Die Handelinge van die Apostels: Die Jode se aanklag teen Paulus voor Feliks (Hand 24:1-9) – Francois Malan

24:1 Die Jode verskyn voor Feliks vyf dae na sy eerste sitting met Paulus. Feliks word genoem die goewerneur (hêgemōn regeerder). Hy tree namens die keiser in Rome op (’n prokurator; vgl. Hand 23:11 waar die Here vir Paulus sê dat hy nog in Rome voor hom moet gaan getuig). Namens die Sanhedrin bring Ananias, wat van 48-58 n.C. deur die Romeine as hoëpriester aangestel is, en ’n paar familiehoofde die aanklag (emfanízō formeel aankla). Hulle het groot koste aangegaan om ’n bekwame advokaat (rhêtōr), wat kennis van die Romeinse wet het en ’n Latynse redenaar is, te huur om namens hulle die aanklag voor te lê. Tertullus is ’n Latynse naam en dit is onseker of hy self ’n Jood is. Hy vereenselwig hom egter met die Jode se saak teen Paulus. Lukas se beskrywing van die hofsaak is ’n meesterstuk, wat in enkele sinne die verloop van die hele proses voor Feliks beskryf.

24:2 Die eerste sin is eintlik ’n opskrif vir die gedeelte, dat Tertullus sy aanklag begin het toe hy (waarskynlik Paulus) ingeroep is in die hofsaal. Tertullus begin die aanklag deur eers vir Feliks te prys om daarmee sy goedgesindheid te wen. Hy verwys na die ‘baie vrede wat deur u beleef word, en deur u vooruitsiendheid is hervormings ingestel vir hierdie nasie. Voor die nie-Joodse goewerneur Feliks verwys Tertullus na die Jode as hierdie ‘nasie,’ éthnos, die woord wat vir die heidenvolke gebruik word, en nie laós wat vir die volk van die Here gebruik word nie (vgl. bv. 21:40;  23:5). Josefus (Antiq 20:8:5-7) vertel van al die rowers en Egiptiese oproermakers wat Feliks onderdruk en uitgeroei het (vgl. 21:23). Met die openingsin berei hy die weg voor vir die aanklag van onrus opstokery deur Paulus (24:5).

24:3 ‘Op enige plek en oral (verdubbeling om te beklemtoon) erken ons dit met alle dankbaarheid.’ Dit is egter nie waar nie. Die verhouding tussen Rome en die Jode het tydens Feliks se termyn baie versleg. Hy was ’n wrede man wat baie Jode laat doodmaak het. Hebsugtig het hy baie Jode se besittings laat konfiskeer, en hy was ’n losbandige regeerder, vgl bv. sy drie agtereenvolgende vroue. Maar Tertullus probeer met die lofprysing Feliks gunstig stem teenoor die Jode se aanklag teen Paulus.

24:4 Maar om die besige goewerneur nie verder te vermoei nie (met al die valse gebruiklike lofprysings) doen Tertullus ’n beroep op die goewerneur se genadige verdraagsaamheid (nog ’n valse maar gebruiklike lofprysing vir ’n advokaat in die hof) om kortliks na hulle te luister. Hulle wil hom nie met ’n lang relaas vermoei nie – om ’n gunstige verhoor daarmee te kry. Daarmee skep hy ook die platform vir die skerpte van sy aanklag teen Paulus.

24:5 Die aanklag begin met ’n beskrywing van hoe die Jode vir Paulus beskou- ‘ons het gevind (eurískō ook: begin beleef). Die woorde wat hy gebruik word so gekies dat die goewerneur kan begin dink dat Paulus ook ’n gevaar vir die vrede in die Romeinse ryk inhou. Dit word met drie sinne beskryf: 1 Hierdie man is ’n loimós ‘pes’ of  ‘moeilikheidmaker’  wat ’n gevaar is; 2 hy stig oproere (stáseis) onder al die Jode dwarsoor die wêreld; 3 hy is ’n leier (prōtostátês belhamel, aanvoerder) van die dwaalleer/sekte/party (haíresis impliseer dat dit ’n groep is wat aweregs is) van die Nasareners. Hoewel dit drie godsdienstige aanklagte is, word dit so gestel om by die goewerneur die vermoede te wek dat Paulus ’n politiese moeilikheidmaker en ’n gevaar vir die Romeinse ryk is. 

