Die Handelinge van die Apostels: Paulus in Jerusalem (Hand 21:15-26) – Francois Malan

21:15 Na die hele paar dae wat hulle in die hawestad Sesarea gebly het (21:10), en Paulus en sy metgeselle hulle berustend en gelowig aan die wil van die Here oorgegee het, het hulle gereedgemaak vir die 100 km reis na Jerusalem in die bergwêreld (episkeuádsomai ‘gereedmaak,’ – die weinig gebruikte woord, wat in die Bybel slegs hier gebruik word, het die gedagte van gereed wees of gereedmaak met ’n doel). Die gereedmaak kan verwys na hulle inpak vir die reis, maar ook na hulle innerlike gereedheid vir wat op hulle wag deurdat hulle berus in die wil van die Here.

21:16 Paulus se geselskap van nege (7 verteenwoordigers van gemeentes wat bydraes stuur, plus Paulus en Lukas – ‘ons’) word uitgebrei met ’n paar van die gemeentelede van Sesarea – vir veiligheid? Die dissipels uit Sesarea neem Paulus-hulle na die huis van Mnason (’n algemene Griekse naam, maar die enigste keer hier in die Bybel). Hy het oorspronklik uit Siprus gekom, soos Barnabas (4:36). Party verklaarders meen hy het in ’n stadjie op pad na Jerusalem gewoon, omdat 100 km nie in een dag afgelê kan word nie, nie eers as hulle te perd sou gery het soos in Hand 23:23-24 nie. Van Sesarea af kon hulle òf via Samaria, Neapolis (Nablus), Sigem, òf via Antipatris en Lidda na Jerusalem gereis het en dat Mnason in een van dié stede gewoon het. Maar die natuurlikste verklaring sou wees dat Mnason in Jerusalem gewoon het. Hy was òf lankal ’n dissipel òf van die begin af ’n dissipel (altwee betekenisse van die woord archaios), nl. vanaf die Pinksterdag met die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 2:41 of moontlik ’n bekeerling van Stefanus uit die Sinagoge van die Libertyne (vrygelate slawe; Hand 6:9). Na die vervolging verby was, het hy waarskynlik teruggekom om in Jerusalem te woon. Hy was moontlik ‘n Hellenistiese Joodse christen, soos Filippus in Sesarea. Hulle het Paulus se reisgenote, van wie sommige nie besny was nie, gemaklik ontvang, eerder as ’n streng Joodse christen wat probleme sou gehad het om die nie-Joodse metgeselle van Paulus te ontvang. Mnason het Paulus se geselskap gasvry ontvang (ksenízō om aan vreemdelinge gasvryheid te bewys). 

21:17 Met hulle aankoms in Jerusalem het die ‘broers’ hulle met vreugde ontvang. Mnason was waarskynlik een van die groep (Griekssprekende gelowiges?) van die Jerusalemgemeente wat hulle hartlik ontvang het.

21:18 Die volgende dag is verteenwoordigers van die buitelandse gemeentes na die leiers van die Jerusalemgemeente, Jakobus en die ouderlinge van die gemeente, waarskynlik om die kollekte van die verskillende gemeentes vir die arm gelowiges in Jerusalem te gaan oorhandig (Hand 24:17), en Paulus het saam met hulle gegaan. Jakobus, die broer van Jesus (Mark 6:3; vgl. Hand 1:14; 12:17; 15:13; Gal 2:9-10,12; Jak 1:1) was ná die vervolging van die christene in Jerusalem die leier van die gemeente. Die apostels het nie permanent in Jerusalem aangebly nie, maar het oor die hele Romeinse ryk versprei (vgl. die bespreking van die apostels se verspreiding by hierdie kommentaar oor Handelinge 1:13-14). 

21:19 Hulle, die gemeenteleiers word eers gegroet. Soos in Hand 15:12 gee Paulus in besonderhede verslag van sy werk onder die heidene. Hy beskou dit as God se eie werk deur Paulus se bediening en bied dit ook so aan – letterlik: ‘hy het ten volle en duidelik vertel, een vir een, wat God onder die heidene gedoen het deur sy (Paulus se) bediening (diakonía diens). Die ganse sendingbediening is God se eie werk wat Hy deur sy diensknegte verrig.

21:20 Die hoorders, Jakobus en die ouderlinge, het God geprys vir wat Hy deur Paulus onder die heidene gedoen het. Dit was die kritiese oomblik waarvoor Paulus die gemeente in Rome se gebede gevra het dat sy diens aan Jerusalem vir die heiliges daar aanvaarbaar sal wees (Rom 15:31). Dat die leiers van die Jerusalemgemeente die kollekte aangeneem het wat die gemeentes onder die heidene aan hulle geskenk het, beteken dat hulle die christene uit die heidendom aanvaar het as mede-christene. In wedersydse liefde is hulle saam aan God verbind. Die gewers het die kollekte bymekaargemaak as hulle dankoffer aan God (2 Kor 9:5). Die gewers se vrygewigheid lei tot oorvloedige danksegging aan God deur die Jerusalemmers (2 Kor 9:12-15). Saam dank hulle God vir sy gawe, wat nie deur woorde beskryf kan word nie (2 Kor 9:16).

Daarop gee Jakobus en die ouderlinge hulle verslag oor wat intussen in Jerusalem en omstreke gebeur het en spreek Paulus aan met erkenning dat hy hulle medegelowige is: ‘Jy sien, broer, hoeveel duisende daar is onder die Jode wat tot geloof (in Christus) gekom het en nou christene is (dit is die krag van die perfektum deelwoord pepisteukótōn), en almal is diep toegewydes en yweraars (dzêlōtaí) van die wet. Dit verwys na die wet wat God deur Moses aan Israel gegee het. Hulle is soos die Fariseërs wat hulle aan die wet as die openbaring van God se wil toegewy het, ook nadat hulle gelowig geword het (vgl. Hand 15:5, 21). Die besluite van die vergadering van Hoofstuk 15 is deur hulle beskou as slegs van toepassing op die heidene wat tot bekering gekom het (vgl. Hand 15:19,23,28), en nie op hulle, Jode wat in Jesus glo, nie.

21:21 Die ouderlinge vertel toe vir Paulus van die (skinder) storie oor hom in die gemeente. Dit loop soos volg: 1 die ouderlinge vir Paulus: 2 mense het aan die christen-yweraars vir die wet ’n storie oor Paulus vertel; 3 dat Paulus aan die Jode wat in die buiteland leef sou leer om die wet wat Moses gegee het, te los…. Letterlik:  ‘Aan hulle (aan die christen-Jode wat ywer vir die wet) is oor jou vertel dat jy besig is om al die Jode (wat) tussen die heidene (leef), te leer (didáskō) om afstand te doen van (die wet van) Moses en te sê om nie hulle kinders te besny nie en nie in die gebruike (van die Jode) te wandel nie.’ 

Die verwyt dat Paulus aan die Joodse christene in die buiteland leer om nie meer volgens die wet te lewe nie (apostásia afvalligheid), was ’n onregverdige skinderstorie. In 1 Kor 9:20 sê Paulus: ‘Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen; vir diegene onder die wet, soos iemand onder die wet – al staan ek self nie onder die wet nie – om diegene onder die wet te wen.’ Dat hy die besnydenis verbied het, word geloën deur die besnydenis van Timotheus (Handelinge 16:3). Hy het wel die Jode se verwagting dat hulle op grond van nakoming van die wet geregverdig kon word, afgewys. Dit kan slegs verkry word deur in Jesus Christus te glo (vgl. Paulus se teregwysing van Petrus in Gal 2:15-16; vgl. ook Rom 9:31-32; 10:1-4).

21:22 Jakobus en die ouderlinge vra ’n retoriese vraag wat eintlik ’n inleiding is op hulle plan wat hulle aan Paulus voorlê in vers 23: ‘Wat moet gedoen word om die saak reg te stel? Die Jode wat die storie gehoor het sal sekerlik hoor dat jy (Paulus) gekom het en nou hier is.’

21:23 Die voorstel van Jakobus en die ouderlinge word gewoonlik verklaar as net ’n manier waarop Paulus sal bewys dat hy as christen nog die Joodse wet onderhou, soos vers 24 sê. Lukas sê egter nie waaroor die gelofte van die vier Joodse christene gegaan het nie (euchê ’n gelofte aan God om iets te doen en as dit nie gedoen word nie, Goddelike sanksies teen die persoon sal volg). Later is daar in Jerusalem 40 Joodse manne wat hulle met ’n eed verbind het (anathematízō om die straf van God te dra as hulle nie hulle belofte uitvoer nie) om nie te eet of te drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie (Hand 23:12-13). Miskien het die vier Joodse christene se gelofte ook ’n verband met die skinderstorie oor Paulus gehad, dat hulle dit ook geglo het en aan die Here belowe het om te keer dat Paulus daarmee voortgaan. Dit kan meer duidelikheid gee oor hoekom Paulus se reiniging saamgegaan het met die reiniging van die vier. Ná Paulus se verblyf onder heidene was hy in die oë van die Jode onrein. Die vier manne kon hulle eed om Paulus uit die weg te ruim beëindig toe hulle sien dat hulle ’n valse skinderstorie oor hom geglo het.

21:24  Die plan lui lettterlik: ‘Neem hierdie (vier manne), laat jou saam met hulle ritueel gereinig word, en betaal vir hulle sodat hulle die kop geskeer kan word’ – hulle was waarskynlik te arm om die offers self te voorsien. ‘Kop skeer’ is Lukas se kort opsomming van Numeri 6:5,13-15,18 se voorskrifte vir ’n Nasireër: dat sy hare en baard nie geskeer mag word nie, totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is. Dan moet hy sy offergawe na die tent van ontmoeting bring: ’n jaaroud lam,’n jaaroud ooilam, ’n ram, ’n mandjie ongesuurde brood, ’n ringbrood met ’n bybehorende graanoffer en drankoffers. Daar by die tempel moet hy ook sy hare afskeer en saam met die maaltydoffer verbrand. Nadat hulle Paulus se hele storie gehoor het, wou hulle moontlik hulle toewyding aan die Here daaroor beëindig. Die besonderhede word egter nie deur Lukas so uitgespel nie. 

Die reinigingsseremonie behels volgens Numeri 19:12-13 dat die persoon op die derde en die sewende dag met reinigingswater besprinkel word. Die bereiding van die reinigingswater word in Numeri 19:2-9 beskryf. Paulus moes gereinig word van sy omgang met die heidene in die buiteland. Die vier manne moes gereinig word van hulle verkeerde gedagtes en plan teen Paulus. Na die sewe reinigingsdae volg die beëindiging van hulle gelofte aan die Here.

Nadat Paulus die hele reinigingseremonie saam met die vier manne deurgegaan het en vir hulle offers betaal het om hulle geloftetyd te beëindig, sou almal, die hele christelike gemeente in Jerusalem, weet dat Paulus lewe volgens die voorskrifte van die wet van Moses en dat die skinderstorie oor hom nie waar is nie.

21:25 Wat Jakobus en die ouderlinge van Paulus vra, geld volgens hulle gedagtes alleen vir die gelowiges uit die Jodendom. ‘Maar wat die gelowiges uit die heidense volke betref, ons het ’n brief gestuur dat ons meen/besluit (krínō) het dat hulle hulle van afgodsoffers moet weerhou en van bloed en wat verwurg is en van hoerery’ (Hand 15:29). Dit is nie die hele boodskap in die brief nie. Die brief het begin met ‘Die Heilige Gees en ons het daarom besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende vereistes (epánagkes noodsaaklikes)…’ Ná die vier sake waarvan hulle hulle moet weerhou is aan die slot van die brief geskryf: ‘As julle julle hieraan hou, sal julle goed doen’ (eu goed in die sin van voordelig) vir die eenheid van die hele christelike kerk, vir die gelowige nie-Jode en ook vir die gelowige Jode vir wie die vier dinge ’n gruwel is. Die verdere las wat die vergadering nie op hulle wou lê nie is dat die christene uit die heidendom besny moet word en die wet van Moses moet onderhou. Dit was die christen Fariseërs se aanvanklike vereiste (Hand 15:5). Twee van die vier vereistes, afgodsoffers en hoerery, was deel van die heidene se lewenswyse, wat deur die Here se tien gebooie verbied is vir Israel. Die weerhouding van bloed en verwurgde diere sonder bloedlating vloei voort uit God se verbond met Noag en raak dus alle mense (Gen 9:4-6).

21:26 Reeds die volgende dag begin Paulus en die vier manne hulle reiniging, wat sewe dae sou neem. Na daardie dae kon hy na die tempel gaan om die beëindiging van die sewe dae van hulle reiniging te gaan aankondig. Hy het toe die offers vir elkeen van hulle vier verskaf sodat hulle by die tempel hulle offers aan die Here kon bring en hulle hare afskeer as teken dat die tyd van hulle wyding aan die Here verby is (Numeri 6:5,13,18).

Skrywer:  Prof Francois Malan