Die Here van genade

 “Criticism may not be agreeable, but it is necessary. It fulfills the same function as pain in the human body. It calls attention to an unhealthy state of things.” Winston Churchill

Die Here van genade

Verlossing gaan alles net oor God se genade. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie (Efesiërs 2:8 – 9). Al wat verlossing vereis, is geloof. Glo jy dat Jesus Christus is wie Hy sê Hy is?

Dit beteken dat ek glo dat Hy die Here is. Maar wat beteken die woord Here? Dit is ‘n titel wat  meester of eienaar beteken en verwys na ‘n persoon in ‘n gesagsposisie.

Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie. Julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik (1 Korintiërs 6:19 – 20). Hy het ons gekoop en ons is syne. Glo jy dat jy aan Hom behoort?

Dieselfde Here wat ons in sy genade van die sonde en dood verlos het, is nou ons Eienaar – ons behoort aan Hom en ons moet in gehoorsaamheid aan sy heerskappy leef. Hierdie oproep van Jesus om Hom te volg en sy dissipels te word, is oop vir almal.  As Hy die Here is, skryf Hy die agenda van ons lewe – ons lewe behoort nou aan Hom. Hy beplan die agenda en ons roeping. Jy vertel nie vir Hom wat jy bereid is om te doen nie. Hy is die Here, die Eienaar en Meester van sy kinders.