuienis hiervoor in die Nuwe Testament. Ro­meine 1:4 behoort te lees dat Jesus “op grond van die opstanding van die dooies (en nie “op grond van sy opstanding uit die dood” nie) aangewys is as die Seun van God”. En in 1 Korintiërs 15 is Paulus se hele argument dat dit sinloos is om te bely dat Jesus opgestaan het as die dooies nie opstaan nie. Jesus se opstanding is dus onlosmaaklik gekoppel aan die algemene opstanding. As daar nie ‘n algemene opstanding is nie, kon Hy nie opgestaan het nie, want sy opstanding is die begin van die algemene op­standing.

Dit is inderdaad die ingrypendste van al die betekenisse van Jesus se opstanding. Dit beteken dat die ou wêreld eintlik verby is en ons klaar met die een voet op die nuwe aarde staan. Dit is die betekenis van tekste soos 2 Korintiërs 5:17, wat eintlik moet lui: “Iemand wat met Christus verenig is, het deel aan ‘n nuwe skepping.”

 

Die mag van die dood is gebreek

Die tweede betekenis is dat Hy die mag van die dood gebreek het. Dit is opvallend dat die dissipels aan die begin die opstan­ding preek en nie die kruis nie. In al Petrus se preke in Hande­linge verwys hy na die kruisiging as ‘n skanddaad van die Jode, maar die opstanding is die ingryping van God waarvan die apostels getuies is (Hand 2:23 ev; 3:15; 4:10; 5:30 ev). Selfs wanneer hy sondevergifnis aan­bied, verwys hy nie na die kruis nie (Hand 3:19; 5:31). Eers baie later sal Paulus die waarde van die kruis as versoening vir ons sonde begin verkondig (Gal 1:4). (*Kruis)

Waarom begin die evangelie as opstandingsevanglie en nie as kruisevangelie nie? Omdat die nood in die Ou Testament nie *sonde was nie, maar die *dood. Vir sonde was daar voorsiening, die offers en sondebelydenis (2 Sam 12), maar die dood was ‘n vreeslike be­dreiging. Dit het hulle gemeenskap met God beëin­dig. (*Dood)

En nou staan Jesus uit die dood op. Dit beteken Hy is sterker as die dood, Hy het die dood doodgemaak. Gelowiges hoef nie meer die dood te vrees nie. Teenoor Psalm 88:6 staan nou Filip­pen­se 1:21-23; teenoor die dooies “aan wie U nie meer dink nie, en van wie U u hand teruggetrek het”, staan nou: “Ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees.”

 

Die bose magte is oorwin

Die derde betekenis van Jesus se opstanding hou met die twee­de verband: Hy het die bose magte oorwin. Die dood is ook ‘n mag. En as hierdie een oorwin is, is die ander ook. Die bose magte is ont­wapen, in die openbaar tot spot gemaak, en meegevoer in die triomftog van Christus (Kol 2:15). (*Bose magte)

 

Bevestiging van die betekenis van die kruis

Die vierde betekenis is dat Jesus se opstanding eintlik ‘n daad van sy Vader was. Sy Vader het Hom opgewek (Kol 2:12). Die Vader het Hom opgewek as getuienis dat Hy sy offer aanvaar het en dat ons deur die geloof in Hom vrygespreek word (Rom 4:25). Die kruis van Jesus sou geen heilswaarde gehad het as Hy nie opgewek is deur die Vader nie.

 

Ons nuwe lewe

Die vyfde betekenis van die opstanding van Jesus is dat ons deur die doop met Hom verenig word sodat ons in sy verheerlik­te op­standingslewe kan deel (Rom 6; Kol 2-3). Dit beteken dat ons nie langer slawe van die sondemag hoef te wees nie, maar ons lewe volkome aan God kan wy juis omdat ons aan Jesus se nuwe lewe deel het. (*Perfeksionisme, *Vereniging met Christus, *Doop)

Dit is volkome duidelik waarom Paulus geskryf het dat ons die hele evangelie verloor as ons die opstanding van Jesus verwerp. Ons verloor selfs die betekenis van die kruis.

 

  • Algemene opstanding

Heelwat oor die algemene eindop­standing is nou reeds inge­sluit onder Jesus se opstanding omdat sy opstanding die eind­op­stan­ding ingelui het. Die verwagting van ‘n algemene opstan­ding het eers baie laat in die Ou Testament na vore gekom. Dit is deel van die apokaliptiese wêreld­beeld (*Apokaliptiek) wat eers ná die bal­ling­skap ontwikkel het. Vroeër in die Ou Testament het gelowiges geen positiewe verwag­ting gehad van die *dood en daarna nie. Die dood was vir hulle ‘n skrikwekkende bedrei­ging omdat hulle geglo het dit is die einde van hulle gemeenskap met God.

