Die Heilige Gees ontvang en vervul wees met die Heilige Gees – Francois Malan

WILLIE VRA:

As ek glo dat Jesus Christus DIE HERE is wat vir my sonde gesterf het, het ek die Heilge Gees ontvang. Dit verander nooit weer nie ( hoop ek verstaan dit reg).

My vrae is:

1- is daar n verskil tussen die Heilge Gees ontvang en vervul wees met die Heilge Gees ?

2- Ef 5:18 – Laat die Heilge Gees julle volmaak . Kan u asb die begrip verduidelik ( hoe werk dit)

Antwoord

  1. Volgens Lukas 1:15 was Johannes die Doper reeds van sy geboorte af met die Heilige Gees vervul. Reeds voor sy geboorte het die kindjie in sy moeder Elisabet van vreugde beweeg toe die swanger Maria haar gegroet het (Luk 1:44). So het die Here vir Jeremia 600 jaar voor die koms van Christus reeds gesê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel (Jer 1:5).

In Handelinge 1:8  sê Jesus vir sy dissipels: Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom – om sy getuies te wees tot aan die uithoeke van die wêreld. En dan word hulle op die Pinksterdag met die Heilige Gees vervul en het begin praat in ander tale soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het (Hand 2:4). Die Here gebruik hulle met ’n tale wonder om te praat oor die groot dinge wat God gedoen het met die sterwe en opstanding van Jesus. Die wonder is dat mense van verskillende plekke in die Romeinse ryk wat vir die fees na Jerusalem toe gekom het, dit elkeen in sy eie taal kon hoor en verstaan (Hand 2:11).  Daarmee wou die Here vir die kerk en vir die wêreld wys dat die goeie boodskap van verlossing deur Jesus vir alle volke, nasies en tale gekom het (Openb 10:11; 14:6) – getuies van Christus tot aan die uithoeke van die wêreld. Dit is die doel van die vervulling met die Heilige Gees.

Dit sou weer gebeur dat hulle met die Heilige Gees vervul sou word in dié sin dat die Heilige Gees ten volle oor hulle beskik: vgl. Hand 4:8-13 dat die ongeleerde en eenvoudige vissers, Petrus en Johannes, met vrymoedigheid voor die geleerde Joodse Raad van Jesus getuig het dat Hy die enigste persoon is waardeur ons verlos kan word. So het die gelowiges ook met vrymoedigheid die woord van God verkondig toe hulle met die Heilige Gees vervul is (Hand 4:31).

Die Heilige Gees is God wat in ons kom woon (Joh 14:17; Joh 14:20-21, 23 sê dat Jesus en die Vader by ons kom woon as ons Hom liefhet; Rom 8:11,14). Die werk van die Heilige Gees is om oor Jesus te getuig (Joh 14:26), om ons te oortuig van sonde en van hoe Jesus ons verhouding met God reggemaak het (Joh 16:8). Dit is Hy wat ons tot geloof in Christus lei (Ef 2:8) sodat ons deur ons geloofsband met die Seun van God kinders van wie God is (Rom 8:10-17).

Die vervulling met die Heilige Gees dui in Handelinge op ’n besondere toerusting vir ’n besondere taak  (soos in Hand 2:7-11; 6:5 en in 7:55 met Stephanus as diaken en martelaar-getuie van God en Jesus; 13:9-12 vir Paulus om die goewerneur van Siprus tot geloof in die Here te lei).

  1. Efesiërs 5:18 skilder die teenbeeld van dronkenskap wat tot losbandigheid lei. Om jou egter onder die invloed van die Heilige Gees te stel dui hier op ’n voortdurende proses, anders as die momentele gebeurtenisse in Handelinge waardeur die bose magte en kragte oorwin word. Die passiewe teenwoordige tyd van die Griekse werkwoord plerousthe ‘om (steeds) vervul te wees’ deur die Gees, wys op ’n voortgaande handeling deur die Gees. Ons moet sorg dat God ons kan volmaak met sy Gees wat in ons werk. In die lig van Ef 5:17 beteken dit dat ons vol gemaak moet word met die wysheid wat nodig is om die wil van God te ken om reg voor Hom te lewe, en dan so op te tree.

Hoe so’n lewe lyk word in Ef 5:19-21 in vier sinsnedes uitgespel: ons moet met mekaar praat as mense wat bly is en saam kan sing van God se liefde, mense wat entoesiasties borrel van vreugde dat God ons as sy kinders aangeneem het in ons geloofsverbondenheid aan sy Seun (vgl. Rom 8:15). Die vierde sinsnede sê ons moet nederig aan mekaar onderdanig wees. Filippense 2:2-5 stel dit nog sterker, dat ons sonder selfsug en ydelheid so eensgesind moet wees dat die een die ander hoër ag as homself, om die ander se belange raak te sien. Die tweede en derde sinsnedes vra dat ons uit ons harte psalms vir die Here sal sing en God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus sal dank. So sorg ons dat die Here ons vul met die Gees.

In Galasiërs 5:16-26 spel Paulus die lewe onder die Gees se leiding en met die Gees se krag uit, en beskryf die lewe van iemand wat vol van die Heilige Gees is. Die vrug van die Gees in ons lewe is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (5:22-23). So lyk en lewe iemand wat hom deur die Gees laat volmaak.

As jy glo in Jesus as die Seun van God, wat self God is en mens geword het (Joh 1:1,14) vir jou sondes gesterf het en dat jy nou saam met Hom kan opstaan uit die sonde en as kind van God (Joh 1:12) vir God begin leef, kan jy seker weet dat dit die werk van die Gees in jou is wat jou daartoe oortuig en gelei het.

Skrywer:  Prof Francois Malan