Die Heilige Gees (1)

There is not one blade of grass, there is no colour in the world that is not intended to make us rejoice – Johannes Calvyn

 

Die Heilige Gees (1)

David Schrock het ‘n interessante artikel oor die Heilige Gees geskryf. Ek gaan twee blogs daaraan bestee.

 

In 1 Korintiërs 2 kry ons sewe waarhede aangaande die Gees.

  1. Die Gees ken vir God

Die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimeniise van God (2:10). Dit gaan nie hier oor ‘n oppervlakkige ondersoek nie. Die Gees ondersoek alle dinge. Dit beteken Hy weet alles – selfs die diepste geheimenisse van God. Die Gees se kennis is volmaak, absoluut. Die Gees leer nie deur kursusse by te woon of boeke te lees soos ons doen nie. Sy kennis is ewig en onveranderlik. Paulus wil nie vir ons die metode verduiudelik waardeur die Gees alles weet nie. Hy maak ‘n eenvoudige stelling: Die Gees weet alles.

 

  1. Die Gees is God

Die Gees wat God ken, is God. Hy is nie ‘n mag of krag nie – Hy is God. Luister na Paulus se argument: Watter mense ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees (kleinletter) van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God (2:11). Paulus sê nie dat die Gees deel van God is nie. Die Gees van God weet alles, want Hy is God.

 

  1. Vir die mens om God te ken, moet die Gees dit bekend maak

So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God (2:11). Wat beteken dit? As ons enige geestelike kennis van God het, is dit omdat die Gees dit bekend gemaak het. Ons kan baie dinge van God weet, maar ons kan nie God ken nie. Slegs deur die Gees kan jy God waarlik ken. Ons ken God deur sy selfopenbaring en deur die werk van die Gees. Om God te ken, moet die Gees ons oë oopmaak.

 

  1. Deur die Gees verstaan ons genade

So weet ons wat God ons uit genade geskenk het (2:12). Paulus het kategories die mens se vermoë om God se gedagtes te verstaan, ontken. Sonder die Heilige Gees kan die mens nie geestelike werklikhede raaksien nie. Sonder die Heilige Gees het die mens geen verdediging teen die gees van die wêreld nie. Paulus sê ons het die Gees ontvang sodat ons kan verstaan. Wat kan ons verstaan? Dit wat God ons uit genade geskenk het. In ons wêreld wat so vinnig beweeg, vergeet ons die evangelie van genade. Ware lewe kom deur aan God se genade vas te klou. Dit is die Gees wat vir ons hierdie verstaan van God se genade gee.

 

  1. Die Gees rus boodskappers van die evangelie toe en stuur hulle

Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer (2:13). Ons praat van die evangelie van genade, nie uit wysheid as gevolg van die rede van die mens nie, maar deur die wysheid wat die Gees gee. In elke gehoor is daar twee soorte mense: diegene sonder die Gees wat nie die dinge aangaande God kan aanvaar nie en diegene wat deur die Gees in die waarheid loop.

 

  1. Die Gees verberg Hom vir die trots van die mens

Die persoon sonder die Gees aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (2:14). Sonder die Gees verwerp die mens die boodskap van genade. Net die Gees kan blinde oë oopmaak.

 

  1. Die Gees openbaar God se genade aan diegene wat Hy gekies het

Die mens sonder die Gees verstaan nie; die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel (2:15). Paulus haal Jesaja 40:13 aan: Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?

 

Die beteken nie dat ons nou alles weet wat God weet nie of dat Christene altyd reg is nie. Christene het wel die geestelike persepsie om die God van die evangelie te verstaan en lief te hê. Dit kom deur die Heilige Gees. Ons het die waarheid dringend nodig. Mag God aan ons die Gees gee in ons plaaslike gemeentes.