Die Jehovagetuies

Die Jehovagetuies – Pieter Verster

Zanne vra:

Ek wil graag weet wat glo die Jehovagetuies; wat is die verskil tussen hulle en die Christelike geloof?

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Die Jehovagetuies

Wie het nie al die klop aan die deur gehoor en die twee of drie persone  binnegenooi  wat dan die  traktaatjie oorhandig en  met jou in gesprek tree oor wie hulle noem “Jehova” nie? “Jehova” is die naam wat volgens hulle in die Ou Testament  vir God gegee word. Hulle besoek mense om hulle te oortuig dat “Jehova” die ware God is en aanbid moet word. Kenners van die Ou Testament  wys egter daarop dat die uitspraak eerder “Jahweh” moet wees.

Die belangrikste saak wat aan die orde kom wanneer oor die Jehova-getuies gepraat word, is die belydenis aangaande  die Drie-eenheid van God. Die belydenis dat God Drie-enig, Een ware God, naamlik  Vader, Seun  en Heilige Gees is, word ontken. Jesus is volgens hulle nie die Ewige  Seun van God, wat self ook God is nie. Hy is ‘n god. Hy is die eerste en belangrikste skepsel maar nie Een ware God met die Vader nie. Hulle sou dus ook nie die  geloofsbelydenis van Nicea kan erken nie. Daarin word bely dat Jesus “God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit  waaragtige God, verwek en nie gemaak nie” is. Hierdie belydenis leef in verskeie kerke se lidmate se harte. Jesus Christus is  waarlik God wat volkome mens geword het.

Kan hierdie belydenis egter nog steeds volgehou word.  In die boek: “Die Jehova-getuies en die Bybel” skryf  Prof Dr  JP Louw baie helder dat die belydenis dat Jesus  volkome God  wat ware  mens geword het duidelik in die Bybel voorkom en dat die oorspronklike Grieks dit bevestig. Jesus is Eersgeborene  wat sy status aantoon en nie die tyd van ontstaan nie. Hy is self ook Skepper en nie die eerste skepsel nie (Vergelyk Kolossense 1:15.) Johannes 1:1 bevestig in geen onduidelike taal  dat Jesus  God is nie en nie maar ʼn god nie. Talle ander gedeeltes in Johannes bevestig dit veral Johannes 20:28. Maar ook Paulus bevestig dit  in Filippense 2: 6-7.

Hierteenoor beweer die Jehova getuies dat daar volgens Deuteronomium 6:4 slegs een God is, naamlik Jehova. Dit neem egter nie weg dat ons in die lig van die Nuwe Testament verstaan dat die een God die Drie-enige  God is nie.

Die Heilige Gees word  beskou as ʼn onpersoonlike straling van God. Handelinge 5:3-4 maak dit egter baie  duidelik dat die Heilige Gees God is. Ook Matteus 28:19 stel die Seun, die Vader en die Gees gelyk.

Christus se versoeningswerk word ook totaal anders verstaan. Daarom lê hulle nie klem op die verlossing nie, maar dat Christus moes kom om God se eer te red. Die wederkoms van Christus sou ook in 1914 plaasgevind het. Die uitbreek van die eerste wêreldoorlog word as bewys aangevoer, maar Openbaring 1;7 sê duidelik dat elke oog Hom sal sien en dat die wederkoms  nie geheim sal wees nie.

Hulle meen ook die tien gebooie het verval, bloedoortapping is sonde omdat jou gees in die bloed is, politiek en militêre diens is verkeerd en  kerke wat nie soos hulle glo nie is van die duiwel. Daar is volgens  hulle nie ‘n hel en ʼn laaste oordeel nie, maar sondaars sal weer ‘n kans kry en net 144000 gaan hemel toe, die ander sal op aarde leef.

Hulle vertoon groot ywer. Min  mense sal soveel vir hulle geloof opoffer. Dit is egter duidelik dat die wesenlike van die Christelike  evangelie misken word. Jesus is die Here!-soos Jahweh!  Dit was en is  die belydenis van die  kerk. Daaraan mag geen afbreuk gedoen word nie.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster