Die grootste van alle Protestantse dwaalleringe?

Die grootste van alle Protestantse dwaalleringe?

Kardinaal Robert Bellarmine (1542 – 1621) was die pous se persoonlike teoloog. Hy vra: Wat is die grootste van alle Protestantse dwaalleringe? Sy antwoord sal ons verbaas: versekering. As vryspraak nie deur geloof alleen, in Christus alleen, deur genade alleen verkry word nie, beteken dit dat iets altyd bygevoeg moet word om vryspraak te verkry. As vryspraak afhanklik is van iets wat ons moet doen, kan ons nooit verseker wees van ons verlossing nie. Volle versekering is slegs moontlik as Christus alles reeds gedoen het.

 

In Hebreërs 10 lees ons: Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie. Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom (vers 18 en 19). Hy vervolg in vers 22: Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid.

Wat beteken dit? Christus is die eens en vir altyd offer vir ons sondes. Deur geloof in Hom is ons regverdig as ons voor God se troon verskyn. Ons vryspraak moenie op een of ander wyse nog voltooi word nie. Dit is klaar voltooi en dit is permanent. Deur die een offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak (10:14). As ek weet dat Jesus Christus my Verlosser is, leef ek nie meer in vrees nie – ek leef met die wonderlike versekering dat Hy alles reeds gedoen het.

Kardinaal Bellarmine het geglo dat as dit is wat die Protestante vir mense leer, hulle in werklikheid vir die mense ‘n lisensie gee om te sondig. Dit is nie wat Hebreërs sê nie. As ek hierdie versekering het, lei dit tot

  • Hou ons styf vas aan die hoop wat ons bely – ons belydenis van ons geloof in Jesus Christus is ons hoop (10:23).
  • Ons sien vir mekaar om en ons spoor mekaar tot liefde en goeie dade aan (10:24).
  • Ons word deel van die geloofsgemeenskap vir aanbidding en diens (10:25a)
  • Ons moedig mekaar aan om na Christus te kyk en om aan Hom getrou te bly soos die tyd vir sy weerkoms nader kom (10: 25b).

Versekering is nie iets negatiefs nie – vir die Christen is dit ‘n positiewe vertroosting.