Die Groot Geloofswoordeboek: Panteïsme en Panenteïsme

Die Groot Geloofswoordeboek: Panteïsme en Panenteïsme

Panteïsme

Dit kom van twee Griekse woorde: pas (alles), theos (God). Dit is die gedagte dat alles eintlik God is en God alles. God en die heelal is identies. Daar is godsdienste soos die Hindoeïsme wat sterk hieroor voel. Die Judaïsme, die Christelike godsdiens en die Islam maak egter ‘n duidelike onderskeid tussen God en die werklikheid. Net God is God en Goddelik. Alle ander dinge is sy skepsels.

Panenteïsme

Panenteïsme kom van drie Griekse woorde af: pas (alles), en (in), theos (God). Dit is die oortuiging dat God se wese die heel­al insluit en deurdring. Alles is in God, en God is in alles, maar anders as Panteïsme, meen hulle dat God ook meer is as die werklikheid.

Beide oortuigings lei daartoe dat God nie meer regtig teenoor die werklikheid staan nie. Daar vind ‘n vermenging van God en werk­likheid plaas, wat uiteindelik neerkom op ‘n miskenning van die onafhanklikheid en verhewenheid van God, en ‘n ver­god­deliking van die werklikheid.

 

Skrywer: Prof Adrio König