Die Handelinge van die Apostels: Festus se reaksie (26:24-32) – Francois Malan

26:24  Terwyl Paulus Jesus se opstanding uit die Ou Testamentiese beloftes daaroor tot sy verdediging aanvoer, bars Festus met ’n groot stem los en sê: ‘Paulus, jy is mal’ (maínomai is om in ’n totaal irrasionele manier te dink en te redeneer). ‘Jou groot geleerdheid maak jou mal.’ Om van die opstanding van ’n man wat dood is, gesigte in die hemel en stemme uit die hemel te praat, is volgens hom onverenigbaar met gesonde verstand en redenering. Dat Paulus dit alles  bewys uit die Joodse geskrifte se voorspellings wat hy so goed bestudeer het, is vir Festus die sleutel tot Paulus se malheid. Sy baie studie en geleerdheid het hom onredelik mal gemaak. In 1 Kor 1:23-25 skryf Paulus dat die verkondiging van ’n gekruisigde Christus ‘vir die Jode ’n struikelblok is en vir die nie-Jode ’n dwaasheid. Vir diegene wat geroep is…is Christus egter die wysheid van God, want die wysheid van God is wyser as dié van die mense…’ (vgl. ook 2 Kor 4:3-6). Baie Jode het ook van Jesus gesê dat hy mal/kranksinnig is toe Hy gesê het dat Hy die volmag en opdrag van sy Vader gekry het om self sy lewe vir sy skape (Jode en nie-Jode) af te lê en dit weer op te neem (Joh 10:15-20).

26:25  Paulus antwoord eerbiedig dat Festus fouteer om sy getuienis as malheid af te maak. ‘Hooggeagte Festus ek is nie mal nie maar ek spreek woorde van waarheid en gesonde denke’ – die absolute teenoorgestelde van die siek denke van ’n mal mens. Daarby is die woorde wat die Heilige Gees vir Paulus gee, woorde van goddelike waarheid en wysheid.

26:26 Paulus roep die koning as getuie van die waarheid van sy woorde, teen Festus se uitroep dat Paulus mal is. Agrippa wat self as’n Jood beskou is (Josefus Bell 4.1.3) en langer as Festus in die Joodse land regeer, weet van die dinge wat gebeur het, van Jesus se prediking en wonders en van sy kruisiging, want dit het in die openbaar plaasgevind. Daarom sê Paulus dat hy met vrymoedighed met Agrippa kan praat, soos wat hy nou hier doen.

26:27 Paulus daag Agrippa uit om vir hom te getuig: ‘Koning Agrippa, glo u die Profete? Ek weet u glo.’  As hy die Profete se uitsprake sou glo, moet hy Paulus se getuienis oor die vervulling van hulle profesieë ook aanvaar.

26:28 Die vers het al verskillende Afrikaanse vertalings gehad: 1953 positief: ‘Jy beweeg my byna om ’n Christen te word.’ 1983 sarkasties: ‘Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ’n Christen maak.’  1996 Die Boodskap – positief : ‘As jy so aanhou maak jy my sommer netnou ’n Christen.’ 2006 Die Nuwe Lewende Vertaling – sarkasties: ‘Jy wil sommerso in ’n japtrap van my ’n Christen maak.’ 2009 Die Bybel vir almal – ontkenning: ‘Jy moenie dink dat jy my so maklik ’n Christen sal maak nie.’  2014 ‘n Direkte Vertaling – positief: ‘Met ’n bietjie meer oorreding maak jy my nog ’n Christen.’  

Die vers kan as ’n vraag gelees word of as ’n sarkastiese opmerking; ‘is jy besig om my in ’n kort tydjie te oortuig om my ’n Christen te maak?’ of sarkasties: ‘jy is in ’n kort tydjie besig om my te oortuig om my ’n Christen te maak,’ of dit kan ook vertaal word as: ‘jy is besig om my te oortuig om ’n kort tydjie as ’n Christen op te tree’ (poiêō kan beteken ‘maak om te wees,’ of ‘om op ’n sekere manier op te tree’) – dan is dit Agrippa se negatiewe antwoord op Paulus se uitdaging aan hom om openlik te erken dat hy die profete glo en daarom Paulus se verdediging behoort te steun.

26:29 Paulus sou sy begeerte in gebed aan God wil bekendmaak (eúchomai ‘begeer’ in ’n baie skaars potensieel vervulbare optatiewe vorm van die werkwoord) dat die goddelike oomblik vir Agrippa en sy hele gehoor mag aanbreek om soos hy te wees. Om soos hy die lig te sien om in Jesus te glo as die vervuller van God se belofte van die Christus, wat in die Profete en Moses opgeteken is oor die Messias. Of dit ’n klein tydjie of ’n lang tyd mag neem vir hulle om tot geloof in Jesus te kom maak nie saak nie, solank hulle deur geloof in Jesus in die lig begin lewe en die vergewing van sondes en ‘n ewige erfdeel van God ontvang (26:18). Paulus se begeerte sluit in dat hulle in Jesus sal glo sonder die kettings waarmee hy, wat in Christus vrygemaak is van sonde, onskuldig geboei is.

26:30 Die koning het opgestaan as teken dat die byeenkoms afgesluit is. Paulus het die laaste woord gehad en Agrippa het duidelik ongemaklik geword met die verloop van die verhoor, ook met Paulus se laaste wens en gebed tot God vir hom en die res van die gehoor. Die leiers, Agrippa, goewerneur Festus, en Bernice en die ander gaste het die gehoorsaal verlaat sonder dat iets gekom het van die voorondersoek wat in 25:26 beplan is, of dat Festus iets kon kry om aan die keiser te skryf. 

26:31 Paulus se gehoor sit ’n lewendige gesprek voort buite die saal. Die algemene oortuiging is dat Paulus niks gedoen het wat die doodstraf of dan gevangenisstraf verdien nie. Jode en heidene betuig onder mekaar dat Paulus onskuldig is. Waarom hy dan nie vrygelaat word nie, word in die volgende vers verduidelik. Vir Jesus se onskuldverklaring deur Herodes en Pilatus vgl. Lukas 23:14-15. So loop Paulus se pad soos sy Here s’n, vgl. Rom 8:17. 

26:32 Agrippa het geen raad vir Festus om ‘n goeie rede te kry om Paulus na Rome te stuur nie (25:26), maar vererger net Festus se dilemma met sy uitspraak: ‘Hierdie man kon losgelaat en ’n vry man gewees het (die betekenis van die perfektum vorm van apolúō. Die perfektum verwys na die verlede en die voortduur van die gevolge daarvan).’ Die uitspraak van Agrippa word in die oorspronklike beklemtoon. Daarmee betuig Agrippa baie duidelik Paulus se onskuld. Hy betreur eintlik Paulus se beroep op die keiser wat nou sy vrylating deur die goewerneur onmoontlik maak. Paulus was daartoe gedwing deur sy regters se onbetroubaarheid wat die Jode telkens ’n guns wou bewys (24:27; 25:9). Vir die evangelie was dit egter ook ’n middel in die hand van God om Paulus in Rome vir Hom te laat getuig, volgens God se plan en wil (23:11). 

Skrywer:  Prof Francois Malan