Die Handelinge van die Apostels: Petrus se visioen (Hand 10:9-16) – Francois Malan

10:9 Die dag na Kornelius se manne uit Sesarea vertrek het, teen die sesde uur (ongeveer 12 uur die middag volgens Westerse rekening) klim Petrus op met die trappe aan die buitekant van die huis om op die tipiese plat dak van die eenvoudige huis te gaan bid (vgl. Mark 2:4; Luk 5:19; Deutr 22:8). Dit was nie een van die vasgestelde gebedstye van die Jode nie, maar soos Daniël gewoond was om drie maal per dag in sy dakkamer voor sy oop venster te bid (Dan 6:11, vgl. Ps 55:18), gaan Petrus blykbaar ook in middel van die dag op hierdie huis se dak bid. Soos vir Kornelius word Petrus se tyd vir gebed ook ’n tyd vir ’n openbaring van die Here. Soos Filippus sy opdrag kry om na die suide/op die middaguur (mesêmbrían) na die verlate pad na Gasa te gaan (Hand 8:26) en soos Paulus wat naby Damaskus teen die middaguur die helder lig uit die hemel gesien en die stem van Jesus gehoor het (Hand 22:6-7), kry Petrus sy opdrag van die Here op die middaguur in ’n openbaring.

Kornelius se afvaardiging het blykbaar hulle opdrag laatmiddag ontvang en toe uit Sesarea begin stap, langs die pad oornag en die volgende dag verder gestap. Hulle was al naby Joppe toe Petrus gaan bid het. Soos met Ananias en Saulus, is die Here hier besig met twee mense, Kornelius en Petrus, om vir Petrus voor te berei vir sy nuwe opdrag.

10:10 Tydens sy gebed het Petrus honger geword. Eintlik was dit die eerste stap in die Here se voorbereiding van Petrus vir die hoogs belangrike wysiging wat die Here in die lewe van sy kerk wou aanbring. Hoewel die Grieke en Romeine ’n middagmaal geniet het (áriston in Grieks, prandium in Latyn) as hulle tweede ontbyt om twaalfuur, het die Jode slegs ’n ontbyt (áriston Luk 14:1) wat soggens gewissel het van 9-12,  en ’n laatmiddagete, die hoofmaal ná die aandoffer, wat met feeste tot laataand kon strek (deipnon Luk 14:16, Joh 12:2). [Die Romeine se eerste ontbyt is ientaculum genoem, en hulle hoofmaal in die aand cena]

Met Petrus se lang vas deur die oggend en tydens sy gebed, het hy baie honger geword. Maar terwyl die huismense vir hom ’n maaltyd voorberei, het ’n ekstase ‘op hom gekom,’ ’n Joodse segswyse vir ‘hy het in ekstase geraak’ (ékstasis beteken letterlik: om buite jouself te wees). Dit was ’n toestand wat God oor hom gebring het waarin hy vir die oomblik sy gewone beskikking oor sy sintuie verloor het, om noukeurig te kan onderskei en om op die saak te kan konsentreer. Hy verkeer in ’n hoë sfeer, wat Paulus in 2 Kor 12:2-4 beskryf as weggeruk tot in die derde hemel.

10:11 Petrus sien toe die hemel is geopen en ’n voorwerp is besig om af te daal, iets soos ’n groot linnedoek wat stadig aan vier hoeke neergelaat word op die aarde. Toe Petrus aan die Joodse Christene in Jerusalem die gesig beskryf het, het hy gesê hy het in ekstase ’n visioen gesien en die groot voorwerp het tot by hom gekom. Die geopende hemel het Petrus oortuig dat die Here besig is om iets aan hom bekend te maak, soos aan Stefanus wat die hemele geopen gesien het (Hand 7:56).

10:12 In die groot dalende voorwerp was daar van elke soort mak en wilde viervoetige diere en kruipende diere/reptiele (herpetá wat slange, rotte, muise, paddas, akkedisse, ens. insluit) van die aarde en voëls van die lug (vlieënde of wilde voëls). Noag moes ook van elkeen van die drie soorte in die ark opneem (Gen 6:20). Romeine 1:23 verwys ook na die drie soorte skepsels wat die Here gemaak het, waarvan mense afbeeldings maak om as hulle god te dien. Dit is eintlik ’n algemene uitdrukking wat al die diere en voëls insluit.

10:13 Die stem wat Petrus hoor, kom uit die geopende hemel. Dit is die stem van die verhoogde Christus vir wie Petrus liefhet (Joh 21:15,16,17) en dien en verkondig, wat hom beveel om die diere en voëls te slag en te eet. Die implikasie is dat hy hom nie hoef te bekommer of dit rein of onrein vleis is nie. Die kruipende diere/reptiele was feitlik almal as onrein beskou. Daarmee hef Jesus die verbod van Levitikus 11:1-47 en Deutr. 14:1-21 op. Nuwe wyn kom in nuwe leersakke (Markus 2:22) as beeld van die nuwe verbond se nuwe lewenswyse wat die oue kom vervang. Jesus het verduidelik dat niks wat in die mond ingaan ’n mens onrein maak nie, maar wel wat by die mond uitkom, uit ’n bose en onbarmhartige hart. En daarmee het Hy alle kos rein verklaar (Mark 7:19; vgl ook Matt 15:10-20). 

