Die Handelinge van die Apostels: Storm op die see (Hand 27:13-38) – Francois Malan

27:13 ’n Ligte suidewindjie begin waai teen Kreta se suidelike kus. Daarom het hulle gedink hulle sal hulle doel, die hawe Feliks bereik, deur al teen die suidekant van Kreta te vaar om nie in die oop see ingewaai te word nie. Hulle het die anker gelig en so na as moontlik (asson) al langs die suidelike kus van Kreta na Feliks wes van Mooi Hawens begin vaar (paralégomai tegniese skeepsterm ‘langs die kus vaar’).  

27:14  Dit was egter nie lank nie of ’n geweldige stormwind (tufōnikós die oorsprong van die naam Tifoon, die legendariese vader van die wind, storms en vuurspuwende berge) het van die land se kant op hulle afgestorm. Die wind is genoem Noord-Ooster, Eurakilon (’n mengsel van die Griekse euros ‘Oos-Suid-Oos’ en Latynse Aquilo ‘Noord-Noord-Oos.’ Sommige manuskripte het Euroklidon ‘Oosvloedgolf’). Dit was ’n wind wat orkaansterkte (117+ km/u ) kon hê en blykbaar van oorkant die eiland en vanaf die 2 456 meter hoë berg Ida in Kreta op hulle afgestorm het. Die wind dryf hulle juis suid, weg van die kus van Kreta af, die diepsee in. (Nahum 1:3 sê die Here kom in rukwind en storm. Asaf het teen die vyande van die Here gebid: ‘agtervolg hulle met u stormwind, bring hulle in verwarring met u orkaan. Laat hulle met skande daarvan afkom, sodat hulle U Naam mag aanroep, Here! (Ps 83:16-17; vgl. Jesus wat die storm stilgemaak het, Luk 8:23-25). Die winde is ook boodskappers van God.

27:15 Die skip is van koers af gedwing (sunarpázō) en kon nie in die gesig van die wind kyk nie (mê antofthalméō). ‘Ons het ons aan die wind oorgegee en is deur die krag van die wind meegevoer.’ Die matrose wou blykbaar die skip omdraai om terug te vaar Mooi Hawens toe, maar die wind het dit onmoontlik gemaak, hulle moes die seile stryk en hulle is die oop see in, waar die wind die skip ookal rondgegooi het.

27:16 Die wind het hulle om die klein eilandjie Kauda gewaai (huidige Gaúdos, ongeveer 80 km suid-wes van Mooi Hawens af) sodat hulle aan die suidekant, die lykant daarvan bereik het, wat hulle ’n bietjie teen die Noordweste wind beskerm het (hupotréchō lykant, skeepsterm vir die kant wat teen die wind beskerm word). Toe kon hulle met groot moeite die sloep onder beheer kry – die klein bootjie wat agter die skip aan ’n tou gesleep is, is seker deur die wind teen die skip gestamp en hulle moes hom op die skip kry dat hy nie stukkend gestamp word nie.  

27:17 Nadat hulle die sloep tot op die skip opgetrek het, het hulle toue onder die skip deurgetrek en vasgemaak om dit teen die geweld van die water en teen sandbanke te beskerm. Hulle was juis bang dat hulle op die sand van die Sirtis sal strand (ekpíptō ’n skeepsterm vir ‘van koers af gedryf word en strand). Die Sirtis was twee vlak baaie aan die noordekant van Afrika, die groot Sirtis aan die kus van Libië en die klein Sirtis aan die kus van Tunisië, teen die Sahara woestyn. Die vlak water trek met die gety terug en skepe steek permanent vas in die sand. Toe het hulle die ding stadig laat sak – wat die ding (skeuos enige soort instrument) is, word op verskillende maniere geraai. Dit kan o.a, verwys na die dryfanker wat die spoed van die skip kon verminder. So is hulle deur die wind verder gedryf. 

27:18 ‘Omdat ons so geweldig deur die storm geteister is’ het hulle, die matrose, noodmaatreëls begin toepas. Die volgende dag het hulle die vrag van die skip oorboord gegooi (ekbolê is ’n tegniese term vir vrag oorboord gooi). Die kosbare vrag koring uit Egipte vir Rome wat die doel van die vaart is, word oorboord gegooi so asof die hoop om Rome te bereik vervaag het. Dit word egter gedoen om die skip en die lewens te red (vgl. die eerste van Paulus se waarskuwings in 27:10). Daarmee word die skip baie ligter, kan makliker deur die wind rondgeslinger word, maar dit kan help dat die skip nie sink nie (vgl. Jona 1:5). 

