1

Die Groot Geloofswoordeboek: Vervulling met die Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Vervulling met die Gees

Vervulling met die Gees In Christus Algehele oorgawe Tweede genadewerk

(*Doop met die Heilige Gees)

Ons lees omtrent ses keer van die vervulling met die Heilige Gees. Dit staan teenoor die *doop met die Heilige Gees wat na die Pink­stergebeure verwys en onherhaalbaar is. Die vervulling met die Gees is duidelik herhaalbaar en selfs ‘n staande opdrag aan die gemeen­te (Hand 2:4; 4:8, 31; 9:17; 13:9; Ef 5:18). Petrus wat op Pinkster­dag met die Gees vervul is, tree later weer vol van die Gees op (Hand 4:8), maar kort daarna word hy weer saam met die gemeente met die Gees vervul (Hand 4:31). Dit lyk half in Handelinge of dit by besondere geleenthede gebeur. Dit gebeur tydens die uitstorting van die Gees, en dan weer wanneer Petrus die eerste keer voor die vyandige Joodse Raad moet staan, dan weer direk ná die verbod van die Raad om in die Naam van Jesus iets te doen.

Dit lyk of dit elke keer gaan om krag tot getuienis – presies wat sekere Christene sien as die betekenis van die vervulling.

Die enigste verwysing buite Handelinge is Efesiërs 5:18 wat nie soos in Handelinge deel van ‘n verhaal is nie, maar ‘n bevel: “Word met die Gees vervul.” Die samestelling van hierdie sin is interessant. Hierdie bevel word in die Grieks gevolg deur vier deelwoorde (participia), dit beteken werkwoordsvorme wat afhanklik is van die hoofwerkwoord: Word met die Gees vervul. Die vervulling met die Gees sal dus uitloop op, en moet blyk uit, die dinge wat daarop volg:

•             sing vir mekaar

•             sing vir God

•             dank God

•             wees aan mekaar onderdanig

Hier gaan dit nie soseer om krag tot getuienis nie, maar eerder om ‘n besondere lewenstyl.

Dit is opvallend wat hier uit ons gewone lewe uitgelig word as tekens/uitvloeisels van die vervulling. Ons sang, ons gebed en ons huwelik. Sang is besonder belangrik in die geloofsgemeenskap se lewe. Die liedereboek is nie verniet die langste boek in die Bybel nie! Dit is ook belangrik dat hier twee opmerkings oor sang ge­maak word terwyl daar in die geheel maar drie dinge genoem word. Sang is baie belangrik in die lewe van die ge­loofs­gemeenskap. ‘n Mens hoor maklik aan die sang van ‘n groep mense hoe vol hulle van die Gees is.

Dit is net so belangrik dat dit eers om ons sang vir mekaar gaan, en dan om ons sang voor God. “Sing onder mekaar” beteken iets soos inspireer mekaar deur julle sang. En geesgevulde sang kan inspireer. Eers dan kom ons “sang met ons hele hart tot eer van God” ter sprake, want dis net as ons mekaar met ons sang geïnspireer het dat ons werklik tot eer van God kan sing. Dooie­rige, belangelose sang is ‘n belediging vir die Here.

Wat verder merkwaardig is, is dat Paulus daarna verreweg die grootste deel van sy behandeling van die vervulling met die Gees aan die huwelik bestee. Miskien is dit die verhouding waar­in ‘n mens se geestelike ligging die maklikste en duidelikste uit­kom. Ons ken die uitdrukking: “A street angel and a house devil.”

Efesiërs 5 is die enigste plek waar die woor­de “vervulling met die Gees” buite Handelinge voorkom. ‘n Mens kan daaruit aflei dat dit nie regtig so belangrik is nie. Dit is egter ‘n groot fout. Daar is verwante uitdrukkings elders in Pau­lus se briewe wat die bete­kenis baie ryk toelig. Veral in Romeine en Galasiërs kry ons ‘n verskeidenheid perspektiewe.

In Galasiërs 5 is daar ‘n hele paar uitdrukkings:

•             Om deur die Gees van God beheers te word (v 16).

•             Om ons deur die Gees te laat lei (v 18).

•             Om die Gees ons gedrag te laat bepaal (v 25).

Hierdie uitdrukkings kom voor in die verband waar die *vrug van die Gees bespreek word. En daar is geen konkreter be­skry­wing van ‘n Geesvervulde lewe as hierdie vrug nie.