10:14 Petrus antwoord met ’n baie sterk beklemtoonde ‘Nee, beslis nie! (mêdamōs), Here, want ek het nog nooit enigiets wat besoedel of onrein is geëet nie’ – dit verwys na wat ’n Jood verontreinig of vir hom onrein is. Die impulsiewe Petrus het Jesus ook by geleentheid sterk aangespreek (Matt 16:22). Dat hy egter bly by ’n Christen-Joodse leerlooier wat met dooie diere se velle werk, wat ook vir hom kos maak, het hom skynbaar nie gepla nie.

 10:15 Die Here het weer met die stem met Petrus gepraat en gesê: ‘Wat God gereinig het, jy nie as onrein’ – verkorting vir ‘wat God rein gemaak het mag jy nie as onrein beskou nie’  (vgl. ook 1 Kor 10:25-26 en 1 Tim 4:4-5)

Wat God egter rein gemaak het, blyk uit die verloop van sake, waar die Here vir Petrus stap vir stap ingelei het in die betekenis van die woord wat tot Petrus gekom het. Dit gaan veral oor twee sake: oor alle kos wat Jesus rein verklaar het en oor alle mense wat deur die Here gereinig word.

                1 Op ’n direkte aanskoulike manier is vir Petrus en al die Joodse Christene gewys dat hulle onderskeiding tussen rein en onrein kos laat vaar moet word. Die ou tradisie in Israel, op grond van Levitikus 11:1-47, Deuteronomium 14:1-21 en Genesis 6:20; 7:2-3 om tussen rein en onrein diere onderskeid te maak, is reeds deur Jesus deurbreek (Markus 7:17-23/Matt 15:10-20). Jesus het gekom om alle kos rein te verklaar (Mark 7:19). Die Jerusalemgemeente het Petrus voor stok gekry omdat hy met sy besoek aan Kornelius saam met onbesnede mans aan huis saam geëet het (Hand 11:3). Maar na Jesus se woord aan Petrus mag kos hulle nie langer weerhou om saam met die gelowiges uit die heidendom te eet nie.

                2 Toe Petrus verder oor die visioen nagedink het, het die Gees gesê hy moet sonder aarseling saam met die drie manne van Kornelius gaan (Hand 10:20). Daarom beskou hy die visioen as ’n gelykenis waarmee Jesus hom wou leer dat hy die heidene nie langer as onrein moet beskou nie, maar hulle in die gemeenskap van die gemeente moet opneem.       

                2.1 Daarom nooi hy Kornelius se gesante om die nag by hom oor te bly (Hand 10:23), betree hy die heiden Kornelius se huis, en sê hy vir die gemeente wat in Kornelius se huis bymekaar gekom het, dat God aan hom getoon het dat hy geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie (Hand 19:28).

                2.2 Hy verkondig die evangelie ook aan die heidene, want hy het oortuig geword dat Jesus Christus die Here is van alle mense (Hand 10:36).

                2.3 Terwyl Petrus nog met Kornelius en sy mense gepraat het, is die geskenk van die Heilige Gees selfs op die heidense gelowiges uitgestort, soos op die Joodse gelowiges op die Pinksterdag (Hand 10:44-47).

                2.4 Die gelowiges uit die heidendom is daarom toe gedoop in die Naam van Jesus Christus om hulle in die kerk van Christus op te neem en Petrus het self met hulle in gemeenskap getree (Hand 10:48).

So het die Here vir Petrus stap vir stap gelei oor hoe Jesus alles kom nuut maak het. In Johannes 15:3 het Jesus reeds vir sy dissipels gesê: Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het (1 Tim 4:4-5). Hy is die Woord van God, by God, self God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe en dié lewe was die lig vir die mense (Joh 1:1-4; vgl. 1 Kor 8:6 en Gen 1 waar God telkens deur sy Woord skep, en sê: ‘laat daar lig wees…ens.).  Die woord van die Here bewerk wat Hy sê (Ps 33:3,6,9; 147:15; Jes 46:10; 55:11).

Paulus beskou die wet van die Ou Testament as ’n oppasser (paidagōgòs, ’n slaaf wat die kinders skool toe neem en sorg dat hulle leer, Gal 3:24); ons was onder die toesig van die wet, totdat Christus sou kom, sodat ons deur geloof vrygespreek kan word. Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van ’n oppasser nie, maar is almal kinders van God in Christus Jesus, Jood, Griek, slaaf, vryman, man, vrou, almal één in Christus Jesus! (Gal 3:25-28). Die onderskeid voor God is nie meer rein-onrein kos of rein-onrein mense nie, maar geloof in Jesus en sy woord wat alles rein maak, teenoor ongeloof in Jesus en sy woord. 

10:16 Die feit dat die opdrag van die stem uit die hemel driemaal na Petrus toe gekom het om te slag en te eet, beklemtoon die erns daarvan. Daar mag geen onsekerheid meer wees nie. Petrus moet oortuig word dat die vroeëre gebooie van God nie meer geld nie. Hebreërs 10:1 sê: ‘Die wet bevat immers net ’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge.’ Hebr 10:9-10: ‘Die Here skaf die eerste offers af, om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd’ (vgl. Hebr 4:1-7 oor die Jode wat soos slawe onderworpe was aan die elementêre beginsels. Maar Christus het diegene wat onder die wet was losgekoop, sodat hulle as sy kinders aangeneem kon word en as sy kind is jy ook erfgenaam deur die wil van God.

Toe Petrus die opdrag aanvaar, is die groot voorwerp dadelik weer in die hemel opgeneem vanwaar dit gekom het om te beklemtoon dat dit van God af gekom het, en dat die hemel dit nou aan Petrus oorlaat om dit te oordink en toe te pas.

Skrywer:  Prof Francois Malan