Die Handelinge van die Apostels: Die reaksie van die Raad en van die apostels (Hand 5:33-40) – Francois Malan

5:33 Toe die lede van die Raad
die aanklag en getuienis van die apostels oor God se genade hoor was hulle woedend
(diapriomai om deurgesaag te word, word hier figuurlik gebruik vir
woedend kwaad word) en hulle wou die apostels doodmaak (soos Herodus briesend
opdrag gegee het om al die seuntjies tot 2 jaar oud in Betlehem dood te maak,
Matt 2:16). Jesus en sy getuies moet uit die weg geruim word – dit is die
reaksie van die ongelowige wêreld op God se soort verlossing sedert die slang
Eva en Adam verlei het om nie aan God gehoorsaam te wees nie (Gen 3:6, vgl. die
teken wat Johannes gesien het in Openb 12:9,12,17).

5:34 Soos die Here iemand
voorsien het om die radelose Raad te vertel dat die apostels wat hulle soek in
die tempel is, stuur die Here weer ‘iemand’ om die siedende 70 Raadslede tot
bedaring te bring. Die ‘iemand’ staan in die Sanhedrin op  teen die geweldige emosie van die raadslede.
Dié keer nie ’n ongenoemde iemand nie, maar ’n baie gesiene lid van die Raad,
’n Fariseër by name Gamaliël (sy naam beteken ‘God se vergelding’), ’n
onderwyser in die Wet van die Here van 25-50 n.C. Hy is die eerste rabbi wat ’n
Raban geword het, wat sy hoë posisie aandui, kleinseun van die beroemde
gematigde rabbi Hillel en onderwyser van Paulus (Hand 22:3). Hy was geëer en
gerespekteer deur die hele volk vir sy kennis van die Skrif, sy insigte en
voorbeeldige lewe. Hy gee met gesag opdrag dat die apostels vir ’n wyle uit die
raadsaal geneem word. Hy wil die woedende Raad tot bedaring bring om na rede te
luister en ’n oorwoë besluit te neem.

5:35 Hy spreek die Raad aan as
‘Manne Israeliete/mede-Israeliete’ – As een van hulle, nie verhewe bo hulle
nie, spreek hy hulle aan as lede van die volk van Jakob met wie God by Pniël ’n
verbond gesluit het en sy naam na Israel verander het (Gen 32:28): dink by
julleself goed na
oor wat julle met hierdie manne wil doen. Hy begin met ’n
vermaning tot besinning en versigtigheid. Hy wil eers die gemoedere tot
bedaring bring om nie uit hulle woede-emosie ’n besluit te neem nie, maar ná
beredeneerde nadenke. Waar hulle net gedink het hoe om die apostels stil te
maak, vra hy dat die Raad nie ’n besluit neem wat vir hulleself tot nadeel sal
wees nie. Dit beteken egter nie dat hy simpatie het vir die apostels nie, maar
hy wou die aansien van die Raad nie laat skade ly nie. 

5:36 As verduideliking van sy
vermaning verwys Gamaliël in verse 36-37 na twee voorbeelde van ’n valse leer
met leiers wat aanspraak gemaak het dat hulle die verwagte Messias-bevryders is
en ’n groep volgelinge gekry het. Wanneer die leier sterf kwyn die groep weg,
wat bewys dat dit slegs van menslike oorsprong is.

‘want voor hierdie dae…’ voor
die koms van Jesus, ‘het Teudas (’n verkorting van Theodosius ‘gawe van
God’) opgestaan en gesê dat hy self iets besonders is…’ (Gal 2:6 ‘…God slaan
nie ag op die aansien wat ’n mens het nie’). Hy het waarskynlik gesê dat hy ’n
verlosser is, soos Moses, wat Israel destyds uit die Egiptiese slaweskap
uitgelei het, en dat die Here beloof het dat Hy vir Israel weer ‘n profeet soos
Moses sal stuur, (Deutr 18:15,18). In ‘hierdie dae’ het die mense van Jesus
gesê dat Hy ’n Profeet soos Moses is (Joh 6:14) en nou het sy volgeling Petrus
dit ook van Jesus gesê (Hand 3:22). Destyds het ongeveer 400 mans Teudas
gevolg, en daar is nou ’n groep wat Jesus volg. Toe Teudas omgekom het (anaireō
onthoof, tereggestel word), is almal wat hom gevolg het, verstrooi (dialuō
almal gaan in verskillende rigtings) en die beweging het in die niet verdwyn.
Jesus is nou doodgemaak, en sy beweging kan ook in die niet verdwyn.

