Die Handelinge van die Apostels: Paulus se preek in die sinagoge (deel 1: Hand 13:17-25) – Francois Malan

13:17 Soos in Stefanus se rede, maar in ’n korter vorm, begin Paulus sy preek met die verlossingsgeskiedenis van die vaders. ’Die God van hierdie volk (laós) Israel het ons voorouers uitverkies.’ Dit het begin met Abraham (Hand 14:26, vgl. Gen 12:1-3). Met Jakob is die verbond bevestig en die Here het vir hom die nuwe naam Israel gegee (Gen 28:13-15; 32:28). Paulus vereenselwig hom met God se uitverkiesing van Israel met sy verwysing na ‘ons voorouers.’ Later sou hy o.a. aan Antiogië skryf dat alle Christusgelowiges aan die ware Israel behoort (vgl. Gal 6:15-16). Tydens Israel se verblyf as vreemdelinge in Egipte het die Here hulle tot sy volk verhef en hulle uit hulle slaweskap bevry (vgl. Hand 7:6,34; Eks 6:5-6; 12:51; Deutr 5:15). Letterlik: ‘hulle met ’n hoë arm daar uitgelei’ ’n Semitiese idioom wat groot krag aandui, en verwys na die 10 plae waarmee die Here Egipte getref het (Deutr 4:34-35). Uit hulle eie was hulle magteloos teen die magtige Egipte, maar in sy vrymagtige genade het die Here, tydens hulle verdrukking, van hulle ’n groot volk gemaak (vgl. Eks 1:20), wat Hy daarna uit Egipte se slawerny verlos het.

13:18 ‘En hulle ongeveer veertig jaar lank in die woestyn verduur het’ (tropoforéō verduur, met uitgebreide geduld te verdra – in Deutr 1:31 word gesê dat die HERE hulle God hulle gedra het (LXX trofoforêō; hoewel Kodeks Vaticanus se LXX ook in Deutr 1:31 tropoforêõ lees. Die Griekse teks wat die 1953-vertaling gebruik het, lees hier in Handelinge ook ‘gedra het’).Volgens die oudste Griekse manuskripte van Handelinge het Paulus egter gesê dat God hulle verduur het. Hulle God het hulle verdra ten spyte van die opstandige en trouelose manier waarop hulle Hom behandel het, vgl. Numeri 14:27,34). Die woord érêmos wat met ‘woestyn’ vertaal is, beskryf ’n onbewoonde plek of gebied, wat ook min plantegroei kan hê (nie ’n sandwoestyn soos die Sahara nie).

13:19 En toe Hy sewe nasies in Kanaän laat uitdelg het, het Hy die nasies se land vir sy volk as ’n kosbare gawe as hulle land laat kry (kataklêronoméō om iemand iets wat baie kosbaar is te laat ontvang as syne; dit word ook vir ’n erfenis gebruik). Die sewe nasies word in Deutr 7:1 genoem. Dat die Here hulle voor Israel verdryf het tot in die tyd van Dawid, is deur Stefanus genoem in Hand 7:45. Dat die Here die land aan Israel as besitting gegee het, word in Jeremia 3:18 genoem. Hier herinner Paulus die Jode in Antiogië daaraan dat alles wat hulle is, deur die genade van God tot stand gekom het. 

13:20 Die proses om Israel tot ‘n groot volk te verhef (13:17) het ongeveer 450 jaar geduur: 400 jaar in Egipte (Gen 15:13; Eks 12:40-41 sê egter 430 jaar), 40 jaar in die woestyn (Num 14:33-34), 10 jaar van die intog in Kanaän tot by Josua se verdeling van die land onder die stamme met aanwysing van die Here deur die lot (Jos 4-14).

Daarna het die Here aan hulle rigters gegee tot die tyd van die profeet Samuel. Telkens het die volk van die Here af weggedwaal, het Hy hulle gestraf deur verdrukking deur die buurvolke, en dan het die Here hulle verlos deur iemand te voorsien om hulle te lei. Samuel is ’n oorgangsfiguur, wat ’n leier was wat die koningstyd ingelui het. In sy tyd het die Here weer met Israel begin praat. Die Here het met Samuel gepraat na ’n lang tyd wat die woord van die Here min gehoor is en daar nie dikwels openbarings was nie (1 Sam 3:1).

