Die Handelinge van die Apostels (1:1 – 5) – Francois Malan

1:1
Die boek Handelinge begin met ’n verwysing na ‘die eerste berig’  (logos woord, boodskap, verhaal, boek,
berig) wat ook aan Theofilus opgedra is, naamlik die Evangelie volgens Lukas
(vgl. Luk 1:3). Daarom is die skrywer van Handelinge dieselfde persoon as
die skrywer van die Evangelie, soos later ook afgelei kan word van die dele in
Handelinge wat in die eerste persoon meervoud geskryf is (die ‘ons gedeeltes’
vgl. bv. 16:11-17; 20:5; 27:2,15; 28:1,11,16). In Kolossense 4:14 verwys Paulus
na Lukas die geliefde dokter wat by hom is; in 2 Tim 4:11 ‘Net Lukas is nog by
my.’ Volgens die kerklike tradisie is Lukas die skrywer van die twee boeke wat
oorspronklik sonder die naam van die skrywer in die vroeë gemeentes gelees is.

Wanneer
’n werk aan iemand opgedra is, soos aan Theofilus, was die verwagting
dat dié persoon verantwoordelik sal wees om kopieë te laat maak deur afskrywers
met die oog op die verspreiding van die boekrol (vgl. die verwysing na ‘die
boeke, veral die perkamente’ in 2 Tim 4:13 – boekrolle is destyds geskryf op
papier van papirus gemaak of op perkamente van dierevelle gemaak. Alles is met
die hand oorgeskryf. (Boekdrukkuns is eers in 1450 n.C. ontdek). Die twee boeke
is in die algemene omgangstaal in die Romeinse ryk, nl. Grieks, geskryf vir die
gemeentes wat deur Paulus gestig is in Griekeland en Klein-Asië en besoek is in
Rome en Palestina. 

Luk 1:1-4 is eintlik ’n voorwoord tot albei die boeke. Dit handel oor Lukas se navorsing vir die boeke en die doel van altwee die boeke, sodat Theofilus vir seker kan weet dat die onderrig wat hy oor hierdie gebeure ontvang het, ‘betroubaar is’ – ook vir vandag.                                                                                                                                                                                                                                           

Die
boodskapvan die twee boeke is onderskeidelik in Lukas ‘alles wat Jesus
begin doen en waaroor Hy onderrig gegee het’  met die implikasie dat Handelinge die voortsetting
is van Jesus se werk en onderrig op aarde, vanwaar Hy sit aan die regterhand
van God die Almagtige (Luk 22:60) om oor die ganse skepping in liefde te
regeer. 

Lukas-Handelinge is
langer as al Paulus se briewe saam, en beslaan ’n kwart van die
hele Nuwe Testament.

1:2
‘…tot die dag dat Hy opgeneem is’ – die dag van Jesus se hemelvaart is die
einde van sy aardse bediening en die begin van sy bediening op aarde vanuit die
hemel. Daarom word die hemelvaart aan die einde van Lukas 24:50-51 genoem as
die afsluiting van sy werk op aarde, maar dit word aan die begin van Handelinge
1:6-11 uitvoeriger vertel as die begin van die voortsetting van sy werk.

Voor
sy sterwe, opstanding en hemelvaart het Hy reeds, ná ’n nag van gebed tot God,
twaalf van sy dissipels uitgekies en hulle apostels genoem, dit wil sê as sy
gesante (Luk 6:13). Aan die elf, wat ná sy kruisiging en opstanding nog
teenwoordig was (sonder Judas Iskariot), het Hy deur die Heilige Gees opdrag
gegee
(enteilamenos  om
spesifieke opdragte te gee, met die implikasie van gesag wat gegee word met
offisiële sanksie, vgl. die Engelse woord entailment). Met die opdrag het
Jesus, deur die Heilige Gees, hulle aangestel en bekragtig as getuies en
verteenwoordigers van Jesus Christus as Persoon om sy boodskap van verlossing
van sonde uit te dra (Hand 13:37 ‘deur hierdie man – Jesus – word die vergewing
van sondes aan julle verkondig, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig
word’ – geregverdig beteken dat elke gelowige se verhouding tot God deur Jesus
reggestel word). Sy gestuurdes getuig van Hom met hulle woorde en lewenswyse.

Die
woord ‘apostel’ word agt-en-twintig maal in Handelinge gebruik, telkens
as ’n verwysing na die twaalftal, met Mattias wat Judas vervang (1:26);
met die uitsondering van 14:4,14, waar ‘apostel’ ook
vir Barnabas en Paulus gebruik word.

In
Lukas en Handelinge gaan dit om Jesus Christus se Middelaarswerk tussen God en
die mens. Hierdie
boek bevat nie ’n volledige kerkgeskiedenis nie, maar beskryf persone en
insidente wat tipies aandui wat Christus deur sy Gees in en deur sy kerk
besig is om te doen en te leer in elke eeu en jaar en dag.

1:3
Jesus se opstanding uit die dood is die vaste fondament van die apostels
se geloof. Dit word  hier onderstreep met
die verwysing na die baie ‘oortuigende bewyse’ (tekmêriois wat iets
bekendstel as getoets en bevestig – die enigste keer dat die woord in die Nuwe
Testament gebruik word; wel ook in twee Ou Testamentiese apokriewe boeke). In
die Afrikaanse vertalings word verwys na ‘vele tekens’ waardeur Jesus ná sy
lyding aan sy dissipels getoon het dat Hy leef, toe Hy oor ’n tydperk van
veertig dae aan hulle verskyn het. In sy opsomming in Lukas 24:50-52 het Lukas
slegs gesê ‘Daarna het Jesus hulle na Betanië gelei….. en is in die hemel
opgeneem.’  Hier word ‘daarna’ (‘en toe’)
uitgespel as 40 dae ná sy opstanding. Sy opstanding en hemelvaart is nóú aan
mekaar verbonde. Die opgestane Here regeer wel vanuit die hemel, maar steeds as
die teenwoordige Koning in sy koninkryk op aarde.

