Die Handelinge van die Apostels: Paulus en Silas in Filippi se tronk (Hand 16:24-49) – Francois Malan

16:24 Die tronkbewaarder kom die magistrate se opdrag na met dubbele sekerheid, asof hulle gevaarlike gevangenes is. Hy vat hulle, gooi hulle in die heel binneste deel van die tronk waaruit hulle nie maklik kon ontsnap nie, omdat hulle by al die ander selle en wagte sou moes verbykom. Hy sit elkeen in ’n Romeinse voetblok met hulle bene tussen twee swaar houtblokke op mekaar, met twee gate wyd uitmekaar om die prisonier wydsbeen te laat sit om ontsnapping te voorkom, hom te pynig en uit die slaap te hou. So was die Romeinse sekuriteitselsel in die tronk. Soms het die Romeine ook die prisonier se arms en nek in blokke gesit. Die binneste sel het ook geen venster gehad nie en dit was pikdonker daarin (soos in die ‘Donker Gat’ in die kasteel in Kaapstad, wat die VOC in 1698 in die Katzenellenbogen-bastion laat inbou het).

16:25 In die donker, met hulle bebloede liggame in die blok, kla Paulus en Silas nie, maar sing middernag nog lofliedere tot eer van die Here as hulle dank aan Christus dat hulle in Filippi se hof en tronk kon ly. Aan die Filippense skryf Paulus later in Flp 1:29 ‘om vir Christus te ly is ’n gawe van God’ en in Flp 4:4 ‘Verbly julle altyd in die Here! Ek sê weer: ‘Verbly julle!’ In Romeine 8:17 sê Paulus: ‘As ons saam met Christus ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik word.’ Vir die Kolossense (1:24) het Paulus gesê: ‘Ek is bly oor die lyding wat ek om julle ontwil verduur.’ Vir die Thessalonisense (1 Thess 1:5) sê Paulus hulle is waardig geag om vir die koninkryk van God te ly, vgl. ook 1 Petr 4:13: ‘wees bly namate julle deel het aan die lyding van Christus;’ 1 Petr. 4:16 ‘as iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam.’ Die Here het reeds aan Ananias gesê Hy sal nog aan Saulus toon hoeveel hy ter wille van sy Naam moet ly (Hand 9:16).’ Letterlik staan hier in Hand 16:25 ‘hulle was bidders wat besig was om tot God te sing.’ Hulle lofliedere was hulle dankgebede tot God vir die geleentheid om vir Hom en saam met Hom te ly. Hulle het hulle lyding vir Christus as ’n voorreg beskou. In 2 Kor 11:23,30 spog Paulus dat hy meer dikwels in die tronk was as die sogenaamde super apostels, en uitermate geslaan is…want as daar geroem word, sal hy oor sy swakhede roem. 

Die ander gevangenes luister na die apostels en word so getuies van die verband tussen die lof aan God en die aardbewing wat daarop volg as die antwoord van die Here.

16:26 Skielik gebeur die onverwagte: terwyl die apostels hulle dank uitsing om die Here te prys, is daar ’n geweldige aardbewing wat so erg was dat die fondamente van die tronk heen en weer geskud was. Onmiddellik is al die deure van die tronk oopgeruk en die boeie van elke gevangene is (deur die Here) losgemaak (vgl. Lukas 4:18 se aanhaling uit Jesaja 61:2 dat Jesus met die Heilige Gees gesalf is om die goeie boodskap te verkondig en gestuur is om vir gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is). Hier het dit nou letterlik gebeur deur die ingryping van die verhoogde Jesus. Met die uitstorting van die Heilige Gees is die plek waar Jesus se volgelinge was, ook geskud terwyl hulle gebid het (Hand 4:31). So toon God sy magtige teenwoordigheid, ook teenoor die bouwerk en versterkte mure van mense. Die losgaan van elkeen se boeie is ’n verdere wonder van die Here.

