Die Handelinge van die Apostels: Paulus se preek (deel 2; Hand 13:26-41) – Francois Malan

13:26-41 Hierdie tweede deel van Paulus se preek bevat opsommings van dele van die geskiedenis van Jesus se veroordeling, nie in kronologiese orde nie, met ’n aantal aanhalings uit die Ou Testament wat op die gemeente in die Antiogië-sinagoge van toepassing is.

13:26 Die gemeente word aangespreek as ‘broers,’ om Paulus se verbondenheid aan die twee groepe te beklemtoon: ‘kinders uit die geslag van Abraham en dié mense tussen julle wat God vrees,’ laasgenoemde  verwys na heidene wat hulle afgode gelos het en die God van die Jode aanbid en dien, maar nog nie ten volle Jode geword het deur die besnydenis nie (vgl. 13:16). ‘Aan ons,’ aan julle almal en ons twee saam, ‘is die boodskap (logos) van hierdie verlossing gestuur’ – die passiewe werkwoord verwys na God wat die boodskap gestuur het. Hierdie verlossing verwys na die man na wie Johannes die Doper verwys het, Jesus, die ‘Ek is.’ Hy is die Verlosser en die verlossing wat God dwarsdeur elke eeu aan elke mens stuur. Johannes 1:1,12,14 noem Hom ‘die Woord’ (ho lógos) wat by God was en self God was en mens geword het om elkeen wat in sy Naam glo, kind van God te maak.

13:27  Die Jode in Jerusalem en hulle leiers, na wie hierdie ‘boodskap’ eerste gestuur is, ‘het egter gefaal om Hom te verstaan (agnoéō).’ ‘Hulle het die stemme (fōnás) van die profete wat elke Sabbat (in die sinagoge) hardop voorgelees is, vervul deur hulle voorspelde Messias te veroordeel.’ Hulle het hulle Redder en sy redding nie verstaan nie, ten spyte daarvan dat hulle dit moes verstaan het uit die luide stemme van die profete wat hulle elke Sabbat uit die Skrif aangespreek het. Onbewus en sonder dat hulle dit gewil het, het die Jode elke aanwysing deur die profete oor Jesus se dood, vervul. Hulle was nie bewus daarvan dat hulle die Seun van God, self God, hulle Verlosser, tot die dood aan die kruis veroordeel het nie (Mark 15:13-14; Matt 27:22-23; Joh 19:6,15). Die vervulling van die profete se woorde bewys dat Jesus die verwagte Messias van die Jode is.

 13:28 Hierdie vers sê hoe die Jode die profete se woorde oor Jesus vervul het. Hoewel hulle, die Jode in Jerusalem en hulle leiers, geen (steekhoudende) rede vir (Jesus se) dood kon vind nie, het hulle vir Pilatus gevra om Hom te laat doodmaak. Pilatus se uitspraak was: ‘Ek vind geen skuld in hierdie man nie’ (Luk 23:4). Die Jode se valse aanklagte teen Jesus voor Pilatus, as sou Hy die volk op ‘n dwaalweg lei om nie aan die keiser belasting te betaal nie, en dat Hy beweer dat Hy ’n gesalfde koning is, is deur Pilatus in hulle teenwoordigheid ondersoek en as ongegrond bevind (Luk 23:2-4,14). Maar ten spyte daarvan het hulle aanhou skreeu: ‘Kruisig, kruisig Hom!’ (Luk 23:21,23). Hiermee wys Paulus vir die Jode in Antiogië hoe onbetroubaar die leiers in Jerusalem se verstaan van die profete se woorde oor Jesus is en dat sy gehoor in Antiogië die profete van die Ou Testament se voorspellings oor Jesus behoort te aanvaar.

13:29 Toe die Jode alles vervul het wat oor Hom (deur die profete) geskryf is, het hulle (sy volgelinge onder die Raadslede: Josef en Nikodemus, Luk 23:50-53; Joh 19:38-40) Hom van die kruis afgehaal (ksúlon hout, boom, word figuurlik gebruik vir kruis) en Hom in ’n graf geplaas – om die realiteit van God se dood as sy diepste vernedering te bevestig. Dood is God se straf op die sonde (Gen 2:16). Die Seun van God het ons doodstraf op Hom geneem.  Sy dood en begrafnis is reeds deur die profeet in Jesaja 53:8-10 voorspel, dat Hy sy lewe as ’n skuldoffer gee sodat die Here daarmee sy doel bereik om Self vir die mens verlossing te bewerk.

13:30 Teenoor die mense se behandeling van Jesus staan God. Maar God het Hom uit die dood opgewek. Dit is God se verklaring dat Hy die skuldoffer van sy Seun vir die sonde van die wêreld aanvaar het en sy straf op die mens se sonde ophef (vgl. Ps 103:12 ‘So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, verwyder Hy ons oortredinge van ons’). Dit is die hart van Paulus se boodskap, en word in verse 31-31 uitgebrei en bevestig. Van Jesus se opstanding uit die dood is Paulus oortuig, nadat Jesus uit die hemel aan hom verskyn het op die pad na Damaskus.

