Die Israeliete trek deur die Rooisee (3)

Preaching on unity doesn’t unify a church. Preaching Jesus unifies a church. —Steve Dighton

Die Israeliete trek deur die Rooisee (3)

In Eksodus 14 kry ons een van die hoogtepunte van Israel se uittog uit Egipte – die deurtog deur die Rooisee. Wat kan ons uit hierdie deurtog deur die Rooisee van Jesus Christus en verlossing leer? Drie dinge:

  • Ons trek uit gebondenheid/slawerny – lae en lae bande wat ons vasbind.
  • Ons trek uit deur genade.
  • In die proses het ons ‘n Middelaar.

Hoe trek ons uit Egipte – deur genade

 

Hoe reageer Moses op die bang, klaende Israeliete? Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenare nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (14:13 – 14). Die beginsel van genade kan nie duideliker as dit gestel word nie – staan vas, want die Here gaan vir julle veg. Staan vas en moenie na julle werke kyk nie. Verkry verlossing deur wat God vir jou doen en nie deur wat jy self doen nie.

Aan die een kant van die see was Israel binne bereik van die Egiptenare. Daarom trek hulle deur die see terwyl die Egiptenare gestuit word. Die Israeliete trek van die dood na die lewe, van veroordeling en die doodsvonnis na vryheid. In alle ander godsdienste moet mense hulle pad na die ander kant toe oopveg. Die Christelike godsdiens is anders: Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kolossense 1:13); Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (Johannes 5:24).

Ons kan nie iets by God se verlossing byvoeg nie. Wat moet ons dan doen? Net wat die Israeliete gedoen het: Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red. Dit is vir ons moeilik, want ons wil iets doen. God het reeds jou sonde hanteer. Sien raak wat God in Christus vir jou gedoen het.