27:19 Op die derde dag het hulle selfs van die skeepstoerusting uitgesmyt (rhíptō met geweld uitgooi), om die skip nog ligter te maak. Dat die matrose uit hulle eie dit gedoen het, wys dat hulle hoop op oorlewing besig was om te taan. Hulle begin die ondergang van die skip verwag. Dit is ook die begin van die ondergang van die skip, as gevolg van die ‘kundige’ oordeel van die kaptein en die eienaar van die skip, wat haastig in Rome wou kom en nie na die Here se gesant se woorde wou luister nie (27:11).

27:20 Daarby was dit so donker dat die son en die sterre vir baie dae nie geskyn het nie.Vir die antieke tyd se matrose wat nog sonder ’n kompas was (waarskynlik tot na die jaar 1000 n.C. in Europa), was die verduistering van die son en sterre waarvolgens hulle hulle rigting bepaal het, erger as die storm. Die stormweer, waarskynlik met digte wolke, koue, weerlig en wind het nie in die minste sy krag verloor nie. ‘Alle hoop dat ons gered sou word is op die ou end ons ontneem.’ Selfs Lukas se hoop op redding (’n belangrike tema in Handelinge) het verdwyn.

27:21 Die enigste wat in die tyd kop gehou het was Paulus. As gevolg van die mense se angs en dat hulle sonder hoop op redding uit die dreigende lewensgevaarlike situasie was, was hulle vir ’n lang tyd nie lus om te eet nie (asitía) en moontlik ook seesiek. Maar Paulus het in die siedende storm tussen hulle opgestaan en hulle daaraan herinner dat hy hulle gewaarsku het om nie van Kreta af weg te vaar nie (anágomai skeepsterm) om hierdie skade en verlies te vermy (27:10), maar dat hulle sy waarskuwing in die wind geslaan het. Hy noem dit terwyl hy bewus is dat hulle nie sy woorde as God se waarskuwing gehoorsaam het nie (vgl. 27:23). Sy aanklag was bedoel om hulle tot inkeer te bring om na hom te luister.

27:22 Maar nou dring Paulus by die hoopverlore mense aan ‘skep moed en wees blymoedig (euthuméō) want daar sal geen lewensverlies onder julle wees nie.’ Die rede daarvoor word in die volgende twee verse aangegee. Die skip sal egter vergaan, soos die vrag wat hulle reeds uitgegooi het (27:18). Die skade en verlies waarteen Paulus hulle gewaarsku het, tref die twee manne op wie die kommandant meer vertrou het as op Paulus, die kaptein van die skip en die eienaar van die skip. Wat die lewensverlies betref, wat Paulus in sy vooruitsig gesien het (27:10), het daar ’n nuwe goeie wending gekom waaroor hulle kan moed skep en blymoedig wees.

27:23  Dié nag wat pas verby was, het ’n engel aan Paulus verskyn, ’n boodskapper van die God aan wie hy behoort (letterlik: wie s’n ek is) as God se boodskapper op aarde, vir wie hy dien en vereer as die Here van sy lewe. Dié engel het by Paulus kom staan met die hoopvolle boodskap wat hy moet oordra aan dié mense sonder hoop op die skip. Saam met sy trooswoord bely Paulus sy persoonlike verhouding met God.

27:24 Paulus gee die boodskap van die engel letterlik weer. Dit begin met die engel se versekering: ‘Moenie vrees nie Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn (parístêmi gebring word).’ Dit het die Here reeds in Hand 23:11 belowe en Hy sal sy belofte gestand doen. Daarmee word Paulus verseker dat die Here sal sorg dat hy hierdie skipbreuk oorleef. Die verdere belofte van die Here word ingelei met ’n sterk beklemtoning deur die engel om die besonderse ingryping van die Here om hulle te red te beklemtoon:  ‘En kyk! dit is seker! God het aan jou genadiglik en mildelik gegee (charízomai) en almal saam met jou.’ Dat God die geskenk aan Paulus gee is moontlik ’n aanduiding dat Paulus vir sy reisgenote gebid het en dat God sy gebed, wat onmoontlik gelyk het, uit genade aan hom as geskenk gegee het. So het Abraham vir Sodom gebid en het die Here vir Lot en sy twee dogters en die stadjie Soar saam met hulle gespaar uit die vyf stede in die vlaktestreek: Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Soar (Gen 19:22,29). Dit alles spreek van die mildheid van God se genade aan dié wat Hom liefhet. Paulus se insig dat daar lewensverlies sou wees (27:10), het God uit sy milde genade omgekeer, en gaan Hy veel meer doen as wat Paulus verwag het. 