13:31 Paulus onderskei tussen twee groepe getuies van die opstanding van Jesus. In vers 31 verwys hy na die mense wat Jesus gevolg het dwarsdeur sy hele bediening van Galilea af tot in Jerusalem, veral die apostels en ’n aantal vroue (vgl. Luk 23:49; 1 Kor 15:5-7 o.a. aan meer as 500 broers tegelyk). Aan hulle het Jesus gedurende verskeie dae verskyn as bevestiging dat Hy uit die dood opgestaan het. Hierdie ooggetuies van sy opstanding, is sy eerste getuies daarvan voor die volk (laos verbondsvolk van God). Die evangelie word eerste aan die Jode verkondig, maar God se verbondsvolk kry nou ook ’n wyer betekenis om alle gelowiges in te sluit. Toe Paulus later aan die Galasiërs, wat Antiogië insluit, skryf, sê hy: besnedenheid of onbesnedenheid beteken niks nie, maar wel die nuwe skepping, die Israel van God, wat volgens die beginsel van die kruis van ons Here Jesus Christus leef in vrede en barmhartigheid  (Gal 6:14-16).

13:32-33 Die tweede groep getuies is ‘en ons,’ Paulus en Barnabas, wat die goeie boodskap verkondig (euangelízomai). Die goeie boodskap is dat God Jesus laat opstaan het uit die dood. Daarmee het Hy sy belofte aan die voorvaders ‘vir ons,’ (die Jode) wat hulle kinders is, vervul. Ons verkondig die goeie boodskap aan julle in Antiogië. Die implikasie is dat dié van julle wat glo in die opstanding van Jesus deel word van die geestelike kinders van die voorvaders, die nuwe Israel van God.

Die opstanding van Jesus lei tot die ewige lewe, dit lei die nuwe skepping in waarna Ps 2:7 verwys: ‘Jy is my Seun, Ek het jou vandag verwek (die perfektum van die werkwoord gennáō beteken dat die gevolge van die verwekking voortgaan). Jesus het met ’n nuwe liggaam uit die dood opgestaan, onverganklik, onsterflik, as voorloper vir almal wat in Hom glo (1 Kor 15:52-53; Rom 1:6 ‘julle wat deur Jesus Christus geroep is’).

13:34 God het vir Jesus uit die dood opgewek as ’n nuwe skepping, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie. Dit is anders as Lasarus wat uit die dood opgewek is en tog weer gesterf het. Jesus is onsterflik uit die dood opgewek en het dit ook op ons van toepassing gemaak. Die Griekse Septuaginta in Jesaja 55:3 word hier aangehaal: ‘Ek sal aan julle die heilige en betroubare beloftes vervul,’ wat aan Dawid in Ps 2:7 en in 2 Sam 7:12,16 gegee is. Dit beteken dat almal wat in die opstanding van Jesus glo, saam met Hom as die Seun van Dawid vir ewig sal lewe (vgl. Dan 7:14; Joh 6:27,39-40,44,47,51,54,58; 10:28; 11:26; 17:2-3; 20:31; 1 Joh 2:17,25; 5:11,13,20; 2 Joh 2).

13:35 Hier word Ps 16:10 aangehaal uit die Griekse Septuaginta (Ps 15:10). Daarvolgens sê die Psalmdigter: ‘U sal u Heilige (u Dienskneg wat aan U toegewyd is) nie ontbinding laat beleef nie.’  Dit kon nie van koning Dawid gesê word nie, soos die volgende vers aandui, maar as voorspelling van die Seun van Dawid, Jesus, God se heilige Seun, wat Hy uit die dood opgewek het om vir ewig te lewe. En dit geld ook vir almal wat in die opstanding van Jesus glo, soos die ‘julle’ in vers 34 uitgespel het. In Hand 2:27,31 het Petrus dieselfde tekste aangehaal wat van Jesus se opstanding getuig (vgl. Gal 1:18 toe Paulus en Petrus vir 15 dae saam was en waarskynlik oor Jesus se bediening en opstanding gepraat het, drie jaar na Paulus se bekering).

13:36 ‘Want, nadat hy volgens God se plan sy eie geslag gedien het, het Dawid gesterf, hy is by die vaders begrawe en hy het ontbinding beleef’- sy lyk het ontbind. Dawid was dus nog verganklik. Die profesie in Ps 16:10 dat hy nie ontbinding sal beleef nie, gaan nie oor Dawid nie, want Dawid het (1 000 jaar tevore) gesterf en sy liggaam het in die graf gebly. Maar dit gaan oor Jesus Christus vir wie God (op die derde dag) uit die dood opgewek het. Petrus het dieselfde teks gebruik en bygevoeg dat, hoewel Dawid gesterf het, hy in vooruitskouing oor die opstanding van Christus Ps 16:10 aangehaal het  (Hand 2:29-31).

