Die Handelinge van die Apostels: Jesus verskyn aan Paulus (Hand 18:7-11) – Francois Malan

18:7 Paulus se oorgang ‘van nou af’ (apò tou nun) van die Jode na die heidene (soos in 13:46, 19:9 en 28:28) het betekenis vir die geskiedenis van die wêreld. Die sinnebeeld daarvan is Paulus se vertrek uit die sinagoge en ingaan in die huis langs die sinagoge. Die huis behoort aan ’n godvresende met die naam Titius Justus (justus – ‘regverdige’). Die man wat tot nou toe die sinagogedienste bygewoon het se huis word die saamkomplek van die Christusgelowiges, ’n uitdaging en ’n uitnodiging aan die godvresendes wat elke Sabbat nog na die sinagoge toe gekom het.`

18:8 Anders as by die vorige stede word hier nie vertel van ’n groeiende weerstand teen die evangelie onder die Jode nie. In 18:12 word net vertel van die Jode se mislukte poging teen Paulus. Hier word egter vertel van die leier van die sinagoge, Krispus, wat saam met sy hele huis, wat ook sy slawe sou ingesluit het, tot geloof in die Here Jesus gekom het. Dit was duidelik ’n wonder wat die Heilige Gees in hulle harte bewerk het en Paulus se bediening daarvoor gebruik het. Volgens 1 Korinthiërs 1:14 het Paulus vir Krispus gedoop en dit sou ook sy hele gesin ingesluit het (die woord oíkos vir huis en tempel, word ook gebruik vir almal wat in die huis woon, ouers, kinders, familielede en ook die slawe). Die ander gelowiges is moontlik deur een van die gemeentelede gedoop. Hulle is nie deur Paulus gedoop nie, (vgl. 1 Kor 1:14).

Vanuit die godvresendes en heidene groei die gemeente se geledere. Baie Korinthiërs wat vir Paulus gehoor het, het met verloop van tyd in die Here Jesus geglo en is gedoop, waarskynlik in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, soos Jesus volgens Mattheus 28:19 sou gesê het, om hulle verbondenheid aan die Vader en die Seun en Heilige Gees te verseël. Van die lidmate in Korinthe was o.a. Lucius, Jason en Sopater, Paulus se volksgenote; Tertius, Paulus se amanuensis; Gaius, Paulus en die gemeente se gasheer; Erastus die stadstesourier en Paulus se helper, Kwartus (Rom 16:21-23,vgl. ook Hand 19:22, 2 Tim 4:20). 1 Korinthiërs 1:11 praat ook van Chloë en haar mense, 1 Kor 16:15,17 van Stefanas en sy huis, wat die eerste bekeerlinge in Agaje was, Fortunatus, en Agaïkus, die drie wat Paulus later in Efese besoek het.

18:9  Paulus, wat in swakheid na Korinthe toe gekom het, vol vrees en bewing (1 Kor 2:3) vir hierdie wêreldstad met sy baie mense en gelowe, op die brandpunt tussen die Jodendom en die heidendom, word deur die Here versterk. In ’n visoen in die nag verskyn die Here Jesus self aan Paulus. Die Here se twee opdragte aan hom beteken: hou op om bang te wees (vir die mense), maar hou aan om te praat en moenie stilbly nie. Deur hierdie openbaring van Christus aan Paulus is dit duidelik dat die Here (kurios die titel vir God en vir Christus wat die gesag het oor die ganse skepping) self besig is met die uitbreiding van sy kerk deur die hele sendingarbeid van Paulus.

 18:10 Die twee redes waarom Paulus moet ophou bang wees, en moet aanhou praat, is dat die Here self by hom is en die Here se versekering dat niemand iets (’n vinger) op hom sal lê om hom kwaad aan te doen nie, ‘want Ek het baie mense in dié stad wat aan My behoort (laós mense wat aan God behoort)’. In die Griekse vertaling van die Ou Testament is laós gebruik vir die volk van God teenoor ta éthnê die ander volke. Hier word laós gebruik vir alle Christene en nie meer vir die Jode as God se uitverkore volk nie. God het reeds vir Hom baie mense in Korinthe uitgekies om aan Hom te behoort. Paulus moet net die spreekbuis wees van die Here wat by hom is om die goeie boodskap oor Christus te verkondig. Die Here sal sorg vir die oortuiging in die harte van die stad se mense wat Hy vir Hom uitgekies het om sy volk te wees. Die belofte om by sy getuies te wees, het Jesus volgens Mattheus 28:20 na sy opstanding gegee.

18:11 Paulus werk hier vir nog 18 maande onder die beskerming van die Here teen die teenstanders, soos in die volgende verse gesien sal word. Sy verblyf word gekenmerk as ‘ hy was besig om die woord van God aan hulle te onderrig (didaskōn). Jesus se opdrag in Mattheus 28:20 was ook ‘en leer (didáskō) hulle alles wat Ek julle beveel het.’ So word Jesus se bergrede bv. (Matt 5-7) ook as lering (didáskō didachê) beskryf (Matt 5:2; 7:28). Paulus se bediening in Korinthe word bereken as vanaf Julie 50 n.C tot Maart 52 n.C. In hierdie tyd skryf hy waarskynlik Galasiërs, en 1 en 2 Thessalonisense.

Skrywer:  Prof Francois Malan