5:37 Die tweede voorbeeld
waarna Gamaliël verwys is ’n Judas wat as die Galileër bekend was (nie
Judas Iskariot uit Judea nie). Galilea was beskou as die broeiplek van opstand
teen die Romeine. Die volkstelling waarna Gamaliël verwys is waarskynlik die
een wat in Lukas 2:1-3 genoem word, waartydens Jesus in Betlehem gebore is.
Judas het blykbaar vir sy bevrydingstryd, wat hy teen die Romeine wou begin,
die volk aangehits. Hy was ook teen die Sanhedrin se vrees en versigtigheid vir
die Romeinse owerheid. Toe hy omgekom het (apollumi gewelddadigsterf)
het sy volgelinge uitmekaar gespat (diaskorpizō). Hulle het daarna
blykbaar nog in groepies of as enkelinge opgetree. Volgens Josefus was dit die
begin van die Seloteparty, waaraan die een Simon van Jesus se apostelgroep
moontlik behoort het (Luk 6:15). Die Selote het later so lastig geword dat die
Romeine in 66 n.C. Galilea begin inneem het. Gamaliël sê nie dat Judas die
Galileër se groep in die niet verdwyn het, soos Teudas se groep, nie.

5:38 Gamaliël sien net een
uitweg uit die Raad se radeloosheid. Hy dra sy oplossing voor as ’n
voorstel:  Met twee voorbeelde stel
Gamaliël aan die Raad voor: ‘Los hierdie mense uit en laat hulle gaan.’ Hy wil
die probleem op die maklikste wyse oplos. Hulle leier is reeds doodgemaak en
dieselfde lot as Teudas en Judas die Galileër se volgelinge sal waarskynlik
Jesus se volgelinge ook tref. Hy gee die rede vir sy voorstel: ‘want as hierdie
plan of onderneming uit mense sou wees, sal dit tot niet gaan (kataluō
ophou bestaan) – die ‘as..sou wees’ (Grieks: ean êi konjunktief druk
’n moontlikheid uit). As die passiewe vorm van die werkwoord (kataluthêsetai)
refleksief gelees word, suggereer dit dat die nuwe beweging vanself, van binne
uit, sal doodloop. As die werkwoord passief gelees word, suggereer dit dat God
dit sal laat doodloop, omdat dit bloot menslike planne en menslike werk sou
wees.

5:39 Terwyl Gamaliël die
eerste alternatief  (uit mense) as
’n moontlikheid beskou het, is hy egter seker van sy tweede stelling:  ‘Maar as dit uit God is..’ (ei
estin
aktief, druk ’n werklikheid uit) sal julle hulle nie tot niet kan
laat gaan nie (katalusai laat ophou bestaan nie). Sy advies is deur die
tweede moontlikheid bepaal: ‘Moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!
So het die koning Abia van Juda destyds vir Jerobeam en Israel gewaarsku:
‘Israeliete, moenie teen die Here die God van julle voorvaders veg nie. Julle
kan nie wen nie’ (2 Kron 13:12). Gamaliël hou veel meer rekening met God wat,
ten spyte van teenstand, sy saak sal deurvoer. Hy waarsku die Raad dat hulle op
gevaarlike gebied beweeg. As dit sou blyk dat hulle teen God veg, is hulle in
groot moeilikheid, want niemand kan teen Hom staande bly nie.In Jesaja
8:13 het die Here vir Jesaja gesê: ‘Julle moet die Here die Almagtige eer as
die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hom moet julle bang wees. Hy sal
vir julle ’n veilige beskutting wees….’ Abia wat op die Here vertrou het, het
met 400 000 man Jerobeam met sy 800 000 man verjaag (2 Kron 13:16; vgl. Hebr
10:31). ‘Die Raad is deur Gamaliël oortuig (peithō om iemand te oortuig
om iets te glo en daarvolgens te handel). So het die Here aan die ‘iemand
genaamd Gamaliël’ (5:34) die insig en woorde gegee om die Raad te oortuig om
van hulle moordplanne af te sien (5:33). Die Raad het toe na Gamaliël
geluister. So het die Here sy apostelgetuies beskerm en bevry.