16:27 In die ou tyd was die tronkbewaarder, as wag oor gevangenes, in een van die ampte waar hy met sy lewe instaan vir die mense oor wie hy wag hou (vgl. Hand 12:19). Aangesien die tronkbewaarder geweet het dat hy doodgemaak sal word oor die vrylating van mense wat die doodstraf opgelê is of sal word, probeer hy om homself om die lewe te bring toe hy waarskynlik wakkergeskrik het van die aardbewing, verward die oop deure van die tronk gesien het en gedink het die gevangenes het ontsnap.Vir die Romeine, veral onder die Stoïsyne, was selfmoord ’n eervolle en moedige daad. Brutus en Cassius, van die senatore wat vir Julius Caesar in die Senaatsaal in Rome doodgesteek het, het in 42 v.C. selfmoord gekies nadat hulle leër by Filippi deur Octavianus (latere Augustus) en Marcus Antonius se leër oorrompel is.

16.28 God se boodskappers waak egter oor die lewe van hulle pyniger. Paulus se uitroep dat nie één van die gevangenes wat deur die wonder bevry is, gevlug het nie, maar dat hulle almal nog daar is, roep die tronkbewaarder tot stilstand en tot bekering. Die wonder dat almal nog daar is, kom ook van God, wat daarmee ook die oë van die tronkbewaarder open om Paulus-hulle te erken as gesante van God, en om sy eie lewe in oënskou te neem.

16:29 Op Paulus se versekering dat al die gevangenes nog daar is, vra die bewaarder fakkels (fōta meervoud), waarskynlik van sy mede-wagte, om in die middernagtelike duisternis sy pad te verlig. Hy storm in die tronk in en val bewend van skrik en vrees voor Paulus en Silas neer. Hy beskou hulle twee as magtige boodskappers van die skrikwekkende God wat die aarde en die tronk oopgeskud het, en hy vrees vir die godsman wat hom van sy wanhopige selfmoord kon terugroep met die versekering van die wonder dat geen gevangene ontsnap het nie (vgl. Kornelius wat in eerbied voor Petrus se voete neergeval het, Hand 10:26; en die liggelowige skare van Listra wat Barnabas en Paulus as gode beskou het, Hand 14:11). 

16:30 Die bewaarder lei hulle uit die gevangenis. Hy spreek hulle aan as menere, as geëerde boodskappers van die magtige god van die aardbewing (kúrioi ’n aanspreekvorm van respek ‘menere,’ wat ook ’n titel is vir God ‘Here’). Hy vra wat hy moet doen om gered te word (sōzō kan verwys na redding uit die gevaar van sy posisie na die oopbreek van die tronk en die boeie, en ook om goddelike verlossing te beleef). Wat die bewaarder met redding bedoel het, is nie duidelik nie, maar Paulus en Silas knoop by sy vraag aan en verduidelik die weg van God se verlossing deur vergifnis van sonde en verlossing uit ’n mens se verkeerde lewenswyse. Paulus ontmoet die Masedoniese man van sy visioen, wat vra kom oor en help ons, in die vroue by die rivier, in die besete slavin en in die man wat hom in die blok gesit het. So lei die Here vir Paulus-hulle op onverwagte paaie en open Hy die geleenthede en die harte van mense deur die werking van die Heilige Gees wat hulle lei tot geloof in Jesus as Verlosser.