27:25 Daarom herhaal Paulus sy oproep van vers 22: ‘Skep moed!’ Paulus vertrou op God dat Hy sy woord wat Hy aan hom gegee het sal uitvoer, dat Hy dit ook net soos (letterlik: op die manier) aan hom vertel is, sal uitvoer. So wil Paulus by sy hoorders vertroue in God opwek. Ps 33:4 sê: ‘die woord van die HERE is reg, en al sy werk is betroubaar.’ 

27:26 ‘Ons moet (volgens God se besluit) egter op een of ander eiland deur die wind op die kus af gedryf word (epipítō skeepsterminologie: van koers af gewaai, strand).’  Paulus kondig die skipbreuk aan as God se besluit waaroor hy hulle gewaarsku  het (27:21). Daarmee straf die Here die skeepskaptein en die eienaar van die skip wat teen Paulus se advies besluit het om die see te trotseer. Maar om op die wye oop see, te midde van die geweldige storm, op ’n eiland 476.6 seemyl (882 km) van Clauda af te strand, is weer eens God se genade deurdat Hy die skommelende skip met die wind op die eiland afstuur. As die Noord-Ooster meer noord was, sou hulle op die Sirtis beland het, maar die wind het al meer oos en selfs ’n bietjie suid gedraai na Malta toe, al nader na Rome toe, God se bestemming vir Paulus. As hulle in Mooi Hawens of Feniks sou oorwinter het, sou dit baie langer geneem het om Rome te bereik. 

27:27 ‘Toe dit al die veertiende nag word wat ons deur die wind op die Adriatiese See heen en weer gedryf word (diaférō), het die matrose teen middernag vermoed (sonder sekerheid) dat hulle besig was om iets baie belangriks (tís), land! te nader.’ As kenners van die see kon hulle dit waarskynlik uit die geluid van die golwe wat op die land breek aflei.

27:28 Die matrose het ’n peiling geneem (bolízō skeepsvaartterm, ’n tou met ’n stuk lood onderaan, ’n dieplood, word laat sak om te sien hoe diep die seebodem is). Met die eerste peiling was die see twintig vaam (orguiás) diep – ’n vaam is die lengte van twee uitgestrekte arms van vingerpunt tot vingerpint, ’n bietjie meer as 1.85 meter. 20 vaam sou ongeveer 36 meter diep wees. Toe hulle ’n bietjie verder weer ’n peiling neem, vind hulle die diepte van die see is 15 vaam, ongeveer 27 meter. Dit beteken dat hulle vinnig op pad is land toe wat ’n strandingsgevaar inhou.

27:29 Die lesings bring hoop en vrees, die hoop dat hulle kan land. Maar vir eers oorheers die vrees dat hulle op rotse afstuur, wat die skip kan beskadig en hulle lewens op die rotse verpletter. Hulle laat sak vier ankers tot op die vlakkerwordende seebodem. Gewoonlik word ankers van die boeg af laat sak, maar hulle laat die ankers van die agterstewe af (prúmna) sak om die spoed van die skip te probeer verminder wat deur die wind van agter af aangedryf word (27:15). En toe het hulle gebid/begeer/gewens dat die dag aanbreek (eúchomai bid met die gedagte om iets te vra, of: om te begeer met ’n vroom begeerte).

27:30 Terwyl dit nog donker was wou die matrose ongemerk van die skip af wegvlug omdat hulle bang was die skip en almal gaan teen die rotse verpletter word. Die ander mense op die skip laat hulle oor aan hulle lot. Kras selfsug is nie ongewoon wanneer mense in nood is nie. Hulle het die sloep van die skip af (27:17) wat hulle aan die begin uit die see opgetrek het, 27:17) in die water laat sak sodat hulle daarmee kon vlug en ’n plek langs die kus kan gaan soek waar hulle veilig kon gaan land. Hulle het egter voorgegee dat hulle ankers van die boeg (prōira voorste punt van die skip) af, met die sloep ’n ent van die skip af wil laat sak om die skip aan weerskante van die boeg te anker.

27:31 Paulus sien deur hulle plan en waarsku die kommandant en sy soldate. Die voorwaarde waarop almal op die skip gered sal word, is dat almal op die skip by Paulus sal bly. Die engel se woord aan Paulus was juis: ‘En kyk! God het aan jou geskenk almal saam met jou’ (27:24). As almal by Paulus bly, bewys dit dat hulle op die belofte van die Here aan Paulus vertrou (27:24-25). Almal se redding hang daarvan af of hulle by Paulus bly, want God se guns het hulle almal aan die redding van Paulus se lewe verbind. Die matrose is ook die kundiges wat sal weet hoe om tydens die skipbreuk op te tree (27:40).  