Die probleem waarmee hulle geworstel het, het voortgespruit uit hulle siening van *heil. Heil was nie iets toekomstigs nie. Dit was die seënende gemeenskap met God in hierdie lewe, en vrede en voor­spoed was wesenlik deel daarvan.

Dit het egter beteken dat ‘n vroeë dood vir hulle die einde van hulle heilservaring was. En dis juis in hierdie nood waarin die opstanding uit die dood voorsien het. Daarom begin die evan­gelie as opstandingsevangelie. God antwoord op die diepste nood van sy kinders.

Eers gaandeweg het Paulus die heilsbetekenis van die *kruis na vore gebring. Ons kry dit die eerste keer in een van sy vroegste briewe, Galasiërs 1:4, maar daarna kom dit oor en oor voor.

 

  • Opstandingsliggaam (*Mens, *Onsterflike siel)

Dit is ‘n woord wat maklik misverstand kan verwek, veral by mense wat meen ‘n mens bestaan uit twee dele waarvan dan net die een deel, die liggaam, begrawe word. By die opstanding moet daar dan met hierdie deel iets gebeur. Dit moet weer lewend gemaak en verheerlik word en dan met die ander deel herenig word. En eers dan het ons die verheerlikte mens. (*Onsterflike siel)

Skynbaar het Paulus anders daaroor gedink. As net die lig­gaam gesterf het en begrawe is, sou hy nie die hele evangelie van die opstanding afhanklik gemaak het nie (1 Kor 15:12 ev). Hy sou dan op die meeste kon skryf dat dit baie jammer sou wees as die lig­gaam nie ook in die heerlikheid sal deel nie, maar dat die ander deel wat nie dood is nie, die gees, of die siel, darem gelukkig by die Here is, en dat dit darem ook die belangrikste deel van die mens is sodat ons nie te sleg sou moes voel as daar nie ‘n opstanding was nie.

Maar dit is nie hoe Paulus daaroor dink nie. By hom is dit op­standing of niks. Waarom? ‘n Mens moet mooi kyk na wat hy skryf. Ons lees: “Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?” (1 Kor 15:35). Die tweede sin is ‘n herhaling van die eerste sin, net in ander woorde. In die eerste sin gaan dit om die dooie mens wat opstaan, nie iets, ‘n deel, van die mens nie. En hy herhaal dit later: “So is dit met die opstanding van die dooies” (15:42).

Kan “die liggaam” in die tweede sin ook na die hele mens ver­wys? Natuurlik. Dis soos dit ook elders gebeur. (*Mens) In Romeine 12:1 lees ons in die Grieks dat ons ons liggame (somata) as ‘n lewende, heilige offer aan God moet wy. Paulus bedoel tog nie daar­mee dat ons net ‘n deel van ons aan God moet wy en nie die ander deel of dele ook nie. Die “liggaam” staan hier vir ons hele menswees vanuit die oogpunt van ons daaglikse lewe. In ons elke­dag­se lewe moet ons volkome aan God gewy leef. As hy dan vra hoe staan die mens op en herhaal: “Met watter soort liggaam?” bete­ken “liggaam” die mens self, en sou ons kon vertaal: Watse soort mens­wees sal ons hê? Die antwoord is: ‘n verheerlikte liggaam wat beteken ‘n verheerlikte menswees. Ons sal verheerlik word, nie iets van ons nie. (*Opstanding van die vlees)

 

  • Verheerliking

Wat beteken ‘n verheerlikte menswees? Pau­lus verduidelik iets daarvan in 1 Korintiërs 15:55. Hy vergelyk die verandering wat ons by die opstanding sal beleef met ander veranderings in die natuur. Ons verheerlikte lewe sal heeltemal anders wees as ons huidige lewe: ‘n koringplant lyk heeltemal anders as ‘n ko­ring­korrel. Nou is ons verganklik, maar ons sal onverganklik opgewek word; nou gering, maar dan verheerlik; nou swak, maar dan in krag; nou natuurlik, maar dan geestelik; nou ‘n stoflike mens, maar dan ‘n hemelse mens; nou ‘n sterflike mens, dan onsterflik.

Die kontras verganklik-onverganklik oorheers hierdie ver­dui­­de­liking (15:42, 50, 52, 53, 54). En dit is ook die agtergrond van die uitspraak: “Vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie” (15:50). Soos ons nou is, kan ons nie aan die konink­ryk deel kry nie. Maar ons gaan verander word, verheerlik word. Presies hoe? Selfs na­dat Paulus baie sinne daaroor geskryf het, is alles nog nie eens naastenby duidelik nie. Waarom nie? Omdat dit om ‘n ander soort werklikheid gaan as dit wat ons ken. Paulus wou maar net ‘n paar buitelyne trek. Die skildery sal eers dán voltooi word. En ons gaan ‘n paar verrassings kry. (*Apokaliptiek, *Vervulling van profesieë)

 

Skrywer: Prof Adrio König