Die Here toets my

One who condones evils is just as guilty as the one who perpetrates it. -Dr. Martin Luther King Jr.,

Die Here toets my

In Eksodus 17 lees ons van  Israel wat by Refidim kamp opslaan. Daar is egter ‘n groot probleem: daar was geen water vir die mense om te drink nie. Die volk maak rusie met Moses. Moses antwoord: Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef? Die NIV stel dit sterker: Why do you put the Lord to the test? 

Die Israeliete oortree blatant die reëls wat vir heerser-onderdaan verhoudings geld.  [Gideon het dieselfde gedoen.]  Die mens kan tog nie die Here toets nie.

En die teenoorgestelde? Die siening dat die Here sy mense toets, kry ons dikwels in die Ou Testament. Die doel van hierdie toetsing  is:

  • Om mense se geloof te bewys. Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand. Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen (Jeremia 17:10).
  • Om hulle geloof te verfyn. Dié derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word. Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor. Ek sal sê: “Hulle is my volk.” En hulle sal sê: “Die Here is ons God.”  (Sagaria 13:9).

Beide dimensies van toetsing kry ons ook in die Nuwe Testament. In Handelinge 5:9 beskuldig Petrus vir Ananias en Saffira dat hulle die Heilige Gees uitgetart het. Handelinge 15:10 lees ons: Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ‘n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? In 1 Tessalonisense 2:4 lees ons: Hy wat ons diepste gedagtes toets.

Die taboe om God te toets in die Ou Testament word oorgedra op die toetsing van Jesus Christus in die Nuwe Testament. Die evangelies is vol voorbeelde van waar mense vir Jesus Christus toets. Opvallend is Paulus se oproep aan die Korintiërs: Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het en hulle het deur slange omgekom (1 Korintiërs 10:9).

Dat God sy mense toets kom algemeen in die Bybel voor. God doen dit nie sonder rede nie: Hy wil ons geloof toets en/of verfyn.