Die Griekse woord loimós ‘pes’ word in die Griekse vertaling van 1 Samuel 25:25 gebruik vir Abigajil se beskrywing van haar dwase man Nabal (1983-vertaling: ‘’n verkeerde mens’). Die goewerneur kon moeilikheid vir die Romeinse ryk hoor as Paulus ’n ‘pes’ genoem word. Die woord ‘oproer’ laat al die Romeine se ore spits. Daar was orals in die ryk kort-kort oproere teen die Romeine soos hier. Daarby kan die woord oikouménê wat die wêreld waar mense woon en werk aandui, of spesifiek na die Romeinse ryk .

 In die hele Nuwe Testament word die volgelinge van Jesus slegs hier Nasareners genoem na aanleiding van Jesus van Nasaret (Hand 22:8; Luk 4:34; Matt 2:23 Nasarener vir Jesus). Die ‘Nasarenersekte’ klink asof dit ’n groep is wat moontlik teen die Romeinse ryk kan organiseer. So het die Jode Jesus ook voor Pilatus valslik beskuldig (Luk 23:2). Hulle het Hom beskuldig dat hy die Jode in Judea en Galilea opgesweep het (Luk 23:5). Paulus word beskuldig dat hy oproer stig onder die Jode in die hele wêreld. Daarmee word die wêreldwye betekenis van Paulus se getuienis oor Jesus deur sy Joodse teenstanders erken. Hulle beskou dit as ’n aanklag teen hom. Die Here het egter gesê: ‘Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel (Hand 9:15).

24:6  As ’n laaste opmerking kom Tertullus by die eintlike rede waarom die Jode so kwaad is vir Paulus, maar hy beklemtoon dit nie. Die hoofklag is eintlik die voorafgaande politieke gevaar oor wat Paulus is. Hy het probeer om die tempel te ontwy bebêlóō – om die tempel se heiligheid/wyding aan God te ontneem (vgl. hulle misverstand in Hand 21:28-29).

Dat Paulus dit probeer doen het, en dat hulle hom gegryp en vasgehou het (kratêō) voor hy die tempel kon ontwy, word as ’n pluimpie vir die Jode bedoel, maar strook nie met die weergawe van die gebeure in Hand 21:27-30 waar hulle Paulus uit die tempelterrein gesleep het en die poorte gesluit het nie. Dat die Romeinse soldate hom uit die hande van die Jode moes gaan bevry, word ook verswyg.

Met Jesus se dood is die tempel eintlik deur God ontwy deur die voorhangsel wat in twee geskeur het en die Allerheiligste blootgestel het om gesien te word (Mark 15:37; Matt 27:58). Jesus se opstandingsliggaam word die nuwe tempel vir die gelowiges om by God te kom (vgl. Joh 2:19-21; 4:21-24), en elkeen wat in Jesus glo en Hom liefhet word ’n woning vir God (Joh 14:15-17,23), ’n tempel van die Heilige Gees (1 Kor 6:19).

 24:7&8a Die vers ontbreek in die oudste manuskripte uit die 4e eeu n.C. en daarom ook in die nuwer vertalings. Dit is eers in die 8e eeu n.C. in ’n manuskrip opgeneem, blykbaar om te vertel wat na die vasgryp van Paulus gebeur het. Die teks het gelui: ‘maar Lisias, die owerste oor duisend, het gekom en hom met groot geweld uit ons hande weggeneem en bevel gegee dat sy beskuldigers voor u moet kom.’  (soos in die 1933 en 1953-vertalings in Afrikaans).

24:8 Volgens die 1953 vertaling sou Lisias moes kom getuig oor die waarheid van die stellings in vers 7 en 8a. Volgens die nuwe vertalings sê Tertullus dat Feliks die korrektheid van al die Jode se aanklagte sal hoor as hy Paulus begin verhoor. 

24:9 Die Jode wat in 24:1 saam met Tertullus genoem word, het dit ondersteun – sunepitíthemai beteken eintlik: om aan te sluit by die aanval, hulle het Paulus baie sterk teengestaan met hulle woorde. Hulle het bevestig dat dit so is soos Tertullus die aanklag gestel het.

Skrywer:  Prof Francois Malan