Die Handelinge van die Apostels: Petrus in Lidda en Joppe (Hand 9:32-43) – Francois Malan

9:32 Petrus het rond
beweeg en van tyd tot tyd deeglik huisbesoek gedoen, die man wat deur die Here
as herder van die skape aangewys is in Joh 21:15-17. So het hy ook van
Jerusalem se berge afgegaan na die heiliges (mense wat aan die Here toegewy is)
wat in Lidda woon (die huidige Lod) op die vlakte van Saron. Lidda is so
40 kilometer noordwes van Jerusalem af. Filippus het moontlik die gemeente
gestig (vgl. Hand 8:49). Lukas gebruik die ou terme dissipels en heiliges
afwisselend.

9:33 Tydens sy
huisbesoek in die stadjie Lidda kry Petrus vir Eneas, wat al vir agt
jaar verlam op sy draagbaar lê (krábbatos bedjie, draagbaar Mark 2:4; ).
Waarskynlik was Eneas ’n Joodse gelowige in wie se huis Petrus as Jood sou kon
ingaan (vgl. Hand 11:3). Lukas die dokter (Kol 4:14) skryf hoe lank Eneas al
verlam is, soos in Hand 4:22. 

9:34 Die uitsonderlike
gebruik van die werkwoord om te genees het die betekenis: ‘Op hierdie
oomblik genees Jesus Christus jou
.’ As bewys dat hy genees is, gee Petrus
die opdrag aan Eneas: ‘Staan op en maak jou bed op!’ Eneas reageer en staan
onmiddellik op, na ‘n agt jaar lange verlamming. Dit is soos Jesus die 38 jaar
lange sieke by Betesda genees het (Joh 5:8) en nou, na sy hemelvaart, gaan
Jesus voort om deur sy apostel Petrus sy opdrag tot genesing aan Eneas te gee.
Petrus is geen towenaar nie, maar getuie en werktuig van sy Meester Jesus
Christus wat genees. So het die Here ook deur Petrus as sy werktuig die man
onmiddellik genees, wat van sy geboorte af lam was en by die Mooi Poort van die
tempel gesit en bedel het (Hand 3:6-7).

9:35 Al die inwoners
van Lidda en die vlakte van Saron het die verlamde sien loop en hulle
het omgedraai na die Here toe. Saron is die vrugbare seevlakte wat strek van Haifa
aan die voet van Karmel in die Noorde tot by die Jarkonrivier by Tel Aviv met
Joppe (Jaffa) in die suide (vgl 1 Kron 5:16 ‘die veegebiede van Saron;’ 27:29
‘die vee van Saron;’ Hooglied 2:1 ‘Ek is ’n affodil van Saron;’ Jes 33:9:
tydens die ballingskap treur die verwelkte land 
‘en die Saron lyk soos ’n woestynvlakte;’  maar in Jes 35:1-2 belowe die Here aan die
ballinge in Babel: Israel sal die mag van ons God sien in die dorre woestyn wat
sal juig oor die skoonheid van Saron, oortrek met affodille in volle bloei; en
in Jes 65:10: vir dié uit die teruggekeerde ballinge wat na die wil van die
Here vra, sal die Saronvlakte ’n weiveld wees vir kleinvee’). Hulle het
omgedraai na die Here Jesus toe (epistrefō om jou lewenswyse te
verander, terug na die Here toe).

In die Nuwe Testament
is epistrefō ‘om heeltemal om te draai’ een van die drie Griekse woorde
vir bekering, stréfō ‘omdraai’, metánoia ‘lewensverandering
a.g.v. verandering van denke’. Die Heilige Gees gebruik die wondergenesing om
mense te oortuig van hulle sonde en van die vergifnis daarvan deur Jesus
Christus (Joh 16:8) en so word die evangelie, die goeie nuus, verder uitgebrei.
Gamaliël het die Joodse Raad gewaarsku: ‘as hierdie werk van God af kom, sal
julle hulle nie kan keer nie’ (Hand 5:39).

9:36 Soos Lukas dikwels
doen, volg die genesing van ’n vrou op wat die Here aan ’n man gedoen het, hier
haar opwekking uit die dood (bv. die besetene van Gadara, Matt 8:28/Gerasa, Luk
8:26; word gevolg deur die vrou wat 12 jaar aan bloedvloeiing gely het en die
12 jarige dogtertjie van Jaïrus, Lukas 8:26-56). Die toneel verskuif van Lidda
(hedendaagse Lod) na Joppe (hedendaagse Jaffa; vgl. vir Filippus se
veronderstelde verkondiging van die evangelie in Joppe toe hy al die dorpe in
die Saronstreek besoek het, Hand 8:40). In Joppe was daar ’n vrouedissipel (mathêtria;
dieenigste voorkoms van die woord in die Nuwe Testament) van Jesus.
Haar Hebreeuse naam Tabita is in Grieks vertaal as Dorkas,
‘gemsbokooitjie’ in Afrikaans. ‘Sy was vol goeie werke en het aan armes dade
van barmhartigheid gedoen’ – sy het al haar tyd spandeer, uitgemunt in die doen
van  goeie werke, en was mededeelsaam
besig met barmhartigheid/liefdadigheid aan armes.

9:37 Gedurende die tyd
wat Petrus in Lidda besig was, het Dorkas in Joppe siek geword en gesterf.
Nadat haar lyk gewas is, is dit in die bokamer neergelê volgens destyds se
gebruik (vgl. die tyd van Elia, met die dood van die seuntjie van Sarfat (1 Kon
17:19) en in Elisa se tyd met die seuntjie van die vrou in Sunem (2 Kon 4:21).

