Die Handelinge van die Apostels: Paulus-hulle na Pamfilië en Pisidië (Hand 13:13-16 – Francois Malan

13:13 Nadat dié groep onder Paulus se leiding uit Pafos weggevaar het, het hulle in Perge in Pamfilië aangekom. hoi perì Paulon ‘dié rondom Paulus’ wys duidelik dat Paulus die leiding geneem het. Hy word die onbestrede woordvoerder (13:16,45; 14:9,12), wat onder leiding van die Heilige Gees (Hand 13:9; 16:9) die duidelikste insig in die teologie en in sendingstrategie het tussen die apostels (Gal 2:13).

Pamfilië was ’n arm deel van die Romeinse provinsie Galasië van 25 v.C.tot 43 n.C. en daarna as deel van die provinsie Asië, met ’n paar Griekse stede tussen die Middellandse See en die Taurus bergreeks.  Die stadjie Perge, by die huidige Antalya, met ’n opelugteater en ’n stadion wat elk 20 000 mense kon huisves, lê sowat 15 km van die see af en kon vanaf die hawe Attalia per voet bereik word (vgl. 14:25). Johannes (Markus) het hulle daar verlaat en teruggekeer Jerusalem toe (waar sy ma gebly het). 

13:14a Van Perge het hulle na Antiochië in Pisidië gegaan (weer die werkwoord diérchomai, soos in Hand 8:40; 9:32; 11:19, ens.) wat veronderstel dat hulle die gebied tussen die twee stede deeglik deurgegaan het en met mense oor Jesus gepraat het. Antiogië is 160 km van Perge af, soos die kraai vlieg. Hulle moes oor die Taurus bergreeks tot op die vlakte by Antiogië 1200 meter bo seespieël. Hier word na ’n tweede Antiogië verwys. Die sendingreis het vertrek van Antiogië in die Romeinse provinsie Sirië en het aangekom in Antiogië, wat eintlik in Frigië geleë was, maar op die grens was van Pisidië. Albei die stede is genoem na Antiogus die Grote, opvolger van Seleukus Nikator wat die stad Antiogië in Pisidië opgerig het. Nikator het reeds in 280 v.C. in die provinsies Frigië en Lidië ’n groot aantal Jode hervestig en aan hulle volle Griekse burgerskap toegeken om in die grensgebiede ’n betroubare bevolking te bevestig (vgl. Josephus Ant. 12:3:1). In 25 v.C. het Antiogië in Pisidië saam met Ikonium, Listre en Derbe deel geword van die Romeinse provinsie Galasië (aan wie Paulus se brief aan die Galasiërs waarskynlik geskryf is). Antiogië in Pisidië was die administratiewe sentrum van die suidelike deel van die provinsie Galasië.

13:14b Op die Sabbat het Paulus en Barnabas in die sinagoge ingegaan en gaan sit, soos hulle gewoonte was (vgl. Hand 13:5 in Salamis, 14:1 in Ikonium, ens. in navolging van Jesus (Luk 4:16), om volgens Jesus se opdrag aan Saulus ook aan Israel die evangelie te verkondig (Hand 9:15).

13:15 Die verloop van die  dienste in die sinagoges was soos volg: eers die Joodse geloofsbelydenis, die Shema (‘Luister’) uit Deuteronomium 6:4: ‘Luister Israel, die HERE is ons God, Hy is die enigste Here.’ Daarop volg die gebed met 18 bedes gelei deur die leier; dan word gelees uit die Wet wat die HERE aan Moses gegee het (dit is die eerste vyf boeke van die Bybel); dan volg ’n lesing uit die geskrifte van die profete (die vroeë en later profete); wat gevolg word deur ’n preek deur een van die gemeentelede; die diens word afgesluit met die seën uit Numeri 6:24-26). Die vroeë profete soos o.a. Elia en Elisa verwys na die boeke Josua, Rigters, 1&2 Samuel, 1&2 Konings. Die later profete verwys na die boeke van Jesaja tot Maleagi, sonder Klaagliedere en Daniël.

Ná die voorlesings uit die Skrif het die leiers van die sinagoge een van die leiers na Paulus en Barnabas gestuur met die boodskap: ‘Manne broers (mede Jode), as een van julle ’n woord van bemoediging het vir die volk (laos die HERE se verbondsvolk), spreek!’  So open die Heilige Gees die geleentheid vir Paulus en Barnabas om die evangelie van Jesus te verkondig.

13:16 Paulus neem die leiding, maar anders as gewoonlik in die sinagoge waar die prediker sit (Luk 4:20) en eintlik ’n gespreksleier is wat saam met die gemeentelede praat en hulle vrae of opmerkings verwelkom, staan Paulus op vir ’n lang relaas van vers 17-41. Hy wys met sy hand dat hy ’n woord het en vra daarmee stilte vir sy preek (soos Petrus na sy vrylating in Hand 12:17). Hy spreek die gehoor aan en vra Israeliete en godvresendes om te luister. Daar was duidelik ’n groot getal godvresendes in die sinagoge. Die godvresendes is persone uit die heidendom wat hulle heidense afgode verwerp het, in die God van Israel geglo het, die dienste in die sinagoges bygewoon het, maar nog nie, soos die proseliete, die noodsaaklikheid van die besnydenis en sommige ander Joodse gebruike en wette aanvaar het nie.

Skrywer: Prof Francois Malan