Die Handelinge van die Apostels: Saulus vervolg Jesus se volgelinge (Hand 8:1b-3) – Francois Malan

8:1b Direk na die moord op Stefanus,
‘op daardie dag,’ bars ’n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem los
en Jesus se volgelinge word verstrooi deur die gebiede van Judea en Samaria.
Die groeiende gemeente wat tot nou toe in guns was by die volk (Hand 2:47), kon
nie langer rustig in Jerusalem voortgaan nie. Die Here gebruik die vervolging
van sy volgelinge om sy belofte te vervul: ‘julle sal krag ontvang wanneer die
Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem en in die
hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde’ (Hand 1:8). Later sou
hulle verder as Judea en Samaria gaan (Hand 11:19). In Jerusalem is hulle met
die Heilige Gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig
(Hand 4:31). Maar nou vlug hulle uit Jerusalem en word verstrooi deur die
gebiede van Judea en Samaria. Tertullianus het gesê: die bloed van die
Christene is die saad van die kerk. Dit lyk asof dit hoofsaaklik die liberale
Hellenistiese Jode was wat moes vlug, en dat van die meer konserwatiewe
Hebreeuse Jode, wat nog die tempeldienste besoek en die Joodse gebedstye gehou
het, in Jerusalem agtergebly het, soos later in Handelinge blyk (Hand 11:1;
15:2; vgl. ook 1 Kor 16:3). Die apostels het voorlopig nog in Jerusalem gebly
en die gemeente daar versorg.

8:2 Manne wat aan God toegewy gelewe
het, het Stefanus begrawe en ’n groot rou oor hom gehou, as die eerste
Christen martelaar
vir sy getuienis oor Jesus. ’n Gestenigde moes op dieselfde
dag begrawe word om die land nie te ontheilig met sy lyk nie (Deutr 21:23).
Maar oor ’n gestenigde mag, volgens die Joodse wet, nie gerou word nie. Hierdie
rou oor Stefanus bewys egter sy onskuld en dat hy onskuldig vermoor is. 

8:3 As teenbeeld van die vromes wat
Stefanus begrawe en oor hom gerou het, tree Saulus verwoed op teen al wat
Jesus-volgeling is. Hy verbreek die huisreg deur hulle van huis tot huis in
Jerusalem uit te snuffel en tronk toe te sleep in ’n poging om die
Jesus-beweging te vernietig
(Gal 1:13,23 vgl. Hand 15:9; Flp 3:6; 1Tim
1:13). Dit het vroue ingesluit, soos hy self erken het (Hand 9:2; 22:4). Hy het
geweet dat vroue ’n groot rol in geloofsake speel.

Filippus preek die evangelie in Samaria (Hand 8:4-13)

8:4 Die gelowiges, wat deur die
vervolging in Jerusalem verstrooi is in die streke van Judea en Samaria (8:1),
het rondgetrek (dierchomai het die gedagte van ‘n deeglike en verspreide
deurgang van plek tot plek) en die goeie nuus oor Jesus verkondig. Terwyl
Paulus in die stad van die oorsprong van die evangelie voortwoed, laat God sy
goeie boodskap in die wêreld versprei deur die vlugtelinge. Hulle vlug
word ’n sendingtog. Die boodskap oor Jesus se opstanding uit die dood, en dat
Hy aan die regterhand van God sit, waarvoor die Raad hulle ore toegedruk het en
probeer het om dit met klippe uit te roei, kry nou ’n wye gehoor. Jesus het
vroeër die twaalf uitgestuur om Galilea te deurreis om die koninkryk van God en
die evangelie te gaan verkondig in een dorpie na die ander (Luk 9:2,6) en later
die 72 na elke dorp en plek in Judea en Perea (Luk 10:1). Nou stuur Hy die
skare vlugtelinge uit, wat vervul was met die Heilige Gees (vgl. Hand. 4:31),
deur hulle te verstrooi deur die streke van Judea en Samaria. Hulle verkondig
die Woord dat Jesus uit die dood opgestaan het en oor die heelal regeer.  So vervul Jesus sy belofte in Handelinge 1:8
‘Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my
getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde
van die aarde.’

8:5 Lukas gee vir ons slegs enkele
voorbeelde van die werk van die verstrooides. Een voorbeeld is die getuienis
van Filippus, een van die sewe gekose dienaars wat later in Sesarea ‘die
evangelis’ genoem word (Hand 6:5; 21:8). Hy het na ’n stad in Samaria gegaan en
‘die Christus’ aan hulle verkondig. Die Samaritane het, soos die Jode,
gelewe in die verwagting van ’n Messias, ’n spesiale agent van God. Hulle het
hom Taheb ‘die een wat herstel’ genoem. Daarom gebruik Lukas hier die woord
‘die Christus’ – die Griekse vertaling van die Hebreeuse Messias, die Jode se
verwagte verlosser. Die Samaritane se Bybel het slegs die eerste vyf boeke van
die Ou Testament gehad. Op die berg Gerisim van Genesis 27:12, het hulle ’n
altaar gebou en later ’n tempel, wat deur die Siriese koning Antiochus IV aan
Zeus gewy is en toe deur die Joodse koning Johannes Hyrkanus afgebreek is.
Hulle verwagting van die koms van Taheb het gespruit uit die belofte van ’n
profeet soos Moses in Deutr 18:5. Die dorp Sigem is naby Gerisim, en word met
die dorp Sigar van Joh 4:5,20 geïdentifiseer. Die dorp kon moontlik die stad in
Samaria gewees het waarheen Filippus gegaan het.

