Die groot Opdrag: Verpligting en gawe

How sweet is rest after fatigue! How sweet will heaven be when our journey is ended. —George Whitefield

Die groot Opdrag: Verpligting en gawe

In Lukas 24 lees ons van Jesus se laaste gesprek met sy dissipels. Daarin sê Hy onder andere vir hulle: In sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem en verder. Maar Lukas voeg dan by: En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is. Jesus sê nie gaan en vertel nie, maar gaan en wag.

Hiermee beklemtoon Hy die rol wat die Heilige Gees speel om die dissipels te bemagtig om te gaan en te doen wat Jesus Hulle beveel het.

Wat gebeur as ons dit nie so sien nie?

  • Ons dink dat Christene meer in hulle eie krag kan doen as wat die geval is.
  • Ons onderskat die rol wat die Heilige Gees speel in die uitdra van die evangelie na die nasies.

Jesus gee aan ons ‘n besliste opdrag om sy woord te verkondig en oor Hom te getuig. Hy gee aan sy dissipels die naam van getuies: Julle is getuies van hierdie dinge. Maar om hierdie take uit te voer het hulle krag nodig – krag wat van die Heilige Gees kom. Die verpligting om te getuig kom met ‘n gawe – die Heilige Gees.

Kerkleiers  sien die groei van die kerk in terme van strategieë en metodes. Natuurlik is dit belangrik, maar ons mag nooit vergeet dat ons nie op planne nie, maar op ‘n Persoon moet vertrou. Jesus beveel sy dissipels om na Jerusalem toe te gaan en daar te wag op die uitstorting van die Heilige Gees. Sonder die Heilige Gees kan die dissipels nie die opdrag wat Jesus aan hulle gegee het, uitvoer nie.

Dit word gesê dat mense die seile span, maar dat God die wind stuur. Ons mag nooit vergeet dat ons nooit God se opdragte kan uitvoer sonder die krag wat Hy vir ons stuur nie. Onthou: ‘n opdrag en ‘n gawe.