27:32 Die soldate se lewe is in gevaar as die matrose vlug. Daarom kap hulle die toue, waarmee die matrose die sloep laat sak, met hulle swaarde af. Die sloep, wat hulle by Kauda uit die see opgetrek het en op die skip vasgemaak het, val terug in die onstuimige see. Hulle hoop op redding op die sloep verdwyn met die sloep, en is hulle ook net op die Here se belofte van redding aangewys, soos die hele bemanning.

27:33 Op die vorige merkwaardige toneel van die matrose wat die skip soos rotte wil verlaat, volg die volgende merkwaardige toneel. Dit is nog donker, die storm woed nog aaneen, alles is nog onseker, die groep is in twee verdeel tussen matrose en soldate, die bekommerde groep mense het almal vir dae nie geëet nie. Die gevangene Paulus neem die leiding. Met sy onwrikbare geloof en hoop op God luister hulle na hom, skep hulle weer moed, begin saam eet en saam regmaak vir die dag se nuwe geweld. ‘Voor dagbreek het Paulus by almal aangedring om elkeen sy deel van die kos te gebruik. Hy het gesê dit is al die veertiende dag wat hulle in spanning oor die gevaar en gespook om die skip te beveilig sonder kos bly, sonder om iets te eet.’ Dit onderstreep die geweld waaraan die skip en sy mense onderwerp is, en die beeld van die mag van die woord en voorbeeld van die apostel van Jesus Christus teenoor die mag van die natuur (vgl. Jesus wat die storm stilgemaak het; Luk 8:23-24).

27:34  Paulus herhaal sy vorige waarskuwing en belofte (27:21-22) en dring nou by almal ernstig aan (parakaléō kan beteken: ernstig vra, of om bymekaar te roep – wat hier moontlik altwee veronderstel word) om te eet metalambánō trofês is eintlik om jou deel van die voedsel te ontvang. Dit veronderstel ’n gemeenskaplike maaltyd en vrede tussen die twee groepe. Die ete is deel van hulle redding uit die gevaar en die herstel van hulle liggaamskragte – ook van hulle versoening met mekaar. Paulus belowe dat niemand van hulle ’n haar van sy kop sal verloor nie (vgl. Jesus se woorde in Luk 21:18 en 12:7). Dit is ’n Hebreeuse uitdrukking ook in die Ou Testament, vgl. 1 Sam 14:45; 2 Sam 14:11; 1 Kon 1:52; vgl. Dan 3:27  wat beteken ‘niks sal so iemand oorkom nie, geen skade sal so iemand tref nie’).

27:35 Paulus bevestig sy vermaning en belofte deur voor te gaan, ’n voorbeeld te stel, self brood te neem, God voor hulle almal hardop te dank vir die brood en vir hulle redding, die brood te breek en self daarvan te begin eet. Terwyl die storm woed en die gevaar van skipbreuk al groter word, gaan Paulus kalm en rustig voort om te eet as teken dat hy op God se uitredding vertrou. Hy bely ook sy geloof deur God voor almal hardop te dank vir hulle redding en vir die voedsel (vgl. Jesus se dankgebed telkens voor die maaltyd; Luk 9:16; 24:30; 22:17). Paulus is nou duidelik die leier van die hele groep reisigers.

27:36 Almal het bemoedigde mense geword en hulle het saam geëet – hulle deel van die voedsel aangeneem. Hulle het Paulus se vermaning aanvaar. As teken dat hulle moed geskep het en hulle stryery gelos het, het hulle Paulus se voorbeeld gevolg en saam geëet.

27:37 Hier gee Lukas die getal van al die persone op die skip: 276 aan wie die skeepskombuis voedsel verskaf het, wat Paulus se voorbeeld gevolg het en wat lewendig uit die storm op die land aangekom het – geen haar van enigiemand het geval van die groot getal skipbreukelinge nie (vgl. Lukas 12:7).

27:38 Toe hulle genoeg van die voedsel geëet het, het die matrose die skip ligter gemaak deur die (laaste) van die koring (wat vir kos gehou is) in die see te gooi. Volgens 27:18 het hulle al by Kauda begin om die skeepsvrag oorboord te gooi. Hoe ligter die skip, hoe makliker kan hulle land. Die sloep is reeds weg, waarmee hulle op die laaste stuk van die vlak water kon roei. Die oorboordgooi van die koring om die skip nog ligter te maak vir stranding was ook ’n teken van hulle vertroue dat hulle behoue sal bly wanneer hulle gaan skipbreuk ly en nie weer op die skip gaan eet nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan