Die Handelinge van die Apostels: Gemeenskaplike besit (Hand 4:32-37) – Francois Malan

4:32 ‘Die groot groep (plêthos)
wat gelowig geword het was een van hart en siel…’ Die Jode het die ‘hart’ as
die sentrum van die mens se denke beskou, en met ‘siel’ die setel van die mens
se wil. Saam verwys die twee terme na die hele innerlike lewe van die mens. Die
groeiende gemeente het dieselfde dinge gedink en wou dieselfde dinge hê.

Filippense 1:27 praat van ‘in een gees vasstaan en met een siel saam stry vir
die geloof in die evangelie.’

‘…en niemand het na enige van
sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit.’
Die teks praat egter van elkeen se eie besittings en 5:4 erken die eiendomsreg
van elke lidmaat. Dit beteken dat niemand gesê het ‘wat ek besit behoort slegs
aan my nie.’ Hulle het hulle besittings beskou as iets wat die Here aan
hulle toevertrou he
t om ander wat gebrek ly, vrygewig daarmee te help.
Hulle het nie vasgeklou aan hulle besittings om slawe van hulle besittings te
word nie.Die besluit om van jou besittings te verkoop om te kan uitdeel
was vrywillig (vgl. 5:4). So het gelowiges uit barmhartigheid van tyd tot tyd
selfs van hulle besittings verkoop om behoeftiges te kan help, as die gevolg
van hulle liefdesband, hulle koinōnia met mekaar (2:44-45). In Deutr.
15:4-5 het die Here reeds beloof dat daar nie ’n arme in die beloofde land sal
wees nie, as die volk net na die Here sal luister en elke sewe jaar die skuld
van ’n mede-Israeliet afskryf (vgl. ook Lev 25:10 se landswye afskrywing van
skuld in die hersteljaar, elke 50ste jaar).

4:33 Die groot krag waarmee
die apostels getuig het oor die opstanding van die Here Jesus, is onderskraag
deur die gemeente se onderlinge verbondenheid en hulp aan mekaar, en is die
werk van die Heilige Gees in hulle. Dit het Jesus net voor sy hemelvaart aan
hulle belowe (Hand 1:8 ‘Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees
oor julle kom en julle sal my getuies wees…’). Die opstanding van Jesus het
hulle oortuig dat Jesus die Here is wat oor hulle lewe regeer; dat Hy God is
(vgl. 2:32-36). Met sy opstanding het die nuwe skepping begin, waarvan die
liefdesgemeenskap van die Christene ’n sigbare bewys is.
Dit is die
uitwerking van die groot genade van God wat oor al die gelowiges gekom het en
sy genade in hulle harte vir mekaar. En dit het hulle getuienis oor Jesus se
opstanding en dat Hy hulle Here is, voor ander mense geloofwaardig gemaak.

4:34-35 ‘want daar was nie ’n
behoeftige persoon onder hulle nie (endeês iemand wat nie het wat nodig
of noodsaaklik is om te bestaan nie), want wie eienaars van grond (chōrioi, vir
landerye of weiding) of huise was, het verkopers geword (pōlountes,
imperfektum deelwoord om aan te dui dat dit verkoop word soos wat daar behoefte
aan was) en het die opbrengs van die verkope gebring, en dit voor die voete van
die apostels neergesit; en dit is uitgedeel aan elkeen soos iemand ook al
behoefte gehad het.’ Al die Griekse werkwoorde in die twee verse is in die
onvoltooide tyd, wat aandui dat dit ’n proses is wat voortgegaan het soos
wat iemand ’n behoefte/tekort gehad het.

4:36-37 Lukas gee ’n voorbeeld van die barmhartigheidsdiens van die eerste gemeente. ‘En toe het Josef, wat die eienaar was van ’n stuk grond, dit verkoop en die geld aan die voete van die apostels neergesit.’ Josef was ’n Leviet, uit die stam van Levi. Die Leviete was die helpers van die priesters, ook onderwysers by die sinagoges, en het gehelp met die regspraak in die stede waar hulle tussen die stamme van Israel geplaas is. Die apostels het vir Josef die bynaam Barnabas gegee om hom te onderskei van die baie Josefs onder die Israeliete (vgl. Hand 1:23 Josef Barsabbas). Lukas se verklaring vir die bynaam Barnabas is huios paraklêsios, ‘seun van vertroosting, bemoediging, hulp,’ soos die naam van die Heilige Gees, Parakleet, ‘Helper, Trooster, Bemoediger.’ Barnabas ontferm hom oor Saulus ná Saulus se bekering (9:27); die gemeente stuur Barnabas om die gemeente in Antiogië te gaan help (Hand 11:22); hy gaan haal Saulus in Tarsus om in Antiogië te kom help; daardie gemeente stuur vir Barnabas en Saulus om hulle kollekte weg te bring na die broers in Judea, ná die swaar hongersnood (Hand 11:20); in opdrag van die Heilige Gees stuur die gemeente in Antiogië vir Barnabas en Saulus op hulle eerste sendingreis wat in Siprus begin, waarvandaan Barnabas gekom het. Van Siprus af noem Lukas vir Saulus op sy Latynse naam Paulus, ‘klein/gering’ (vgl. 1 Kor 15:9) wat daarvandaan eerste genoem word as die leier. Na die lang reis is Paulus en Barnabas na die vergadering in Jerusalem oor die vraag of bekeerlinge uit die heidendom besny moet word (Hand 15:2). Met die tweede sendingreis is Barnabas en Markus na Siprus (Hand 15:39). Dat die Leviet Josef, van die eiland Siprus in die Middellandse See, grond besit het in die gebied om Jerusalem, kan ’n aanduiding wees dat hy en/of sy ouers van die vroom Jode was wat by die stad kom woon het in afwagting op die koms van die Messias (vgl. Hand 2:5). Barnabas se bynaam was waarskynlik ’n beskrywing van sy goeie gesindheid en optrede as helper wat mense bemoedig. Dat die geld van die verkope aan die voete van die apostels neergelê is, is ’n aanduiding van ’n fonds wat deur hulle beheer is om aan behoeftiges uit te deel. Volgens 2:45 het gemeentelede self ook van hulle geld aan behoeftiges gegee.

Skrywer: Prof Francois Malan