Die Handelinge van die Apostels: Stefanus kla die Raad aan (Hand 7:51-53) – Francois Malan

7:51 ‘Hardnekkiges en
onbesnedenes van harte en ore…!’ So beskuldig Stefanus die Joodse Raadslede wat
almal besnede Jode is, maar in hulle verstarde denke en ongehoorsaamheid aan
die Here, onbesnedenes van hart en ore is. Stefanus pas sy lang relaas oor die
vaders se hardnekkigheid op die Raad toe. Hulle het harde koppe, met heidense
harte en heidense ore en weerstaan altyd die Heilige Gees. Hulle hoor
nie en is nie oop vir oortuiging nie. Hulle nekke is hard en wil nie buig voor
die woord van God nie. Hulle ken die woord van God wat nou weer tot hulle gekom
het deur die Heilige Gees wat die woorde vir Stefanus gegee het. Sy getuienis
was ‘n oorsig oor die volk se dwase optrede teen Josef en Moses, mense wat die
Here gestuur het om hulle te red. Die Septuaginta gebruik ook die woord
‘hardnekkig’ (sklêrotráchilos) vir Israel wat die goue kalf aanbid het
terwyl Moses die wet van die Here op Sinaiberg ontvang het (Eks 33:3,5). Die
woorde ‘onbesnede hart’ (kardía aperítmêta in Lev 26:41) en onbesnede
ore (aperítmêta ōta in Jer 6:10) word ook deur die Septuaginta gebruik.
In Jesaja 63:10 sê die profeet dat die volk van die Here, wat deur die Here
teruggebring is ná hulle Babiloniese ballingskap, in opstand gekom het teen die
Heilige Gees. In Numeri 27:14 gebruik die Septuaginta ook die woord ‘weerstaan’
(antipíptō) vir die volk se optrede teen die Here. So het die Raad nou
die Heilige Gees weerstaan met hulle verwerping van die apostels se getuienis
oor Jesus. Al die woorde wat Stefanus gebruik vir die Raad se teenstand teen
Jesus, is aan die Raad bekend uit wat die Ou Testament oor hulle vaders se
teenstand teen die Here en sy Gees sê. Die Gees het juis gekom om van Jesus te
getuig deur die getuienis van Jesus se volgelinge in wie Hy kom bly het (Joh
15:26-27 en 14:17).

7:52 Met sy retoriese vraag
dring Stefanus daarop aan dat die Raadslede nadink hoe hulle vaders
opgetree het teen die boodskappers wat die Here na hulle gestuur het. Die ware
profete het altyd ’n woord van die Here vir sy volk gebring as die volk die
wet, wat die Here deur Moses aan hulle gegee het, oortree het en hulle rug op
die Here gedraai het. Daarmee het hulle die verbond verbreek wat die Here met
hulle gemaak het om hulle God te wees (Gen 17:7; vgl. Lev 26 se seëninge en
strawwe). In sulke tye het die volksleiers en priesters vóór geloop deur die
Here se pad te verlaat en die profete te vervolg. Vergelyk Elia se klag in 1
Kon 19:10; die beskrywing in 2 Kron 36:14-16;Daniël 9:6 se belydenis;
die volk wat uit ballingskap teruggekom het se belydenis oor hulle voorvaders
(Neh 9:26); Jesus se aanklag in Lukas 13:34. Hulle het die profete
doodgemaak
, vgl. bv. Josia wat die Here se boodskapper Sagaria met klippe
laat doodgooi het. Sagaria was die seun van die priester Jojada wat vir Joas
uit sy ouma Atalia se moord van al haar kleinkinders gered het en vir Joas saam
met sy seun Sagaria grootgemaak het. En dit omdat Sagaria gesê het dat die Here
hulle gaan straf omdat hulle die Here verlaat het (2 Kron 24:20-22; Luk
11:50-51).

Jesus het gesê dat vir die
bloed van al die profete, wat sedert die skepping van die wêreld uitgegiet is,
vergelding van hierdie geslag geëis sal word – van die bloed van  Abel tot by die bloed van Sagaria (Luk 11:47-51).
Dit beteken van al die verwerpte en vermoorde profete wat in die Bybel genoem
word – die Hebreeuse Bybel begin met Genesis en eindig met 2 Kronieke. Die
profete het die koms van die Regverdige vooraf aangekondig. In Hand 3:14 noem
Petrus Jesus ‘die Heilige en Regverdige,’ wat die Raad laat vermoor het.
Ananias het na Jesus, wat aan Saulus verskyn het, verwys as ‘die Regverdige’
(Hand 22:14), so ook 1 Joh 2:1.  ‘Die
Regverdige
’ verwys na iemand wat lewe volgens God se vereistes (vgl. Luk
3:22 ‘God se geliefde Seun oor wie Hy Hom verheug’). Pilatus het geen skuld in
hierdie ‘Regverdige’ mens voor hom gevind nie (Luk 23:4,14,22; vgl. Matt
27:4;19,24).

In die toepassing van sy lang
oorsig oor Israelse verwerping van die Here en sy boodskappers, wys Stefanus
die vinger na die volk, die familiehoofde en skrifkenners wat hom met geweld
voor die Sanhedrin gebring het (Hand 6:12). ‘Julle het nou die Regverdige
Jesus
se verraaiers en moordenaars geword.’ Hulle het deur hulle haat
teenoor God en sy profete, die enigste Regverdige op aarde vermoor (vgl. Rom
3:10: ‘Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie).’ Die Romeinse
offisier by die kruis het ná Jesus se dood getuig: ’Waarlik, hierdie man was dikaios,
regverdig/onskuldig (Luk 23:47).’ Pilatus se vrou het hom tydens Jesus se verhoor
gewaarsku om niks te doen te hê met ‘daardie regverdige man’ nie (Matt 27:19).

7:53 Hulle moord van Jesus is ’n blatante oortreding van die wet wat hulle kastig so verdedig (Hand 6:13). Die wet sê duidelik: ‘Jy mag nie moord pleeg nie’ (Eks 20:13). Die verwysing na die wet kan ook die hele Ou Testament insluit wat dikwels die wet van die Here genoem word. Die verwysing na engele kan al die boodskappers van die Here insluit  – die Hebreeuse woord malak kan na boodskapper en engele verwys (Hand 3:18 God se profete; Hand 3:21 heilige profete; Hand 3:24 al die profete). In Hand 3:38 is reeds na ’n engel verwys (vgl. Gal 3:19; Hebr 2:2). Die Griekse vertaling het die moeilik verstaanbare Deutr 33:2 se ‘vurige wet’ (1983 vertaling: ‘hulle plek’) vertaal as ‘was sy engele  met Hom.’  Dit het moontlik aanleiding gegee tot die gedagte dat die wet deur die beskikking van engele gegee is. Vir Stefanus is die beskikking deur engele des te meer rede om die Raad te beskuldig dat hulle God se wet, wat deur hemelse engele oorgedra is (diatassō), oortree het met hulle verraad en moord op Jesus. Die engele is deel van die heerlikheid van God en sy heiligheid wat deur die Raad geskend is. Stefanus se prediking eindig met die vermaning wat eintlik ’n oproep op die Raadslede om tot bekering te kom en nie soos hulle vaders voort te gaan met hulle verwerping van die Here en sy boodskappers nie.

Skrywer: Prof Francois Malan