8:6 Voorop in die Griekse sin, met
beklemtoning, staan proseichon ‘hulle het met aandag geluister, met die
implikasie dat hulle die woord aangeneem het.’ Daarby word die woord homothumadon
‘eensgesind’ gebruik (wat tien keer in Handelinge voorkom) om die positiewe
reaksie van die dorpie se skare op Filippus se woorde en die tekens wat hy
gedoen het, te beskryf  (vgl. vers 7).
Soos by Jesus en die apostels bevestig die tekens die woordverkondiging (Hand
1:1; 2:42-43). Soos in Hand 3:16; 9:34 is dit ‘die Christus (God se Gesalfde)’
wat deur sy gestuurdes die wonders doen as tekens van die Gesalfde koning
Jesus se heerskappy wat begin deurbreek
(vgl. Hebr 2:3-4). Indien die
dorpie in Samaria juis Sigar is, is die inwoners reeds deur Jesus se vroeëre
prediking daar voorberei (Joh 4:39-42), toe die vrou by die put vir die
Samaritane gesuggereer het dat Jesus ‘die Christus’ kan wees (Joh 4:29). Nou
het hulle gehoor dat Jesus opgestaan het en vanuit die hemel regeer. Hulle
eensgesinde reaksie verskil van Jerusalem se inwoners se teenstrydige reaksies
van geloof en ongeloof.

8:7 Die wondertekens wat deur Filippus
gedoen is word beskryf: baie mense wat onrein geeste gehad het wat die beheer
oor hulle lewe oorgeneem het, is daarvan verlos en die onrein geeste het
telkens met ’n groot geskreeu uit hulle uitgegaan; talle verlamdes en kreupeles
is ook deur Jesus genees (vgl. Luk 10:9,17; ook Mark 9:28-29/Matt 17:19-21).
Die eerste teken is gehoor toe die bose geeste uitgaan en die tweede is gesien
toe verlamdes en kreupeles loop.

8:8 Die skare se aanvaarding van die
goeie boodskap wat Filippus gebring het, die mense wat van die bose geeste
verlos is en die verlamdes en kreupeles wat weer kon loop, het die mense van
dié Samaritaanse stadjie met vreugde vervul. Die egtheid van die Samaritane se
geloof blyk uit hulle vreugde as eggo van die vreugdeboodskap wat
Filippus gebring het (die woord euangelizomai wat vir ‘verkondig’  in vers 4 gebruik is behels die oordrag van
die goeie nuus, die evangelie van die verlossingwerk van Christus wat alleen
ware vreugde kan bring).

8:9 Die nuwe toneel begin met ’n
sekere man, genaamd Simon. Voordat Filippus daar aangekom het, het Simon in die
stad magiese kunste beoefen en die bevolking van Samaria grootliks verstom,
sodat hy hulle oorweldig het. Hy het beweer dat hy iets besonders is.
(Justinus die martelaar wat ongeveer 100 n.C. in Samaria gebore is, op 30
jarige ouderdom tot bekering gekom het, en in 165 n.C. in Rome onthoof is oor
sy geskrifte en verdediging van die evangelie teen die filosowe, het Simon
beskryf as ’n groot towenaar wat sy kuns met die krag van demone beoefen het,
en beweer het dat hy die verskyning van die hoogste god is). Dat Simon beweer
het om iemand besonders te wees met sy bonatuurlike kennis en kragte, verwys na
’n soort superwese, ’n soort goddelike mens – moontlik die Samaritane se
verwagte Taheb? (vgl. vers 10). Die landstreek Samaria was bekend vir bygelowe
wat die mense verkneg het, en daarvan moes die evangelie van Christus die mense
kom verlos. 

8:10 
‘Almal (in die stad/streek), van klein tot groot (’n idioom wat na al
die inwoners verwys) het steeds in hom geglo en gesê: hy is die krag van Godwat die groot (krag) genoem word.’ ‘Die Groot Krag’/hé dunamis hê
megalê,
was ’n naam vir die hoogste God (vgl. Mark 14:62 ‘die Magtige/dunamis’).Die mense het Simon blykbaar as die menslike openbaring van god beskou. So
wou die mense van Listra ook later vir Barnabas en Paulus as gode begin vereer
(Hand 14:11-13).

8:11 ‘Hulle het hom aangehang omdat hy
vir ’n geruime tyd al met sy magiese kunste hulle verwonderd gelaat
het.’  Die herhaling van wat reeds in die
vorige twee verse gesê is, versterk net die beskrywing van wat daar in die stad
vir ’n lang tyd aangegaan het.

8:12 Toe hulle egter geglo het in die goeie boodskap van verlossing in die Naam van Christus wat Filippus verkondig het oor die koninkryk van God, is hulle gedoop, mans sowel as vroue (die imperfektum werkwoord wys die doop het voortgegaan soos die mense tot bekering gekom het).Die Naam van Christus verwys na sy reputasie as die Verlosser uit die bande van sonde en siekte en demone, deur sy lewe, sterwe en opstanding. Anders as die Jode se besnydenis van seuns en mans alleen, is Jesus se verlossingswerk vir alle mense om hulle lewe te onderwerp aan die koninklike heerskappy van God se Christus/Gesalfde Koning aan God se regterhand (Luk 22:69). 8:13 Ook Simon het geglo, en nadat hy gedoop is het hy heeltyd by Filippus gebly, en toe hy die tekens en groot kragte  sien wat gebeur, was hy verbaas. Soos Simon die bevolking met sy toorwonders verbaas het, word hy nou verbaas deur die wonders wat die Gees deur Filippus verrig, wat sy wonders ver oortref.

Skrywer: Prof Franxois Malan