Die Handelinge van die Apostels: Oproer in Efese (Hand 19:23-40) – Francois Malan

19:23 Juis in die tyd toe so baie inwoners van Efese en die provinsie Asië tot geloof in Jesus gekom het, so ’n groot groep gelowiges finaal met hulle geskiedenis van toordery gebreek het en hulle toorboeke in die openbaar verbrand het, het daar ’n gewelddadige oproer oor ‘die Weg’ in Efese ontstaan (Lukas beskryf dit as geen geringe oproer nie).  Oor ‘die Weg’ is reeds verwys in Hand 9:2. Dit is die Weg van die Here en daarvan is Jesus self die Weg na die Vader en die Waarheid en die Lewe van elke mens en ding (Joh 14:6).

19:24 Die rede (gár want) vir die oproer word aangegee as ’n man met die naam Demetrius. Eintlik was dit die bose geeste wat deur Paulus uit mense uitgedryf is wat met die slinkse plan gekom het om Paulus uit Efese te verdryf. Dit gaan om die bedreiging van die lewensonderhoud van mense wat op mense se bygeloof teer. So is Paulus en Silas in Filippi voor die magistrate gesleep omdat die eienaars van die slavin met die waarsêersgees hulle inkomste verloor het (Hand 16:19). Demetrius was ’n silwersmid wat Artemistempeltjies uit silwer vervaardig het en deurlopend baie besigheid aan die vakmanne verskaf het (letterlik ‘nie min nie’ om ’n groot hoeveelheid aan te dui; ergasía kan besigheid of wins aandui; die werkwoord vir ‘verskaf’ is in die imperfektum wat voortduur aandui). Hulle inkomste was in gevaar.

Die beroemde marmer Artemisium in Efese, een van die sewe antieke wonders, was 120 meter lank en 70 meter breed met 128 pilare van 19 meter hoog waarop die dak gerus het. Daarvan het Demetrius klein silwerbeeldjies gemaak vir die skares wat na die orgiese feeste van Artemis gekom het en mense uit alle lae, ook die slawe en slavinne ingesluit het. Belangstellende reisigers het deur die jaar na die wonder kom kyk. Demetrius-hulle sou seker ook afbeeldings van die godin Artemis gemaak het, waarvan daar heelwat klein silwerbeeldjies opgegrawe is. Die Griekse Artemis was ’n jongvrou as die godin van die jag en kuisheid. Die Efesiese Artemis het egter meer Oosterse elemente gehad soos van die Hetiete se Cybele, en was ’n volwasse vroulike vrugbaarheidsgodin, die natuurmoeder van alles wat lewe. Haar beeld het talryke borste teenmekaar gehad en diere of later bye op haar romp as sinnebeelde van vrugbaarheid. Die beeld wat uit die hemel sou geval het, het in die aduton, die binneste heiligdom van die tempel, gestaan. Met die feeste is ’n artemisbeeld deur die strate van die stad gedra. By die feeste is talryke beeldjies van die silwersmede verkoop.

19:25 Demetrius het ’n bedreiging vir hulle bedryf gesien in die groot getal Efesiërs wat Artemis verlaat het om Jesus Christus te volg. Daarom wou hy ’n teenaksie loods om die Christensending uit te wis en verdere werk vir Paulus onmoontlik te maak. Hy het sy vakmanne byeengeroep en ook ander vakmanne van dieselfde ambag in Efese om hulle steun vir sy plan te kry. Hy het begin om te sê: ‘Manne, julle weet uit hierdie bedryf is ons voorspoed.’ 

19:26 Demetius beroep hom op wat die manne self waarneem en beleef en wat hulle van ander hoor. Hulle het ook al die daling in hulle verkope gesien en beleef. Met sy verwysing na die groot getal mense wat deur Paulus oorreed is om Christus te volg, getuig Demetrius eintlik oor die wydheid van die invloed van Paulus se verkondiging, nie net in Efese nie, maar in die hele Romeinse provinsie Asië. Demetrius verklaar dat Paulus mense mislei, weglei uit hulle vorige geloof, met sy verkondiging dat handgemaakte gode nie gode is nie. Die gewone mense het die beelde van gode en die gode self wat daardeur afgebeeld is, vereenselwig (vgl. Paulus se standpunt in Hand 17:29). In Ps 115:2-13; 135:15-18; Jes 44:9-20; Jer 10:3-15 is afgode reeds belaglik gemaak. Dit is die Bybelse agtergrond van Paulus se verkondiging.  ‘Hierdie Paulus’ is ’n minagtende verwysing na Paulus – ‘Hierdie vent Paulus,’ wat hulle gode en die produk van hulle ambag minag, bedreig nou hulle voorspoed.

19:27 As die mense begin glo dat handgemaakte gode nie gode is nie, is daar drie rampspoedige gevolge wat toeneem in belangrikheid: dit sal hulle ambag in ’n slegte lig stel, hulle aansien laat verloor  – met die gevolglike verlies van werk en inkomste. Die wêreldberoemde tempel van Artemis sal sy waarde/roem verloor – met die gevolglike verlies aan besoekers en verkope van hulle beeldjies. Die toppunt van die ramp is dat die godin Artemis wat orals in Asië en die hele bewoonde wêreld vereer en aanbid word, van haar grootheid en luister ontdaan sal word – met die gevolglike staking van al haar feestelike geleenthede waarvoor hulle so hard werk en so goed wins maak.

‘Dit hou nie net vir ons spesifieke besigheid die gevaar in om hewig gekritiseer te word nie – dat mense van ons besigheid sal sleg praat nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Artemis as niks gereken sal word, en dat sy wat in die hele Asië en die wêreld vereer word, van haar grootheid en belangrikheid ontdaan sal word.’ 

19:28 Die opswepende rede van Demetrius bereik sy doel. Die mense wat hom aangehoor het, het vol woede geword, rasend van woede geword, en geskreeu: ‘Groot is Artemis van die Efesiërs!’  Dit is hulle reaksie op Paulus se verkondiging dat handgemaakte gode nie gode is nie.    

19:29 Die oproer het deur die hele stad versprei (letterlik: die stad is gevul met oproer). Hulle het met dieselfde gedagte na die opelugteater in die middel van die stad met sy 25 000 sitplekke toe gestorm. Hulle het Paulus se reisgenote, Gaius en Aristargus van Masedonië, saamgesleep na die teater toe. Die oproer wat die silwersmede begin het, het ’n algemene volksoploop geword om hulle godin te verdedig. Die doel van hulle geskreeu was om die stadsowerhede te dwing om Paulus en sy genote uit die stad te verdryf, en Paulus se twee reisgenote was in die uiterste gevaar. Volgens Hand 20:4 was Aristargus lid van die gemeente in Thessalonika in Masedonië en Gaius van Derbe in Galasië (vgl. die dissipels in Derbe; 14:21). Aristargus het Paulus ook vergesel op sy reis as gevangene na Rome (Hand 27:2) en in Rome by Paulus gebly (Kol 4:10 ’n mede-gevangene; Flm v24 ’n mede-arbeider).

Skrywer:  Prof Francois Malan