16:31 Die kort antwoord sê dieselfde as Paulus se verkondiging in sy briewe aan die Galasiërs (bv. 3:26) en die Romeine (bv. 10:9) waarin hy dit baie breër uitwerk. Dat geloof alleen die weg van redding is, en wel geloof in die Here Jesus (kúrios hier as verwysing na die goddelike Here). Paulus en Silas is slegs sy diensknegte/slawe (vgl. Hand 16:17; doulos verwys na slawe en gewone diensknegte). Hulle is nie menere (kúrioi) nie. Die redding sluit ook die bewaarder se huisgesin in (oikos verwys na ’n huis as gebou of na ’n huisgesin as die bloedfamilie, aangetroudes, slawe en slavinne wat aan ’n huishouding of uitgebreide familie behoort). Die Nuwe Testament beklemtoon die bekering van ’n enkeling, maar ook van ’n familie, stad, landskap en bevolkingsgroepe (vgl. Hand 11:14 Kornelius en sy hele huis; Hand 16:15 Lidia se huisgesin; Hand 8:14 Samaria het die woord van God ontvang; Hand 9:35 al die inwoners van Lidda en die Saronvlakte het hulle tot die Here bekeer; Hand 11:1 die heidene het die woord van God aanvaar).

16:32 Die apostels het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis vertel (laleō). Dit sou die hele verhaal van Jesus se prediking, sy lewe, dood aan die kruis, opstanding uit die dood, en die betekenis daarvan, ingesluit het.

16:33 In die middernagtelike uur, toe hulle begin glo in die Here Jesus, open die Here die bewaarder se oë om die wonde van die apostels raak te sien en te versorg, wonde wat hy en die soldate vir hulle gegee het. Na Paulus-hulle se kategetiese onderrig van die bewaarder en sy huisgesin, word almal wat aan die bewaarder behoort onmiddellik gedoop. Daardie nag reinig die bewaarder die apostels se wonde en hy en sy huisgesin se sonde word gereinig deur die Here Jesus.

16:34 Die bewaarder het hulle toe huis toe geneem en vir hulle ’n tafel voorgesit (trapéza word gebruik vir ’n tafel en figuurlik vir ’n feestelike maal). Dit beteken hy het vir hulle laatnag ’n ete laat voorberei en voorgesit; moontlik kan dit gesien word as ’n liefdesmaal wat die hele huisgesin ná hulle doop saam met nagmaal, as herdenking aan Jesus se sterwe en opstanding, jubelend van vreugde gevier het (agalliáō beteken: om uitermate bly te wees). Die hele huisgesin het hulle uitermate verbly omdat hulle tot geloof in God gekom het met ’n geloof wat bly (die werkwoord ‘het tot geloof gekom’ is ‘n perfektum wat die voortgang van die geloofsbesluit uitdruk). Efesiërs 2:8 sê: geloof is ’n gawe van God. Dit is waaroor die huisgroep uitermate bly is. In sy brief aan die Filippense beklemtoon Paulus telkens vir hulle om bly te wees: Flp 2:17-18 ‘oor die bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. Net so moet julle ook bly wees, en bly wees saam met my;’  3:1 ‘wees bly in die Here;’  4:4 ‘Verbly julle altyd in die Here! Ek sê weer: Verbly julle.’

16:35 Toe dit egter dag word stuur die magistrate, wat Paulus-hulle die vorige dag laat gesel en in die kerker laat opsluit het, die polisie met die boodskap aan die bewaarder om hulle stilweg, sonder verhoor, vry te laat. Moontlik het hulle begin insien dat hulle optrede die vorige dag op aandrang van die massa, irrasioneel, onregverdig en onwettig was. Daardeur het die Here egter sy diensknegte bevry en die deur vir die voortgang van die evangelie in Filippi ’n bietjie oopgemaak. 

16:36 Die bewaarder het daardie woorde van die magistrate aan Paulus oorgedra. Die bewaarder sê: ‘Julle kan nou gaan en voorspoed op julle reis,’ Letterlik: ‘en gaan in vrede,’ poreúomai gaan, reis, weggaan; en eirênêi in vrede). Die pasbekeerde heiden gebruik reeds die christenwens, vgl. Jesus se wegstuur van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, Luk 8:48: ‘Dogter…gaan in vrede!’