13:21 Toe Samuel oud geword het, het Israel om ’n koning gevra  (1 Sam 8:5). God het toe vir hulle Saul, die seun van Kis, uit die stam van Benjamin (‘regterhandseun), vir 40 jaar gegee om hulle van hulle vyande te verlos. Die Ou Testament gee nie aan hoe lank Saul regeer het nie (1 100 jaar later, gee die Here vir Saulus, uit die stam van Benjamin, aan die nuwe Israel as leier; Rom 11:1; Flp 3:5).

13:22 ‘En nadat hy verwyder is’ – nadat God Saul as koning verwyder het (1 Sam  15:23. 1 Sam 31:4-5,9; 1 Kron 10:4-5,9 sê hy het self in sy swaard geval en later het die Filistyne sy lyk se kop afgekap en in hulle land rondgestuur) – ‘het Hy vir hulle Dawid as koning voorsien, van wie Hy getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai gevind (Ps 89:21), ’n man na my hart (1 Sam 13:14), wat al my begeertes sal uitvoer (Jes 44:28).’ Die Jode in Antiogië moet besef dat die Here iemand wat nie na sy roepstem luister nie, kan verwerp (1 Sam 15:26).

13:23 Vir Paulus is God se getuienis oor Dawid ‘n voorbeeld van God se verklarings oor Jesus (Luk 3:22: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My’ (vgl. Jes 42:1; Ps 2:7); Luk 9:35: Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom. ‘Uit hierdie man (Dawid) se nageslag (letterlik: sy saad), het God, volgens sy belofte (2 Sam 7:12,19;  22:51; Ps 132:11,17; Jes 11:1-2) vir Israel ’n Verlosser, naamlik Jesus, voortgebring (vgl. Mark 12:35-37). In Jesus word die belofte aan Dawid vervul. Jesus moet deur die lede van die Joodse sinagoge in Antiogië aanvaar word as hulle Verlosser waarvan die Ou Testament getuig. Maar anders as sy voorvader Dawid wat oorlog moes maak om Israel te verlos van hulle vyande, het die Seun van God kom sterf as die Lam van God om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:29).

13:24 ‘Voor (Jesus) se intog (eisódos; intrede in sy openbare bediening) was Johannes (die Doper) besig om ter voorbereiding (vir Jesus se bediening van versoening met God en met mekaar) die doop van bekering vir die hele volk van Israel te verkondig (Luk 3:3,7,18). Johannes se voorbereidingswerk voordat die dag van die Here kom, word in die Ou Testament voorspel (Mal 3:1; 4:5-6 ook van die versoening; Matt 11:14, soos Johannes het Elia reeds verkondig dat  die hele volk tot bekering moet kom ter voorbereiding van die koms van die dag van die Here, Mal 3:1; 1 Kon 18:21,39).

Die doop van bekering beteken Johannes het gepreek dat mense moet omdraai, weg van hulle sonde af, en hulle laat doop. Bekering metánoia beteken ’n hele verandering van jou lewenswyse deur ’n volledige verandering van jou denke en houding oor wat sonde is en wat die regte pad is. Die Jode het die doop van bekeerlinge uit die heidendom beskou as ’n afwassing van hulle heidense praktyke, maar gedink dat Jode dit nie nodig het nie. Johannes het egter verkondig dat alle Jode hulle moet bekeer van hulle verkeerde weë en gedoop word met die oog op God se vergifnis van hulle sonde met die koms van hulle verwagte Messias/Christus, God se beloofde Verlosser. ‘Al die Jode’ sluit die Jode van Antiogië in, wat hulle nou op Paulus se prediking moet bekeer om hulle voor te berei om in Jesus Christus te glo.

13:25 ‘Toe Johannes besig was om sy taak/sending (drómos, figuurlik vir sy wedloop) af te rond het hy gesê: wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie! Maar kyk! Hy kom ná my, vir wie ek nie werd is om die sandale van sy voete los te maak nie’ (Luk 3:16). Sandale losmaak was die taak van ’n slaaf vir sy heer, en Johannes sê hy is nie eers werd om Jesus se slaaf te wees nie, so wonderlik groot en anders is Jesus as die Seun van God uit die hemel, en die werk wat Jesus kom doen. Waar Johannes die ‘nie ek is nie’ (hou ouk eimì), nie die verwagte Messias nie, is Jesus ‘die Ek is’ (Egō eimí), die HERE van Eks 3:14 (vgl. Joh 8:24). ’n Hele nuwe bedeling van genade word deur Jesus gebring wat Johannes en die Ou Testamentiese bedeling van die wet afsluit (vgl Luk 7:28), ook vir die Jode en godvresendes van Antiogië.

Skrywer:  Prof Francois Malan