Ook
die woord vir ‘verskyn’ word slegs in Lukas gebruik; hoptanomai beteken
om gesien te word of om sigbaar te wees, in die sin van binne die gesigsveld te
wees. In Lukas 24:31 het Jesus, nadat die Emmausgangers se oë geopen is en
hulle Hom herken het, ‘vir hulle onsigbaar geword’ – uit hulle gesig verdwyn (afantos).
In Lukas 24:36 ‘staan Hy in hulle midde,’ en dit terwyl die elf en dié saam met
hulle nog praat oor sy verskynings/dat Hy gesien is, ōfthê. Terwyl Jesus
sedert sy opstanding oral onsigbaar teenwoordig is, kan Hy van tyd tot tyd Homself
sigbaar maak.

Handelinge
1:3 sê verder dat Jesus gedurende die veertig dae besig was om met hulle te
praat oor die koninkryk vanGod. Basileia tou Theou verwys na God
se koningsheerskappy met volkome gesag oor die skepping, oor die lewens van
mense, en in ’n besondere sin oor die lewe van elke gelowige en van gemeentes;
spesifiek ook dat Hy heers oor die groepie apostels wat Hy nou uitstuur om die
evangelie te gaan verkondig. As die Christus, die Gesalfde, is Hy die Koning
in God se koninkryk
, en is Hy die onderwerp van hulle verkondiging. Dit
onderstreep ook dat Jesus self God is (Joh 1:1).

Gedurende
die veertig dae het Hy aan die dissipels bevestig dat Hy leef, deur baie
oortuigende bewyse
  (paristêmi bewys
verskaf dat iets waar is). Lukas 24:42-43 vertel dat Jesus ’n geroosterde stuk
vis voor sy dissipels geëet het as bewys dat dit Hy is wat opgestaan het uit
die dood. In Joh 20:20 wys Hy hulle sy hande met die spykermerke en sy
deurboorde sy. In Joh 20:27 nooi Hy Thomas uit om sy vinger in sy wondmerke te
steek en sy hand in sy sy. In Johannes 21:1-14 het Jesus Homself by die see van
Tiberias sigbaar gemaak (efanerōsen) aan sy dissipels met sy opdrag om
hulle visnet aan die regterkant van die boot uit te gooi vir ’n massa vis, en
met ’n vuur waarop Hy vis en brood vir hulle braai op die strand. Jesus het
duidelik self besluit wanneer en hoe Hy Hom aan sy volgelinge sigbaar en
kenbaar gemaak het (vgl. Joh 20:11-16 met die noem van haar naam aan Maria
Magdalena; Hand 9:3-5 met ’n skerp lig uit die hemel wat Paulus blind op die
grond laat neerval; Hand 18:9 deur ’n nagtelike visioen om Paulus te versterk
om in Korinthe aan te hou praat; Hand 23:11 deur in Jerusalem in die nag by
Paulus te kom staan met die opdrag om oor Hom in Rome te getuig soos in Jerusalem). 

1:4  ‘Terwyl hulle bymekaar was…’ (sunalizō  beteken om te vergader of bymekaar te kom). Tydens
’n ete
was Jesus saam met hulle en het Hy die volgende opdrag gegee.

Jesus
se opdrag aan hulle is om in Jerusalem te bly wag op die vervulling van die
Vader se belofte, naamlik dat Hy die Heilige Gees sal stuur om in hulle te kom
woon. Jesus het die belofte van die Vader aan hulle oorgedra (vgl. Luk
24:49). Die belofte het die Here reeds in Joël 2:28-32 gegee (vgl. ook Sag
12:10; Jes 44:3; Eseg 11:19; 36:27).

Jesus verwys hier na die Vader wat agter die hele aksie van die kerk staan.Die Vader stuur die Heilige Gees om die kerk van Christus te lei en die lidmate toe te rus vir hulle dienswerk in God se koninkryk op aarde. Daarvan beskryf die boek Handelinge die begin van die kerk en van die aanvanklike uitbreiding van die kerk.  1:5 Jesus verwys hier na die doop van Johannes wat die belofte van vergifnis (afwassing, reiniging) van sonde deur Jesus se offer vir die sonde ingehou het (Luk 3:3 ‘doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes’ – eis, met die oog op). Maar Jesus belowe hier: binnekort sal die dissipels met die Heilige Gees gedoop word. Die passiewe vorm ‘gedoop word’ sê eintlik dat Gód hulle sal doop met die Heilige Gees. Doop word hier figuurlik gebruik vir die wonder dat God self in die gelowige kom woon (Joh 14:16,17, 23). Die Heilige Gees lei mense om te glo in Jesus as die Seun van God wat ons reinig van alle sonde en goddelose gedagtes, woorde en dade. Hy is die Gees van waarheid in ons soos reinigingswater (Eseg 36;25-29; Joh 14:17; 16:8). God die Heilige Gees kom ons al meer verander om soos Jesus te word (2 Kor 3:18), vol liefde, goedheid, getrouheid, geduld, vrede, vriendelikheid, vreugde, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23) deur ons al meer aan Jesus en sy woorde en dade te verbind. Die Heilige Gees is die krag van God en die karakter van die nuwe bedeling van God se heilsgeskiedenis.

Skrywer: Prof Francois Malan