Dis opvallend hoe belangrik verhoudings in hierdie verband is. Teenoor die vrug van die Gees staan die sondige lewe (5:19-21). En die lys sondes wat daar voorkom, het almal met slegte ver­houdings te doen. In die direkte verband gaan dit om ge­meentelede wat mekaar wil “byt en verskeur” (5:15). En die peri­koop eindig met die vermaning teen verwaandheid, afguns en uittarting, alles dinge wat verhoudings versuur. Die lys sondes (5:19-21) is almal vernietigend vir goeie verhoudings.

Daarteenoor is die vrug van die Gees ‘n wenresep vir goeie ver­houdings. Wat maak ‘n mens meer tuis by mense as om lief­de, ge­­duld en vriendelikheid te beleef? Wat skep meer ver­troue as ne­de­righeid en selfbeheersing? Wat laat ‘n mens makli­ker uitreik na iemand anders as juis sy of haar getrouheid (betrou­baarheid)?

Maar is hierdie kenmerke nie presies die lewe van Jesus nie? Sou ons nie een vir een van hierdie deugde net so in sy aardse be­die­ning kom identifiseer nie?

Dit beteken dat die vervulling of beheer van die Gees en die heer­skappy van Jesus dieselfde saak is. Trouens, hierdie verband tussen Christus en die Gees kry ons ook elders. Die Gees word die Gees van Christus genoem, Christus ontvang die Gees van die Vader en stuur Hom na ons, die Gees kom om Christus te verheerlik, Christus kom self in die Gees na ons toe (Joh 14:23; Rom 8:9; 16:7, 14).

 

In Christus

En bring dit ons nie by ‘n ander reeks uitsprake van Paulus nie, dié oor Christus in ons en ons in Hom?

Daar is ‘n hele reeks uitsprake oor Christus in ons en ons in Hom. Volgens Paulus kry ons deur die *doop en die *geloof deel aan die dood en die *opstanding van Jesus. Dit beteken dat ons in ‘n sin nie meer leef nie en in ‘n ander sin nou juis ‘n nuwe lewe het. “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God” (Gal 2:19-20). Elders lees ons van “Christus wat julle lewe is” (Kol 3:4).

Onder *heiliging en *perfeksionisme is verwys na die vreugde hiervan, die nuwe lewe, ons aandeel aan ‘n oorwinningslewe, selfs die gedagte van perfeksionisme. Maar dit alles is nie iets bui­ten­gewoons nie, dit is nie net ‘n paar besondere Christene wat met groot selfverloëning en opoffering so ver kom dat hulle lewe volkome onder sy beheer staan nie. Hy is die Here. As ons aan sy lewe deel kry, is dit die lewe van Iemand wat alle mag in die hemel en op aarde het, Iemand wat die dood oorwin het, Iemand voor wie die bose magte gevlug het, Iemand in wie die volheid van God beliggaam is, wat dit ook al beteken (Kol 2:9). Dít is die lewe waaraan ons deel het. Dit maak volheid, krag en oorwinning deel van die normale Christelike lewe.

Ons moet dus ophou om die vervulling met die Gees, die vol­heid in Christus, die oorwinning oor sonde en krag tot getuienis as buitengewone ervarings te sien wat net vir uitsonderlike Chris­te­ne beskore is. Wie Jesus Christus as Verlosser ken, ken Hom ook as Here, kan uit sy volheid lewe en het aan sy oorwinningslewe deel. Dit is nie net onnodig nie, dit is abnormaal om eers suk­kel-sukkel as Christen te lewe en dan ‘n spesiale ervaring te soek om krag of “heiligmaking” of volle oorgawe te kry. Natuurlik het baie Chris­tene dit nodig, maar net omdat hulle die Here nie van die begin af ernstig geneem het nie. Wie in Jesus Christus glo, het die Gees in sy volheid ontvang. Natuurlik kos dit ‘n leeftyd om uit sy volheid te leer leef. En in die proses kan daar baie en wonderlike en diep ervarings wees. Maar hierdie ervarings kan ons nie sistematiseer en indeel nie. Daar is nie ná ons oorgawe aan die Here spesifiek ‘n bepaalde tweede ervaring nodig (*Doop met die Gees of vervulling met die Gees) waarna alles dan eers kan regkom nie. Baie ervarings is nodig, maar dit verskil van mens tot mens en dit het nie tegniese name wat hulle van ander ervarings onderskei nie.

 

Skrywer : Prof Adrio König