Die Heilige Gees

Die Heilige Gees – Francois Malan

Chris vra:

Hoe werk die Heilige Gees en wat is die funksie van die Heilige Gees?

Antwoord:

Dr Francois Malan antwoord:

Die Heilige Gees is God, die Gees van God wat vir Christus en die verlossingswerk van Christus aan die kruis in ons harte bring en ons in gemeenskap met Christus laat lewe. Lees wat Johannes 16:5-11 sê van die werk van die Heilige Gees: Hy oortuig ons van sonde, geregtigheid en oordeel:

1.    Die Heilige Gees oortuig ons van ons sonde en roep ons tot berou daaroor – die vernaamste sonde is ongeloof in God se openbaring deur Christus, die verwerping van die evangelie, die goeie tyding oor Christus se verlossing vir ons. Die verwerping van God se liefdesdaad  (vergelyk  Johannes 3:16) beteken dat ek nie uit sy liefde wil lewe nie.

2.    Hy wys vir ons hoe om van ons sonde verlos te word deur te glo in Christus wat vir ons sonde gesterf het en deur God opgewek is uit die dood. Daarmee het God Christus se offer vir ons aanvaar. Die Heilige Gees lei ons om te glo dat my sonde vergewe is voor God en dat Hy my aangeneem het as sy kind (vergelyk Romeine 8:16).

3.    Die Heilige Gees oortuig ons van die oordeel van God wat aan die kruis voltrek is, dat die Satan daar oorwin is (vergelyk Johannes 12:31). Die Heilige Gees is die krag van God wat vir my die krag gee om nee te sê vir die versoekings van die Satan en van my eie hart.

Dit doen die Heilige Gees deur ons te bereik met die prediking van die Woord (in die kerk, deur die Bybel, deur die getuienis van mense, deur ons kennis van die Woord van God), beslag te lê op ons en ons in te lyf in die liggaam van Christus, sy kerk. As die Heilige Gees Christus aan ons preek, bring Hy Christus in ons harte en laat ons in Christus wees. Hy bewerk in ons die geloof in Christus (vergelyk Romeine 8:9-11). Maar in ons bly Hy God, die grote God voor wie ons slegs in dankbaarheid kan buig, die Here wat ons in alle waarheid lei (Johannes 16:13), ook in wat ons dink en beplan.

Hy lei ons om God lief te hê, en mekaar lief te hê. Deur Hom bly ons in God se liefde en God se liefde in ons (1 Johannes 4:11-16).

 

Outeur: Dr Francois Malan