Die Groot Geloofswoordeboek: Wederkoms van Christus

Die Groot Geloofswoordeboek: Wederkoms van Christus

Wederkoms van Christus

(*Eindtyd, *Laaste dae, *Tekens van die tye, *Antichris, *Jode, *Hei­densending, *Vertraging van die Weder­koms)

Die wederkoms van Christus is wesenlik vir ons geloof, maar is nie voorstelbaar nie. Dis wesenlik vir ons geloof omdat dit in terme van die Christelike geloof nie moontlik is dat alles enduit op aarde so kan voortgaan soos nou nie. Die onreg, smart en ellende kan nie gerym word met die heilsbeloftes van die Bybel nie. God het meer beloof en Christus het meer verdien as wat ons tans op aarde beleef.

En tog kan ons ons nie die wederkoms voorstel nie. Ons moet nie eens probeer nie. Die profesieë oor sy koms was nooit be­doel om ’n soort vooruitgeskrewe geskiedenis te wees nie. (*Vervulling van profesieë) Dit is deel van die *apokaliptiek wat ’n wêreldbeeld veronderstel wat ons nie meer deel nie, en wat boonop ’n werklik­heid probeer beskryf wat nie deel van die skry­wers se ervaring was nie en daarom in boaardse, onwerkli­ke beelde gedoen is. Die profesieë wat reeds volgens die Bybel vervul is, soos die profesie van die uitstorting van die Gees, is so vry en verrassend vervul dat ’n mens nie vooraf ’n voorstelling kan vorm van hoe die vervulling van ’n profesie lyk nie.

Daarom is voorstellings van die wederkoms wat op allerlei detail ingaan onvanpas. ’n Mens kry byvoorbeeld die gedagte dat die wederkoms eintlik nou eers kan plaasvind omdat ons TV het. Dat “al die volke van die aarde” (Matt 24:30) Hom sal sien, was nooit moontlik nie omdat die aarde rond is. Maar op TV kan die hele wêreld Hom gelyk sien; daarom kon Hy nog nooit tevore gekom het nie.

Daar is sienings van die wederkoms en die gebeurtenisse wat daarmee gepaardgaan, wat baie ingewikkeld is. (*Chiliasme) Daar is egter ook heel eenvoudige sienings soos die gangbare Gere­formeerde beskouing waarvolgens ons net vier gebeurtenisse ver­wag:

• die wederkoms van Christus

• die opstanding

• die oordeel

• die nuwe aarde

Omdat die wederkoms alreeds in die tyd van die Nuwe Tes­tament naby was (*Eindtyd), verwag ons nie die vervulling van nuwe *tekens van die tye wat nog nooit tevore vervul is nie. Tekens wat ons nou sien, is tekens wat al herhaaldelik deur die eeue vervul is as staande herinnering dat die wederkoms altyd naby is, dat die Here enige oomblik kan kom.

Volgens hierdie siening is daar niks spesifieks wat nog moet gebeur voor die Here kom nie. ’n Mens kan dit ook as kon­trolepunt stel: as iemand nog dinge verwag wat eers na ’n be­paalde tydperk moet gebeur, kan dit beswaarlik inpas by die dringende oproepe van die Nuwe Testament om elke oomblik gereed te wees omdat die Here se koms “voor die deur” is (Jak 5:9).

 

Skrywer: Prof Adrio König