Die Here doen wat Hy sê (Beloftes in die Bybel)

Die Here doen wat Hy sê (Beloftes in die Bybel)

Mense sê darem maklik iets wat hulle nie bedoel nie. Hulle sê hulle sal jou bel of by jou kom kuier en dan doen hulle dit nooit nie. Daarom is daar ʼn spesiale woord wat ons gebruik as iemand regtig ernstig is en jou 100% wil oortuig dat hy of sy dit gaan doen wat gesê word. Die persoon plaas dan sy eie eer en integriteit op die spel en beklemtoon dit deur te sê: “Ek belowe jou”. As hy dan sy woord breek, sê dit iets van sy integriteit: hy is onbetroubaar en ʼn leuenaar. Ja, beloftes maak skuld.

Die Bybel is vol beloftes… en dit is feitlik deurgaans God se beloftes. Sjoe, wat beter kan ʼn mens kry. As God belowe, hoef ons nie te wonder of dit gaan gebeur nie. God plaas sy eie eer op die spel as Hy iets belowe. Daarom kan ons maar seker weet dit gáán gebeur. God gaan sorg.

Wat alles nog wonderliker maak, is wat God alles belowe. Dit is die wonderlikste dinge en ons kan seker wees dit gaan alles gebeur. Hy belowe dat Hy vir ons God sal wees as ons Hom dien; dat sy liefde ons sal dra deur wat ook al mag kom; dat Hy ons nie bo ons kragte sal beproef nie; dat Hy met ope arms vir elkeen wag wat in Hom glo en dat as ons in Hom glo ons vir altyd saam met Hom sal wees. Ja, Hy beloof Hy is naby jou, selfs in jou deur sy Gees. Jy hoef nooit bang of alleen te voel nie. En as jy nie meer weet wat om te doen of waarheen om te vlug nie, wéét, Hy is daar. So kan ons aangaan. Miskien moet jy al die beloftes van God in jou Bybel merk. Jy sal verbaas wees wat die Here alles vir jou beloof. En die beste van alles is, Hy breek nooit sy woord nie. Sy beloftes is regtig beloftes.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy