Die Handelinge van die Apostels: Feliks en Drusilla luister na Paulus (Hand 24:24-27) – Francois Malan

24:24 Dit is ’n verrassing dat Feliks ook persoonlik belangstel in Paulus en sy boodskap en hom laat roep het om te luister na wat hy sê van geloof in Christus Jesus. Hy het waarskynlik al van die Weg kennis geneem het (24:22). Drusilla, sy Joodse vrou, wat hier onverwags genoem word bewys dat Feliks haar vertel het van Paulus wat in die paleis gevange gehou word. Sy wou blykbaar ook vir Paulus ontmoet om te hoor wat hy oor Christus Jesus sê. Drusilla was die jongste dogter van Agrippa I, wat Jesus se dissipel Jakobus met die swaard omgebring het, daarna vir Petrus in die tronk gestop het (Hand 12:2-3) en in 44 n.C. gesterf het omdat hy hom hoogmoedig soos ’n god laat verhef het (Hand 12:23). Drusilla is op 14 jaar as vrou aan koning Aziz van Emesa (die huidige Homs in Sirië) gegee nadat hy hom eers moes laat besny om met die Joodse meisie te trou. Twee jaar later, ongeveer 53 n.C., toe sy 16 was, rokkel die heidense goewerneur Feliks, met die hulp van sy vriend Simon Atomos, ‘n Joodse towenaar van Siprus, haar van haar man af en trou met haar omdat sy so mooi was. Sy is moontlik 24 Augustus 79 n.C. saam met haar seun oorlede, met die uitbarsting van die vuurspuwende berg Vesuvius. 

24:25  Drie dinge wat te na aan Feliks en Drusilla se lewe gekom het, word uitgelig van Paulus se getuienis oor Jesus as die Jode se verwagte Christus, waaroor Feliks en Drusilla meer wou weet (vers 24).

      1 Geregtigheid (dikaiosúnê) gaan oor die regte verhouding met God, wat Jesus vir ons gebring het met sy dood en opstanding uit die dood, en die doen van die regte ding volgens God se wil. Feliks se optrede teenoor sy onderdane kon nie altyd die toets deurstaan nie, en sy optrede om Drusilla van haar man te laat afsien, moes hulle gewetens aangespreek het. Sy het blykbaar ook haar geloof in die God van die Jode afgesweer om met die Romeinse afgodedienaar te trou.

      2 Selfbeheersing, enkráteia – om beheer uit te oefen oor jou begeertes en optredes. Volgens Galasiërs 22:22-23 is selfbeheersing die vrug van die werking van die Heilige Gees in die lewe van ’n mens. Die optredes en lewens van Feliks en Drusilla is nie ’n toonbeeld van selfbeheersing nie.

      3 Die komende oordeel (kríma) van God oor die lewe van elke mens. Paulus het pas aan die Romeine geskryf oor die dag van God se toorn wanneer die regverdige oordeel van God geopenbaar sal word…op die dag wanneer God die verborge dinge van die mens volgens die evangelie deur Christus Jesus sal oordeel  (Rom 2: 5,16).

Feliks het bang geword toe Paulus oor die drie dinge praat omdat hy juis daaraan skuldig is. Daarom het Feliks die gesprek beëindig, maar gesê dat, wanneer hy ’n geskikte tyd (kairós) sal hê, hy Paulus sal laat haal. Volgens die volgende vers is Paulus dikwels laat haal, maar nie juis om die evangelie te hoor nie.

24:26 Die belofte dat hy Paulus weer sal laat haal en dit ook so dikwels as moonlik (puknóteron) gedoen het en met hom gesels het, het ook ’n bymotief gehad. Feliks het gehoop dat Paulus aan hom omkoopgeld sou gee. Hy durf dit egter nie reguit gesê het nie, want die Romeinse Lex Julia het verbied dat amptenare omkoopgeld neem of ontvang. Dit was egter ’n redelike algemene praktyk, waarvoor geskimp is of gesuggereer is. Dit plaas ook ’n vraagteken agter Feliks se opdrag dat Paulus se eie mense hom sonder verhindering moet kan besoek (24:23). Paulus het juis melding gemaak van die aalmoese wat hy vir sy volk gebring het (24:17) en die Jode het Paulus voor Feliks beskuldig dat hy ‘n leier is van die Nasarenersekte  (24:5). Dit kon alles bronne van geld vir Paulus wees, volgens Feliks se berekeninge (Josefus Ant 20:8:7 vertel hoe Feliks op ’n stadium kwaad geword het vir die Jode en sy soldate gestuur het om ’n klomp dood te maak en ander gevange te neem en al hulle ryk besittings te konfiskeer).

24.27 Die eerste rede waarom Feliks nie Paulus by die eerste sitting onskuldig verklaar en vrygelaat het nie (24:22), was moontlik Feliks se hoop om omkoopgeld van hom te kry (24:26). Die tweede rede skemer hier deur: Hy wou die Jode ’n guns bewys (kan ook vertaal word as ‘omdat hy die Jode se guns wou wen’), dat hulle goed oor hom en sy regeertyd sou praat, eintlik as sy omkoopgeskenk aan hulle omdat Paulus dit nie aan hom wou gee nie. Daarom het hy na twee jaar se gesprekke, Paulus steeds as gevangene agtergelaat vir sy opvolger, Porcius Festus, om oor Paulus se lot te besluit. Daarmee word Paulus se saak vir die tweede keer na iemand anders verwys. Eers deur Lisias na Feliks, en nou Feliks na Festus, totdat Paulus self die derde skuif maak, van Festus na die keiser (25:11).

Die weë van die Here is dikwels onverstaanbaar. Die Here het ’n groter plan gehad met Paulus se twee jaar aanhouding in Sesarea se gevangenis.  In Jesaja 55:9 sê die Here: ‘soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.’ Paulus was van plan om sy sendingwerk in die Weste te gaan begin (Rom 15:23-24). Maar gedurende Paulus se twee jaar in Sesarea het Lukas waarskynlik die geleentheid gehad om die stof vir die Evangelie volgens Lukas te versamel en vir die dele van Handelinge waar Lukas nie saam met Paulus was nie by hom te hoor en vir ons op te teken. Later, tydens Paulus se twee jaar onder huisarres in Rome is die twee boeke verder ontwikkel (vgl. Hand 28:30). Lukas het bv. groot dele van die Markus-evangelie as bron gebruik (vgl. bv. die opmerkings in Luk 1:1-3 oor die verhale wat reeds oor Jesus geskryf is en oor Lukas se noukeurige ondersoek daarvan; en 2 Tim 4:11 waar van Lukas en Markus saam in Rome by Paulus gepraat word). Die twee boeke, Lukas en Handelinge, het saam die grootste omvang van ’n enkele skrywer van die Nuwe Testament, meer as die 13 briewe van Paulus saam. Tydens Paulus se gevangenskappe (waarskynlik in Rome) skryf hy die briewe aan die Efesiërs (Ef 3:1; 6:20); Kollosense (Kol 4:18); Filemon (Flm 9);  Filippense (Flp 1:9,13) en ook 2 Timotheus (2 Tim 1:8). So het die Here sy boodskap gereed gemaak om dit deur die eeue oor die hele wêreld bekend te stel en daardeur met ons te praat.

Die leier van die Joodse inwoners van Sesarea het Feliks, met sy terugkeer na Rome by die keiser gaan aankla oor al sy wreedhede, maar met die voorspraak van Pallas, Nero se vriend en Feliks se broer, het die keiser hom nie gestraf nie (Jos. Antiq. 20:8:9).

Skrywer: Prof Francois Malan