9:38 Joppe, aan die
Middellandse See, was ongeveer 16 kilometer van Lidda af. Die dissipels, wat
reeds gehoor het dat Petrus in Lidda is, stuur toe twee mans na hom toe met die
ernstige versoek: “Kom asseblief sonder vertraging na ons toe!’  sonder vertraging – mê oknêsês is in
Grieks ’n beleefde manier om ’n versoek te maak, daarom: Kom asseblief
dadelik na ons toe. Dit is ’n dringende beroep van die Here op Petrus, deur die
twee mans, om sy werk in Lidda te los en haastig na Joppe toe te gaan.

9:39 Petrus gehoorsaam
dadelik, staan op en gaan saam met die twee mans na Joppe. In die bovertrek
word hy omring deur al die huilende weduwees. As bewys van hulle gemis
en van Dorkas se armsorg aan hulle wys hulle vir Petrus die onderklede en
bo-klede wat Dorkas vir hulle gemaak het toe sy nog by hulle was. Destyds het
mans en vroue ’n lang kleed gedra. ‘n Dame se kleed was langer, fyner en met
handversierings op om die vroulike stempel daaraan te verleen. Die armes het
dikwels slegs die een onderkleed gehad (vgl. Luk 3:11 ‘wie twee onderklede het,
moet dit deel met iemand wat niks het nie.’ Die bokleed vir beskerming teen
koue in die winter was ook lank, amper soos die hedendaagse japonne. Jesus het
in Mattheus 5:40 gesê: ‘As iemand jou onderkleed wil vat (chitōn,jou
daaglikse drag), gee hom ook die bokleed (himátion)’ – Lukas 6:29 stel
dit andersom. Oor Jesus se naatloos geweefde onderkleed (chitōn) is die
lot gewerp deur die vier soldate (Joh 19:2324).

9:40 Petrus beveel
almal om die bovertrek te verlaat, soos Jesus by die dogtertjie van Jaïrus
(Mark 5:40). Petrus kniel in afhanklike gebed voor die Here om seker te maak
wat die wil van die Here is, en toe hy oortuig is (soos Elisa, 2 Kon 4:33; vgl
Matt 10:8 se opdrag om dooies op te wek) draai hy om na die liggaam en sê: ‘Tabita
, staan op!
’ (soos Jesus in Mark 5:41 vir Talita). Sy maak haar oë oop as
eerste teken dat sy lewe, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit as bewys
dat sy haar liggaamskragte herwin het (soos die jongeling in Nain, Luk 7:15.
Dit is die enigste twee plekke in die Nuwe Testament waar dié Griekse woord anakathízō
‘regop gaan sit’ gebruik word, en dit verwys albei na ’n dooie persoon wat weer
lewendig geword het).

[’n Griekse manuskrip
en Latynse vertalings uit die 6e eeu n.C. het by die opdrag ingevoeg: ‘in die
Naam van Jesus Christus van Nasaret’ soos in Hand 3:6].

9:41 Petrus het haar
aan die hand gevat en opgehelp, soos hy die verlamde man by die tempelpoort
opgehelp het (Luk 3:7). Hy roep toe die heiliges (Jesusgelowiges) saam met die
weduwees en lewer die bewys dat sy lewe (parístêmi om bewys te verskaf
dat iets waar is, soos ook in Hand. 1:3). Haar opwekking uit die dood
was ook ’n heenwysing na die dag wanneer Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons
almal saam met die opgewekte Jesus sal opwek uit die dood om voor die hemelse
Regter te verskyn, sê Paulus in 2 Kor 4:14. 

9:42 Ook hier in Joppe
het die nuus oor die wonder-opwekking uit die dood gou versprei en het daartoe
gelei dat baie tot geloof in die Here Jesus gekom het. Jesus is besig om
baie mense tot bekering te lei. Die Heilige Gees werk deur sy opwekking van
Dorkas om geloof in Jesus by hulle te wek (vgl. Ef. 2:8: ‘Want uit genade is
julle verlos deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe
van God’). Jesus het gesê dat die Heilige Gees oor Hom sal getuig (Joh 15:26).
Ons getuig dat Jesus die Seun van God is; dat ons in Jesus Christus is, die
ware God en die ewige lewe (1 Joh 5:2,20).

9:43 Dié teks is ’n
oorgangswoord na die volgende geskiedenis (Hand 10:1-48) en begin met ‘Dit het
gebeur…’ Die vers sluit die berig oor Dorkas af en berei met Petrus se verblyf
van ’n hele paar dae in Joppe die volgende opdrag van die Here aan Petrus voor.
Petrus bly by Simon die leerlooier. Die ambag van ’n leerlooier was deur
die Jode as onrein beskou, want hy moes deurentyd met onrein dooie diere werk
(Lev 11:1-47; Deutr 14:3-21). Dit is egter ’n voorbereiding vir die gesig wat
Petrus hier by die leerlooier gaan sien, van ’n laken vol onrein diere wat hy moet
slag en eet in opdrag van die Here (Hand 10:12-14). ’n Leerlooier wat in Jesus
glo is iemand wat deur God rein gemaak is (Hand 1:15). Jesus het in elk geval
alle kos rein verklaar (Mark 7:19). 

Met die opwekking van Dorkas word die geskiedenis van die uitbreiding van die kerk onder die Jode in Judea, Samaria en Galilea afgesluit, en begin die verhaal van die sendingwerk onder Jode en heidene ‘tot aan die einde van die aarde’ (Hand 1:8), wat reeds met die bekering van die hofdienaar van Ethiopië begin het.

Skrywer: Prof Francois Malan