Die Judasbrief

Die Judasbrief – Francois Malan

Maude vra: 

Benodig inligting oor die Judasbrief in die Nuwe Testament – wie was skrywer, en aan watter gemeente? Ook sal ek graag die aanhalings uit die apokriewe boeke oor Henog wil lees.

Antwoord:

Prof François Malan antwoord: 

Judas is waarskynlik ook ‘n broer van Jesus, soos Jakobus, wat die brief van Jakobus geskryf het

(Jak. 1:1; vgl. Mt.13:55; Mk.6:3; 1 Kor.9:5), wat dit uit beskeidenheid nie meld nie, maar homself as ‘n dienskneg van Jesus Christus bekendstel. Sy aanval op die dwaalleraars is korter as 2 Petrus s’n, wat waarskynlik deur Judas uitgebrei is, en ander dele van Judas uitgelaat het. Daarom is Judas moontlik voor 2 Petrus geskryf. Petrus is volgens die tradisie teen 64 n.Chr. doodgemaak.

Maar daar is baie skrifverklaarders wat dink dat Judas eers teen die einde van die eerste eeu geskryf is, omdat dit volgens verse 3 en 17 sou lyk asof die apostels al almal dood is, die goeie Grieks van die brief sou nie lekker pas by ‘n eenvoudige man uit Galilea nie, en die dwaalleraars en hulle leer wat hy bestry sou beter pas by ‘n later datum. Daarom sou ‘n ander skrywer onder die naam van Judas, die broer van Jesus, die brief geskryf het. Die probleem daarmee is dat so iemand eerder onder die naam van ‘n apostel sou geskryf het om meer gesag aan sy woorde te gee. En Judas bied homself nie aan as ‘n apostel nie, maar slegs as die broer van Jakobus wat die leiding in die gemeente Jerusalem oorgeneem het nadat die apostels die stad verlaat het weens die vervolging van die apostels (vgl. Handelinge 12:17).

Aan watter gemeente – is nie seker nie. Waarskynlik was dit aan meer as een gemeente. Die opskrif suggereer dat die brief sommer aan alle gelowiges geskryf is (v1). Met die skrywer se kennis van die Joodse geskrifte, was hy waarskynlik’n Joodse-Christen. Of hy veral aan Joodse-Christene geskryf het, of ook aan Grieks-sprekende gelowiges (vgl. sy goeie Grieks) is nie seker nie. Maar uit verse 3 en 4 lyk dit of die skrywer persoonlik bekend was met die gemeentes aan wie hy skryf.

In vers 11 vergelyk Judas die dwaalleraars met drie persone uit die Ou Testament: Kaïn, Bileam en Korag as voorbeelde van wat gebeur met mense wat verkeerd loop.

Hy verwys ook na die mense van die uittog wat nie Kanaän wou binnegaan nie, en vir 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf het tot almal dood is (v5, vgl. Numeri 14:29-30), na engele wat hulle nie binne hulle perke gebly het nie (vers 6, vgl. Genesis 6), en na Sodom en Gomorra met hulle buurstede (v 7, vgl. Genesis 19).

Twee Joodse geskrifte uit die eerste eeu n.C. word aangehaal:

In vers 9 uit Die Hemelvaart van Moses. Die boek het verlore geraak, maar die eerste deel tot by Moses se opdrag aan Josua is in ‘n Latynse vertaling van die oorspronklike Aramese geskrif gevind. Ongelukkig het dit nie die laaste deel wat oor Moses se hemelvaart handel, waarna Judas verwys, bevat nie. Die voorstelling was blykbaar dat engele die goeies wegdra na hulle plek in die doderyk, en die duiwels dié wat kwaad gedoen het na hulle plek in die doderyk (vgl. Lukas 16:22-23). Die duiwels sou aanspraak gemaak het op Moses om hom na die plek van die slegtes te neem, omdat hy ‘n man doodgeslaan het (Eksodus 2:12). Maar Migael, die engel van Israel, betwis die duiwel se aanspraak op Moses, sonder om die duiwel arrogant te belaster. Al wat hy sou sê is Sagaria 3:2 se woorde van die Here tot die satan: Die Here sal jou straf.

Verse 14 en 15 verwys na die boek Henog wat in die vroeë kerk hoog aangeskryf was en later in die Westerse kerk nie meer gebruik is nie, maar veral nog in die Etiopiese kerk gebruik is. Die verwysing na Henog as die sewende geslag, met Adam as die eerste, word in Henog 60:8 en 93:3 so genoem (vgl. Gen.5:21-24). Die profesie van Henog waarvan Judas praat, is nie ‘n letterlike weergawe van Henog 1:9 nie, maar ‘n vrye aanhaling in ‘n teksvorm wat deels aan die Etiopiese vertaling en deels aan die Griekse vertaling laat dink. Dit is ‘n waarskuwing dat God se oordeel kom, en dit kom oor alle mense en engele, en dit geskied volgens hulle werke, hulle uitspattighede, ydel woorde en lasterlike taal. Die mense in Judas se gemeentes, wat met losse sedes lewe en nie God se oordeel daaroor verwag nie. sal nie aan die oordeel ontkom nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan