Die Handelinge van die Apostels: Paulus op die Areopagus Deel 2 (Handelinge17 vers 26-28) – Francois Malan

17:26 In die teks word voortgebou op die Bybelse geskiedenis van God se skeppingswerk in vers 25.  ‘Uit een (mens) het Hy elke nasie (éthnos) van die mensdom gemaak om op die hele aangesig van die aarde te woon nadat Hy die voorgeskrewe tye (kairoi geleenthede vir spesifieke gebeure; tydperke; eras) en die grense van hulle woonplekke toegeken het (orízō ’n taak/funksie toeken; ’n definitiewe besluit neem). Reeds met die skeiding van die waters en die droë land is begin met die toeken van die aarde as die mens se woonplek (Gen 1:10; Ps 104:9). In Genesis 10 word van die verspreiding van die nasies vertel – Jafet se nageslag het tot in Griekeland gaan woon (Gen 10:4); Deutr 32:8 ‘Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het, toe Hy die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle hulle grense bepaal.’ Gen 11:8: Die Here het hulle verstrooi oor die hele aarde. Ook die tydperke van ’n nasie se kom en gaan is deur die Here aan elkeen toegeken (Job 12:23 ‘Hy maak nasies groot en vernietig hulle; laat hulle uitbrei en tot niet gaan). Jes 41:4: Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?

Vir die heidense Grieke wat dikwels hulle afgod verbind het aan ’n spesifieke gebied, ’n stad of ’n land, sê Paulus dat daar een Skepper-God is wat oor al die gebiede en nasies op die aarde regeer. Die stad Athene het ook sy tyd van hoogbloei gehad en het beleef hoe hulle tyd uitgeloop het en ander stede, soos Sparta, en ander lande, soos Rome, oor hulle begin heers het. Die gebiede en tye, sê Paulus, word ook deur die Skepper-God bepaal.

17:27 In Grieks is verse 26-27 een sin met een hoofwerkwoord in vers 26 ‘Uit een mens het Hy elke nasie gemaak…’ (gevolg deur al die byvoegings oor hulle gebiede en tye). Dit het God gedoen ‘met die doel dat hulle God sal soek, deur (soos ’n blinde) soekend na Hom rond te voel om Hom moontlik te vind’ – die werkwoord psêlafáō  ‘aanraak, voel of probeer vind, is in die optatief (wensende wys) wat ’n vervulbare wens uitdruk.

Vir Paulus is dit egter nie ’n filosofiese of rasionele soeke na God soos vir die Griekse wysgere nie, maar die verlange van die hele mens na ’n persoonlike verhouding met God. Jakobus het reeds in Hand 15:17 vir Amos aangehaal dat die Here sal kom ‘sodat die res van die mensdom, ja al die nasies, God kan soek.’ Paulus haal Jesaja 65:1 aan waar die Here sê ‘Ek is gevind deur diegene wat nie na My gesoek het nie .’  Om God te vind is die sin van menswees; ook deur aanraking. So het die hele skare Jesus probeer aanraak vir genesing deur sy krag (Luk 6:19); het die vrou wat aan bloedvloeiing gely het die soom van Jesus se kleed aangeraak vir haar genesing deur sy krag (Luk 8:44,6) en het die opgestane Jesus sy dissipels genooi om aan Hom te vat, Luk 24:39). God het die mens gemaak om Hom te soek. Dit is die doel en sin van die lewe vir die mens.

‘Want Hy is nie ver van elkeen van ons nie.’ Die naam Jahweh, ‘Die Ek is,’  wat 6 823 keer in die Ou Testament voorkom vir die God van die verbond met Israel, beteken dat Hy teenwoordig is; Ps 145:18: ‘Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep.’ Die Here is naby en ver van ons af, (Jer 23:23-24: ‘Ek is nie ’n God wat net naby is nie, sê die Here, Ek is ’n God wat ook ver weg is…Ek is oral, in die hemel en op die aarde’ -’n oneindige afstand en ’n oneindige gemeenskap. In Jesus het Hy so naby ons gekom dat Hy sigbaar en tasbaar geword het, ja, Christus in ons (Gal 2:20) is nader aan ons as wat een mens aan ’n ander kan kom.