5:40 Die Raad laat die
apostels weer voor hulle bring, maar voor hulle hulle vrylaat, laat hulle die
apostels vir hulle ongehoorsaamheid aan die Raad eers gesel om so die Raad se
vorige dreigement uit te voer (4:21). Geseling het behels dat hulle
elkeen 39 houe kry, een minder as die 40 waartoe Deutr 25:3 lyfstraf beperk
(vgl. 2 Kor 11:24). So is Jesus ook gegesel voor sy kruisiging (Luk 23:16; Mark
15:15; Joh 19:1); so ook sy volgelinge (vgl. Paulus se vyfmaal in 2 Kor 11:24).
Die vorige verbod om nie in die Naam van Jesus te praat nie, word herhaal. Maar
hierdie keer word na sy Naam Jesus verwys, ironies want die Naam Jesus beteken
juis ‘die Here sal verlos’ (Luk 1:31; 
Matt 1 :21). Daarna is die apostels vrygelaat (apoluō). 

5:41 Die apostels sien egter in die onterende behandeling deur die Raad dat God hulle so vereer het. Lukas stel dit in’n slim paradoks: deur ter wille van Jesus se Naam onwaardig gemaak te word voor mense, word hulle waardig voor God. ‘Toe het hulle met vreugde (chairō om gelukkig en goed te voel) van die Raad af weggegaan (letterlik: van die aangesig van die Raad af, ’n Semitiese idioom wat ’n plegtige en feestelike karakter aan hulle vertrek gee – hulle is eintlik deur die Raad verwerp), bly dat hulle (deur die Here) waardig geag was om skandelik mishandel te word vir die Naam’ (vgl. Jesus se vreugde-opdrag in Luk 6:22-23) Jesus het hulle vooraf gewaarsku dat hulle aan Sanhedrins oorgelewer sal word en in die Jode se sinagoges gegesel sal word om sy ontwil (Matt 10:17-18; vgl. Matt 23:34). Jesus het gesê ons moet bly wees as ons om sy ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig word (Matt 5:11-12). Soos die Jode dit vermy om die Naam HERE (Jahweh) te gebruik, word Jesus se Naam hier deur Lukas vermy om daarme te kenne te gee dat Jesus God is. 5:42 Uit die vreugde oor hulle lyding ter wille van hulle getuienis van Jesus, gaan die apostels met onvermoeide ywer voort om elke dag Jode en Christene te onderrig en die vreugdeboodskap te verkondig (euangelizō om goeie nuus oor iets te kommunikeer). Hulle doen dit vir die Jode in die tempel waar hulle gegesel is, waar Jesus ook daagliks onderrig gegee het na sy intog in Jerusalem (Luk 19:47). Die apostels onderrig ook van huis tot huis waar die Christene bymekaarkom. Die inhoud van hulle vreugdeboodskap is dat Jesus die Christus is, die Messias wat die Jode as verlosser verwag het. Maar meer as dit, Hy is die Gesalfde wat deur God gesalf is as Koning wat oor die wêreld regeer aan die regterhand van God (Luk 22:69), as die Profeet soos Moses wat die woorde van God na die mensdom gebring het (Hand 3:22-23; Deutr 18:18) en as die Hoëpriester wat sy eie lewe vir die wêreld aan die vloekhout opgeoffer het (Hebr 4:15; 5:10; 6:20; 10:10 deur die offer van sy liggaam; vgl. die Kneg van die Here van Jes 53, Joh 1:29 die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem).

Skrywer: Prof Francois Malan