16:37 Maar Paulus sê vir hulle, waarskynlik vir die polisiemanne wat die boodskap gebring het,  ‘Hulle (die magistrate) het ons herhaaldelik met swepe laat slaan; in die openbaar vir almal om te sien; sonder ’n verhoor en skuldigbevinding – met ander woorde onskuldig; ons wat Romeinse burgers is, wat volgens Romeinse reg nie gegesel of geslaan mag word nie – die Lex Porcia het alle Romeinse burgers gevrywaar teen onterende strawwe. Slegs slawe kon gegesel en geslaan word.. Hulle het ons in die tronk gegooi asof ons misdadigers is. Dit is die eerste keer dat ons hoor dat Paulus en Silas albei Romeinse burgers is, waarskynlik omdat hulle in die diaspora, die Joodse verstrooiing, in Romeinse provinsies gebore is van ouers wat Romeinse burgerreg ontvang het (vgl. Hand 22:28). ‘in die openbaar vir almal om te sien’ – dit gaan hier nie in die eerste plek om Paulus en Silas se eer nie, maar oor die Romeine se houding teenoor die gemeente wat hulle hier agterlaat, en die ruimte wat aan die gemeente gegee sal word deur die owerhede en die bevolking; ‘sonder verhoor’ – om die onregverdigheid van die Romeinse magistrate te beklemtoon.

‘En nou wil hulle ons in die geheim uitgooi?’ – om hulle geregsfout toe te smeer sodat die publiek nie daarvan weet nie. Daarby dink hulle nog dat hulle die seggenskap het oor die twee apostels deur hulle uit die stad uit te jaag (ekballō kan ook beteken verban).  ‘Nee! Laat hulle self kom en ons (eervol) uitlei’ – uit die gevangenis en uit die stad vir almal om te sien. So kan hulle die skandvlek van die apostels se naam verwyder, wat ook die gemeente en die Here Jesus raak. 

16:38 Die polisiemanne het die woorde van Paulus aan die magistrate gaan oordra. Die magistrate was bevrees toe hulle hoor dat Paulus-hulle Romeinse burgers is want daar is dikwels swaar strawwe gelê op mense wat die regte van Romeinse burgers skend (vgl. Hand 22:29). As hulle optrede by die goewerneur bekend sou word, sou hulle van hulle ampte onthef en gestraf word. 

16:39 Die hoogste beamptes van die stad kom persoonlik na die apostels. Hulle vra mooi om verskoning (parakaléō  om iets ernstig en hoflik te vra, om vir iets te pleit) vir hulle optrede teen die apostels., lei hulle uit die gevangenisterrein, soos Paulus versoek het (16:37) waardeur hulle die regte van die apostels erken en bewys; en vra hulle om die stad te verlaat om verdere verwikkelinge te voorkom, voordat die inwoners weer opgewonde raak en ’n oproer begin. 

16:40 Nadat die magistrate hulle uit die gevangenis uitgelei het, is hulle eers na Lidia se huis, waar die broers, die klein gemeentetjie van gelowiges, byeen was. Hulle bemoedig die gemeente (parakaléō het ook die betekenis bemoedig) om in die stad vol geharde Romeinse soldate te lewe as kinders van God, onder sy beskerming en leiding. In Filippense 2:1 verwys Paulus ook na aanmoediging (paráklêsis) in Christus as ons voorbeeld. Met die klein gemeente in Lidia se huis begin die evangelie, die goeie boodskap oor Christus, in Masedonië en Griekeland. Lukas bly moontlik hier agter. Die ‘ons’ gedeeltes begin weer in Hand 20:5.

Nadat hulle die gemeente gegroet het, het hulle, Paulus en Silas, die stad verlaat, en ’n gemeente agtergelaat wat vir Paulus verder in sy sendingwerk ondersteun het (Flp 4:15-16,18; 2 Kor 11:8-9). Paulus het deurentyd ’n hartlike verhouding met die gemeente gehad (vgl. Flp 1:3-8; 2:12; 4:1).

Skrywer:  Prof Francois Malan