17:28 ‘Want in/deur Hom(Griekse en verwys na ‘in, in noue gemeenskap met, deur’) leef ons (dzáō lewe in die sin van dat Hy die lewe aan ons gee), beweeg ons (kinéō beweeg, kom, gaan) en bestaan ons (eimí om te bestaan of om te wees – met sekere karaktertrekke). Dat die mens in God leef was nie ’n onbekende begrip vir Paulus se gehoor nie (Die Griekse wysgeer Epimenides uit die 6e eeu v.C. het dit reeds gesê. Die Romeinse wysgeer Seneca (1-65 n.C.) het gesê: ‘God is naby jou, met jou en in jou daarom moet jy hom in jou diepste wese vereer.’ Die panteïstiese mistiek het gesê ‘God is in alles en alles is in God.’ Die Grieke het dit op Zeus van toepassing gemaak. Paulus praat egter van die God van die Bybel. Job 12:10: ‘God het al wat lewe in sy mag, die asem van elke mens.’ In Kolossense 1:16-17 sê Paulus:  ‘alles is in Christus geskep…deur Hom en tot Hom…en in Hom hang alles saam;’  en in Romeine 11:36 ‘Want uit God en deur Hom en tot Hom is alle dinge.’ God het met elke mens ’n doel dat die mens Hom sal soek om sy wil te doen. Hy voorsien ook wat nodig is vir die soektog, in Hom beweeg ons. In Ps 32 sê Dawid: ‘My tye is in sy hand.’ Hy reël my dag se program. Om tot en vir Hom te lewe is die doel en sin van die mens se lewe. Jesaja 40:11 sê: Soos ’n herder versorg Hy sy kudde, dra Hy die lammers aan sy bors  en sorg vir die lammerooie. Jes 40:29 ‘Hy gee die vermoeides krag.’

Sommige van die Griekse digters het gesê:  ‘Ons is ook van sy (génos) nageslag/kinders’ – waarskynlik verwys Paulus na die digter Aratus (315-240 v.C.) wat dit sou gesê het. Die gedagte kom ook voor in die Zeusgedig van die Stoïsynse leier Kleanthes (320-230 v.C), Zeno se opvolger. Die Grieke het Zeus beskou as die vader van alle gode en mense. Daarom het hulle die mens vergoddelik. Paulus wil hulle wys dat ’n volk wie se digters en wysgere so ’n diepe insig in die godheid het, moet hulleself nie so verlaag tot aanbidding van afgode en afgodsbeelde nie (Hand 17:16), of tot ’n minderwaardige begrip van ’n god wat deur mensehande bedien word asof hy aan iets behoefte sou hê (Hand 17:25). As die geslag van God moet hulle tot kennis kom van die een God wat bo alle mense en dinge verhewe is en aan almal lewe, asem en alles gee (Hand 17:25). Paulus verstaan dit in die sin van Genesis 1:27 dat die mens na die beeld van God geskep is, wat sy asem in die mens se neus geblaas het (Gen 2:7). Efesiërs 4:6 sê ‘Daar is een God en Vader van almal, wat oor almal en in almal is;’ Ef 3:15: ‘..die Vader van wie elke geslag in die hemel en op die aarde sy naam ontvang.’  Paulus beklemtoon egter in sy briewe dat die kindskap van God in verbondenheid met Christus slegs aan die gelowiges geskenk word: Galasiërs 4:5 God het sy Seun gestuur…sodat ons as sy kinders aangeneem kan word.’ In 1 Kor 8:5-6 sê hy: ‘Al is daar sogenaamde gode in die hemel of op die aarde, en net so baie ‘gode’ en baie ‘here,’ vir ons is daar egter één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’  In Romeine 8:14-17 sê Paulus dat die Heilige Gees in ons gelowiges woon om ons aan die Seun van God te verbind sodat ons deur ons band aan Christus kinders van God word.

Skrywer:  Prof Francois Malan