13:37 Daarteenoor ‘het Hy vir wie God (uit die dood) opgewek het (vir Jesus, u Heilige, wat aan God toegewyd gelewe het), nie ontbinding laat beleef nie.’ Die getuienis oor Jesus se permanente opwekking uit die dood in vers 34 word ondersteun deur die twee aanhalings uit Ps 2 en Ps 16 en word afgesluit met ’n herhaling in vers 37 om dit te beklemtoon. In vers 37 word Jesus se opwekking uit die dood egter gestel as die vervulling van die beloftes van die twee uitsprake. Dat Jesus se permanente opwekking uit die dood vir ons betekenis het, word in die volgende twee verse uitgespel.

13:38-39 Hier kom Paulus by die toepassing van sy preek wat die betekenis van die goeie boodskap oor Jesus se opstanding saamvat. Paulus spreek die hele gehoor van Jode en godvresende mans en vroue in Antiogië se sinagoge aan as ‘my medemense’ (soos ándres adelfoí ‘manne broers’ ook vertaal kan word). Hulle gemeenskaplike band as sondaars voor God word daardeur beklemtoon. ‘Julle moet dit weet dat, deur hierdie een (Jesus), word die vergifnis van sondes aan julle deurlopend aangekondig (katangéllō teenwoordige tyd dui voortduur aan)’ – dit is wat die verhoogde Jesus deur sy getuies deurentyd aankondig en aanbied.

God se opwekking van Jesus uit die dood beteken vir ‘julle’ en vir elkeen wat in Jesus glo die deurlopende vergifnis van jou sondes en bevryding van alles wat die wet van Moses jou nie van kon bevry nie (letterlik: nie kon regverdig nie). Regverdig, dikaioō, kan ook bevry beteken, maar het die bykomende betekenis om ’n verhouding reg te maak. Die passiewe vorm verwys hier veral na jou verhouding met God, wat deur Jesus se dood en opstanding reggemaak is deur die vergifnis van jou sonde. Daar is geen vergewing van sonde te verwag deur op jou eie goeie werke volgens die wet van Moses te vertrou nie, maar alleen deur geloof in Hom wat God uit die dood opgewek het. Die Jode het gedink dat hulle deur die wet van Moses te onderhou geregtigheid kon verwerf. So kan ’n mens se verhouding tot God nie reg gestel word nie, want alle mense bly voor God sondaars. Jesaja 64:6 sê: Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere (vgl. Ps 14:1-3; 53:2-4 wat Paulus in Rom 3:10-12 aanhaal). En tog word ons goedgunstig deur God se genade vrygespreek deur geloof in Jesus Christus (Rom 3:21-26).

13:40 Paulus sluit sy preek af met ’n ernstige waarskuwing aan die mense in Antiogië teen ongeloof, sodat wat in die Profete-boek van die Jode gesê is, nie met hulle gebeur nie. Paulus kom nie met nuwe dinge nie, maar wat lankal deur die Here gesê is. Mag dit wat die profete reeds gesê het, tog nie oor die Jode in Antiogië kom as hulle die evangelie nie aanneem nie.

 13:41 Paulus haal die Griekse vertaling van Habakkuk 1:5 daaroor aan:

            ‘Let op! julle minagtende spotters…’ (katafronêtai iemand wat gewoonlik veragting vir iets of vir ander voel, wat dink dat iets nooit goed is nie en altyd daaroor praat). Habakkuk beskryf die Babiloniërs as bitter en harde mense, ’n nasie wat oor die hele aarde marsjeer en alles en almal voor hulle vernietig (Hab 1:6-11). Maar die Here gaan die Jode op ’n wonderlike manier verlos, waaroor die Jode gespot het, maar hulle eintlik daaroor moes verwonder. Vergelyk die Here se wonderverlossing van Samaria in die tyd van Elisa (2 Kon 7:6-7) en van Jerusalem in die tyd van Hiskia (2 Kon 19:35). Paulus waarsku Antiogië om nie minagtend teenoor Jesus te voel en op te tree nie, en nie oor die Seun van God en God se verlossingsplan te loop en spot nie.

            ‘…staan verstom – die Jode en godvresendes in Antiogië moet hulle verbaas oor die evangelie, ‘Want in julle dae is Ek besig om ’n daad te doen, ’n daad wat julle nooit sal glo as iemand dit vir julle ten volle vertel nie’ – naamlik dat Jesus, die Seun van God, se dood en opstanding, die straf op die sonde van die wêreld op Hom geneem en weggedra het.   

            ’…en ‘gaan ten gronde’ (passief van afanizō word vernietig). Hierdie woord in Handelinge kom slegs in die Septuaginta van Habakkuk se teks voor en nie in die Hebreeuse teks van Habakkuk, wat die Afrikaanse vertaling gebruik nie. Vir die Jode en godvresendes van Antiogië beteken dit dat hulle ten gronde sal gaan as hulle nie die evangelie aanvaar nie. (vgl. Joh 16:8, ‘wanneer die Heilige Gees kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde, van geregtigheid en van oordeel’). Die sonde waarvan Hy die mens kom oortuig is eerstens dat hulle nie in Jesus glo nie; geregtigheid verwys na die mens se verhouding met God wat deur Jesus reggestel word. Die mens wat nie God se geskenk van geregtigheid wil aanvaar nie, is reeds saam met die duiwel veroordeel (Joh 16:9-11).

Skrywer:  Prof Francois Malan